Dapper in die betoning van gasvryheid

Gasvryheid. Dit is een van die areas waarin ek wil groei.

Ek het twee groepe mense in my lewe. Die relatiewe paar wat onaangekondig in my huis in kan inloop, omdat hulle hul lojaliteit bewys het en lief is vir my ten spyte van my deurmekaar huis. En dan is daar diegene vir wie ek woes skoonmaak voordat hulle kom, sodat alles perfek en netjies is wanneer die deurklokkie lui. Maar wat van al die dae en mense wat tussen daardie groepe val?

Interessant genoeg, my man is ‘n natuurlike gasheer. Hy het nog nooit ‘n vreemdeling ontmoet nie. Hy hou kontak met mense en nooi hulle uit vir middagete. Hy tel die telefoon op om te bel, terwyl ek verkies om net ‘n teksboodskap te stuur. Ek het al gespot dat sy lukrake kennisse nog by ons gaan aansluit vir Kersfees. En toe het hulle ook.

Ek is ‘n doelgerigte aanmoediger van mense om my, maar ek is net gemaklik binne-in my eie geslote groep.  Ek waag dit nie so gereeld as wat ek sou wou buite daardie milieu nie. Verskonings spring deur my gedagtes; Ek is …. besig, moeg, werkend, selfsugtig met my tyd, ydel oor die voorkoms van my huis, lui, bang om afgejak te word, ongemaklik om die gesprek te begin.

Die woord ‘gasvryheid’ bring dadelik Pinterest-prentjies van volmaakte ete-partytjies, pragtig versierde tafels en bekoorlike gasvroue op. Maar die gasvryheid wat in Romeine 12:13 genoem word, roep ons op om “die medegelowiges in hulle nood te help. Beoefen gasvryheid.” Hierdie is nie ‘n bespreking oor papierbode of fyn porselein nie. Geen tafelversierings word benodig nie. Inteendeel, dit is ‘n oproep om mense te verwelkom in ons lewens en in ons huise. Dit is ‘n oproep om inklusief eerder as eksklusief te wees.  Dit is ‘n opdrag om mense te help wat in nood is.

God se genade is die fundamentele daad van gasvryheid.

As gelowiges is ons die kerk. Ons is die oorblyfsel waarna die wêreld staar met oë van gemengde wantroue en belangstelling. Ons preek dat almal welkom is, maar as ons deure dig toegesluit bly, vertel ons lewens ‘n verdraaide weergawe van die Evangelie.

Maar wees gerus, hierdie hoef nie ‘n Martha Stewart-produksie te wees nie. Dit hoef nie ‘n sekere manier te lyk nie.

Die fisiese daad van deure oopmaak neem letterlik alle fisiese hindernisse wat mense van mekaar skei, uit die weg. Dit breek ook figuurlik hindernisse binne-in mense af; stereotipes en stigmas vervaag wanneer ons ruimte maak vir gesprekke en regte verhoudings om te ontwikkel.

Kom ons wees dapper en neem ‘n stap buite ons gemaksone. Kom ons nooi mense in ons huise en in ons lewens in met ‘n vars, nuwe, doelgerigte manier. Kom ons luister na hulle verhale en maak vriende uit vreemdelinge. Kom ons wees spontaan. Kom ons bou gemeenskap en kameraadskap. Kom ons deel die lewe. Mag ons gaste God se gasvryheid en die hoop van die Evangelie sien weerspieël in ons.