Dapper om na ander uit te reik

Ek het in die kerk gesit, en ek kon nie help om te staar na die vrou met die pragtige hare, wat ‘n paar sitplekke na links voor my gesit het nie.

Kan dit sy wees?

Ek kon skaars wag om na haar toe te gaan, maar hoe? Sy het my geken toe ek ‘n klein dogtertjie was, in ‘n klein dorpie, in daardie klein kerkie en gedurende ‘n tyd toe my familie in nood was. Sal sy my na al die jare herken?

Ek het ‘n hoorbare “Dankie, God” gefluister toe die kerkleier die gemeente uitnooi om ‘n oomblik te neem en mekaar te groet. Nog voordat die predikant klaar gepraat het, was ek besig om so vinnig as wat ek kon, te loop na waar sy gestaan het. Ek het my hand liggies op haar skouer geplaas, nader geleun en haar naam gefluister.

“Ek is nie seker of jy my onthou nie…” het ek begin en gesê wie se dogter ek is. Sonder om ‘n oomblik te huiwer, het sy regop gestaan en haar delikate hande om myne gevou. Haar liggaam was swak, maar haar stem was sterk.

“Ek weet wie jy is. Ek het jou nog altyd liefgehad.”

O, en kon sy liefhê.

__________________________________________

Drie en dertig jaar gelede, het sy die besluit geneem om uit te reik en liefde te gee aan ‘n familie met vier kinders, agt en jonger. Sy en haar man het daardie kerk, in daardie klein dorpie, waar ons ook elke week toevlug gevind het, getrou bygewoon.

Daar was kragtige oomblikke van gebed en bemoediging uit God se Woord, koeverte met geld wat sonder ‘n woord in ‘n Bybel ingeglip is, vrouebyeenkomste en kerkkampe wat op raaiselagtige maniere betaal is, en sakke met inkopies wat na kerk hul pad na die agtersitplek van ons kar gevind het.

Sy het nie geoordeel nie. Sy het nie kant gekies nie. Sy het nie verby die nood gekyk en dit vir iemand anders gelos om te hanteer nie. Sy het nederig en eenvoudig liefgehad, net soos Jesus. Sy het dit wat sy gehad het wegegee, en niks terug verwag nie.

Vir jare het dit so aan gegaan, en daar was ‘n klein dogtertjie wat alles ingeneem het en dit diep in haar hart weggebêre het. Deur die vrygewigheid van een persoon, het daardie klein dogtertjie geleer dat Jesus by haar familie was, soos Hy deur sy mense vir hulle voorsien het. Dat Jesus geweet het wat hulle nodig gehad het. Dat Jesus altyd betyds was. En daardie klein dogtertjie se liefde vir Jesus het gegroei.

Daardie klein dogtertjie was ek.

Sy het nie geweet dat ‘n klein dogtertjie, van ‘n klein kerkie, in ‘n klein dorpie, sou grootword en haar baie, baie jare later, op die wang sou soen en in haar oor fluister…

“Jou liefde het my aan die liefde van Jesus bekendgestel.”

Een persoon. Een lewe met ‘n doel. Een keuse van liefde. En vandag hou Jesus steeds aan om te fluister…

“Ek weet wie jy is. Ek het jou nog altyd liefgehad.”

Destyds kon ek haar nie vergoed vir haar vrygewigheid nie. Maar vandag – as gevolg van Christus wat in my is – kan ek ander mense liefhê in ruil daarvoor… een gebed, een glimlag, een lewe op ‘n slag.