Dapper om God eerste te stel

Was dit al ooit vir jou nodig om ‘n opoffering te maak weens jou geloof in Christus?

Een van die grootste getuienisse wat ek beleef het, was ‘n hoërskoolstudent, jare gelede in my bediening. Sy was ‘n ster-sokkerspeler in haar hoërskoolspan. Haar span moes dikwels op ‘n Sondag aan toernooie deelneem. Sy het die keuse gemaak om eers kerk toe te gaan en dan aan die toernooie deel te neem. Sommige het haar gespot oor haar keuse en gesê dat sy nie haar span se belange op die hart dra nie. Hoe ookal, selfs op ‘n jong ouderdom was hierdie meisie dapper genoeg om God eerste te plaas. Die Here het haar toewyding aan Hom geëer. Sy het ‘n beurs gekry om sokker te speel vir ‘n universiteit wat op die hoogste vlak van inter-universiteit sport is.

Wanneer die Skrif vir ons sê om die Here lief te hê met ons hele hart, siel en krag, word die woordjie ‘hele’ drie maal herhaal vir ‘n rede (Deuteronomium 6:5). Ons is dikwels geneig om net dele van onsself vir God te gee. Wanneer daar ander aktiwiteite opkom, is ons geneig om ons stiltetyd, aanbidding en geestelike dissiplines opsy te skuif. Daar is geen “sperdatums” op ons Bybelstudie nie. En as ons nie ons tiende in die offermandjie gooi nie, sal die kerk ons nie uitsluit nie. Tog, die effek van verwaarlosing lei tot ‘n gebrek aan gemeenskap met God.

Jesus maak Homself duidelik wanneer Hy vir sy dissipels sê om EERS die koninkryk van God te soek (Matteus 6:33). Ons prioriteite bepaal waar ons liefde lê. As ons Christus eerste plaas en Hom deur gehoorsaamheid eer, sal Hy alles wat ons nodig het voorsien. Tog, soms kies ons of laat toe dat ons skedules Christus afskuif tot in die tweede plek – of laer.

God erken die wispelturigheid van die menslike hart. Dit is waarom Hy ons aanmoedig om te besin oor sy gebooie, dit te herhaal en te gesels daaroor (Deuteronomium 6:6-9). Sy begeerte vir ons is om onsself elke dag in Hom te verheug en sy Woord prakties uit te leef.

As jy moes sê waar God op hierdie oomblik op jou prioriteitslys is, watter posisie sal Hy in jou lewe inneem? Dink aan een praktiese stap, met Deuteronomium 6:4-9 in gedagte, wat kan jy neem om Christus na die eerste plek op jou lysie te skuif? Wees dapper! Met sy hulp kan jy dit laat gebeur!

Hemelse Vader, dankie dat U my bemoedig deur u Woord om my te help om nader aan U te groei. Ek bid dat U my sal help om U eerste in my lewe te plaas en die aktiwiteite uit te sny wat in die pad staan daarvan. Gee my asseblief wysheid om te weet hoe ek my lewe rondom U moet prioritiseer. In Jesus se naam, Amen.