Dankie aan hulle wat my inspireer

0
52
Iain-Banks.png

Die baie bekende Skotse skrywer Iain Banks het nou verneem dat hy kanker het en dat hy slegs ongeveer een jaar oor het om te leef.  Hy het nou bekend gemaak dat hy briewe van dank gaan skryf aan al die outeurs wat hom so inspireer het.

Niemand van ons bereik wat ons bereik op ons eie krag en stoom nie. Daar is altyd ook ander mense wat ons inspireer. Soms gebeur dit doelbewus, maar soms weet ons nie eens altyd tot watter mate ons deur ander mense beïnvloed is nie. Dit is nie net kinders wat rolmodelle het nie. Rolmodelle speel ook’n belangrike rol in die lewe van volwassenes.

‘n Mens kan gerus meer dikwels mense dankie sê vir wat hulle in jou lewe beteken.’n Mens hoef mos nie te wag tot jy hoor jy gaan dood voordat jy vir hulle dankie sê nie. Dit is deesdae so maklik om dankie te sê. Jy hoef nie’n skryfblok en koeverte en’n posseël te gaan koop nie. Stuur sommer’n sms of ’n epos as jy nie die persoon wil bel nie. Of dalk is die persoon wat jy moet bedank, sommer saam met jou in dieselfde huis waar jy bly!

Onthou jy daardie geval toe Jesus tien melaatses gesond gemaak het. Jesus sê toe: “Was daar nie tien wat gesond gemaak is nie? Waar is die ander nege dan? Is daar niemand anders wat omgedraai het om God die eer te gee behalwe hierdie man wat nie eers ’n Jood is nie?” (Luk 17:17-18).

Wees altyd gereed om dankies uit te deel!