Dagbreek se belofte

0
31
natasha_sutherland.jpg

“…when I’m stuck with a day that’s grey and lonely, I just stick up my chin and grin and say… The sun will come out tomorrow…” – uit die operette Annie

Ek dink sonsopkomste trek maar aan die kortste ent, want sodra daardie eerste sweempie van romerige oranje in die oggendlug verskyn, kreun jy en probeer dit met dubbeldik gordyne of blindings wegkeer. Wanneer die eerste oorgretige voëltjie tjirp, druk jy kussings oor jou ore en probeer jou droom oor Gerard Butler wat besig is om jou kar te was met niks behalwe stywe jeans aan nie, hervat … Of jy’t pas die wêreld gered en Nelson Mandela lei jou papierlintparade. Jippie! Nee, sonsopkomste is nie regtig populêr nie.

’n Sonsondergang, aan die ander kant, word in die regte lewe en in flieks gevier. Jy klink ’n mengeldrankie as die groot vuurbal sak – selfvoldane cowboys galop weg in glorieryke sonsondergange en verliefdes soen innig terwyl die titels aan die einde oor ’n massiewe geel sakkende son rol. Ons vier sonsondergange omdat ons behep is met gelukkige eindes … Ons dink selde aan die begin van iets, daarom kry sonsopkomste minder eerbied.

Gedurende die afgelope paar jaar, terwyl ek toegevou was in ’n ongekende depressie, het dagbreek vir my niks meer ingehou as die senutergende begin van nog ’n angswekkende dag wat ek in die gesig moet staar nie. Ek is nie ’n oggendmens nie! Maar in my nuwe huis front my slaapkamerventer oos. En dit maak nie saak hoe dig ek die gordyne probeer trek nie, die oggendson skyn deur – en laat my drome van ’n perfekte wêreld verdwyn.

Aanvanklik het dit my gepla, maar vandat ek begin het om genesing en nuutheid in my lewe in te nooi, sien ek uit na die vroegmôre-sonstrale.

Want teen 5:45 is my lewe nie meer my eie nie … twee miniatuurmensies spring op my kop rond en beproef die nuutste WWE-stoeigrepe op my bed – terwyl my Great Dane aan die onderpunt van die trappe luidkeels roep om te kom deel in die pret. En natuurlik my wekker se gegil wat my daaraan herinner dat dit tyd is vir skoolklere/kosblik/tandeborsel en blink lyk! Ek is mal oor die dolheid van ’n vroegoggendontbyt met seuns en honde en geraas. Maar ek begin eers regtig soos ék voel nadat ek die seuns by die skool afgelaai het … vir die eerste deel van die dag is dit asof ’n zombierobot my lyf oorneem soos wat ek tussen skooltasse, salami en onpaar skoene rondstrompel in ’n semi-wakker staat.

Maar daar is op die oomblik ’n beweging wat ’n dissipline daarvan maak om vroeër op te staan as wat hulle wekker beveel, om die oggend te groet. Robin Sharma, skrywer van The Monk Who Sold His Ferrari, sê: “As jy by die vyfuurklub aansluit, kry jy die kans om die dag te beheer, eerder as om die dag toe te laat om jou te beheer. Wen die battle of the bed en kry jou mind over mattress deur vroeg op te staan sodat jy ten minste een stil uur per dag vir jouself het op die mees kritieke tyd van die dag: die begin.”

Die kuns van vroeg opstaan bring verandering mee. Daar is iets kragtigs omtrent daardie kosbare tyd wat jy wen wanneer jy wakker word voor die mal lieflikheid van die wêreld op jou lewe neerdaal. Ek kry dit nie altyd reg nie. Maar of ek nou opstaan en soos ’n slaapwandelaar ronddwaal, of nog ’n rukkie knus in my bed bly en vir die son deur my venster loer – deesdae begroet ek die dagbreek met meer guns. Want vir my is dit God se manier om te sê: “Haaallooo! Vandag gee Ek vir jou nog ’n dag vol leer, liefde … en hoop!”