“Dankbaar vir my littekens”

Ingrid Cawood het vlerke begeer sodat sy kon “wegvlieg” van al haar probleme af. Min het sy geweet waarvoor sy regtig vra.

Ek het hom dadelik herken en gaan groet. Hy moes eers mooi kyk om te onthou: “O ja, jy is die wonderwerkpasiënt,” het hy ná ’n rukkie met daardie bekende stem gesê.

Hy was die man wat my stuk-stuk met elke operasie weer mens gemaak het. Meer as dit: Hy het my siel ook aanmekaargelap, my moed ingepraat en my trane afgedroog. Eenkeer het hy lank langs die bed gestaan en staar. “Wat is fout, dokter?” het ek gevra. “Weet jy hoeveel nagte het ek vir jou lewe baklei?” het hy sag en amper ingedagte gesê.

Ek was daardie een keer op die verkeerde tyd op die verkeerde plek. Van ver af het die lewe in Mosambiek altyd idillies gelyk.

Dit was ook. Die uitsig vanaf ons huis was asemrowend mooi en ons tuin ’n lushof, ’n paradys.

Ek kon Mosambiekse Portugees vlot praat en die plaaslike mense het baie respek vir my gehad. Dit was die rede dat die eienaars van ’n nabygeleë fabriek my gevra het om hulle met personeelsake te help.

Aan die ontploffing in die fabriek is daar bitter min herinneringe. Ek het eers twee maande later in die Milpark-hospitaal uit ’n koma ontwaak.

Daar is grepe van vae bedrywighede in die waaksaal en ’n duidelike bewustheid van God. Op ’n keer het ek vir Hom gesê Hy kan my vat. Maar my familie en geliefdes het verbete gebid. Toe gee Hy my vir hulle terug. Ons herdenk steeds elke jaar my nuwe verjaarsdag!

Familielede het die noodvlug vanaf Mosambiek op Lanseria-lughawe ingewag. Hulle kon nie glo die verbrande mens was ek nie. Hulle was oortuig daarvan dat iemand wat só erg gebrand het, dit nie sou maak nie.

In ’n poging om die skok van die ernstige brandwonde te verwerk, was my lyf aanvanklik onherkenbaar geswel. Eers toe my dogter my voete sien, het sy geweet: “Dis my ma, sy het pragtige voete!” het sy glo gesê.

My longe het ’n paar keer platgeval en my hart het ook gaan staan. Van my ken tot onder die borste en op die arms het ek derdegraadse brandwonde opgedoen. Dit beteken die vel was weg. Al wat oor was, was ’n rou stuk vleis.

Danksy die morfien en baie genade, kan ek niks van die pyn onthou nie en het ek elke rekonstruksie-operasie oorleef.

Mense vind dit vreemd as hulle hoor dat ek hierdie ervaring vir niks ter wêreld sal wil verruil nie. Hoewel my lyf die letsels dra, het my siel ’n ongekende “skoonheid” gekry.

Hoe ironies klink die gebede nou dat God my op vlerke moes wegvat.

Hy hét dit toe gedoen.

Daardie noodvlug het nie net my lewe gered nie, maar my op ’n reis na ’n nuwe lewe gelei.

Vertel jóú geloofstorie oor ’n tweede kans.
Stuur ‘n stempos (voice note) van 1 MINUUT lank, na 062 194 2334. Luister elke Vrydag na jou en ander se geloofstories by voelgoed.co.za/mygeloofstorie.