Daniëlla eet sjokolade en bly steeds slank

0
143
gesondheid.jpg

Daniëlla van Heerden, bekroonde joernalis en aanbieder by eNuus op kykNET, glo jy kan jouself met sjokolade of roomys bederf, maar binne perke.

Ek dieet nie, maar glo aan die 90:10 beginsel

Dié beginsel werk goed vir my. Dit beteken as ek 90% van die tyd gesond eet, kan ek maar 10% bederf toelaat. Daar is geen kos wat ek myself ontsê nie; ek hou van gaskoeldrank, sjokolade, pizza, diepgebraaide hoender en roomys. Maar sodra ek te veel daarvan eet, voel ek goor. Met die 90:10-beginsel kan ek alles binne perke geniet. Vakansies en sommige naweke pas ek dit aan en dan eet ek eerder 75% gesond, 25% bederf!

Wanneer ek myself bederf, doen ek dit ordentlik

Ek sou graag wou sê dat ek myself bederf met neute, vrugte en springmielies sonder sout, maar dit is ongelukkig nie waar nie. Daardie 10% waarmee ek myself bederf, is régtig bederf. Ek sal smul aan kaserige pizza, ’n bak springmielies en gaskoeldrank by die fliek of ’n koppie tee saam met ’n paar Choc-kits-koekies. Wanneer ek dit dus eet, moet ek vergeet van skuldgevoelens. Ek maak dan net seker ek eet voor of na so ’n bederf baie gesond en oefen ook meer.

90% van die tyd eet ek steeds gesond

Ek volg ’n eetprogram wat my liggaam gee wat hy nodig het, terwyl ek myself steeds nou en dan met ’n bederf kan beloon. Vir ontbyt eet ek proteïene, soos eiers, of iets met baie vesel, soos All Bran Flakes en aarbeie. Ek probeer soveel moontlik vars kos koop en eet: vrugte, groente, vis en hoender. Koolhidrate soos graankos is nie verbode nie, maar ek probeer dit beperk tot soggens. Ek bly weg van verfynde koolhidrate, soos witbrood en fyngebak, anders reken ek dit by die 10% ongesonde kos in. Ek drink ook net vetvrye melk.

Volhoubare eetgewoontes is meer suksesvol op die lange duur

’n Mens kan net ’n rukkie lank volhou met iets wat “ekstreem” is, of dit nou ’n streng dieet of ’n oefenprogram is. Op die lange duur gaan dit nie werk nie en gaan jy jouself keer op keer teleurstel.
Ek fokus eerder op die positiewe as op die negatiewe (“ek is vet en ongesond”). Wanneer jy op gesond wees fokus eerder as net op maer wees, eet jy ook beter eerder as bloot minder en dan val die kilo’s sommer vanself af.
My leuse is dus: “Fiks, nie skraal nie; sterk, nie maer nie.”