Deense sjokoladetertjies

0
195
sjokolade_poeding.png

Hierdie dekadente sjokolade resepte is presies wat jy nodig het om jou manlief oor Valentynsdag te bederf. Hy gaan beslis uit jou hand uit eet …

Genoeg vir 15
Tyd: 50 minute

BESTANDDELE:

Vir die deeg
680 ml koekmeel
3 ml sout
80 ml suiker
10 g droë gis
250 g koue botter, in blokkies gesny
180 ml melk
1 eier, liggies geklits

Vir die vulsel
250 ml sjokoladesmeer (soos Nutella)
1 eierwit
Suiker

METODE:

  1. Vir die tertjies – meng die meel, sout, suiker, gis en botter saam. Maak ’n holte in die middel van die mengsel en gooi die melk en eier daarin. Meng als saam tot net gekombineer (moet nie die heel stukkies botter opbreek nie). Bedek en plaas vir vier ure in die yskas.
  2. Bestrooi ’n werksoppervlak liggies met meel. Rol die deeg in ’n reghoek van sowat 25cm by 40cm uit. Vou dit in derdes, bo-op mekaar. Draai die deeg nou 90 grade en rol weer in ’n reghoek uit. Vou in derdes, draai dit in kleefplastiek toe, en plaas vir 30 minute in die yskas.
  3. Voorverhit die oond tot 210°C. Rol die deeg op ’n meelbestrooide oppervlak tot sowat 5mm dik uit en sny in vierkante van 10cm x 10cm.
  4. Vir die vulsel, skep ’n eetlepel vol van die sjokoladesmeer in die middel van elke vierkant. Verf die deeg liggies met eierwit en knyp die kante saam om die vulsel binne-in toe te vou. Plaas op ’n gesmeerde bakplaat en verf met nog eierwit. Bestrooi met suiker en bak vir sowat 15 minute tot goudbruin.

*Vervang die Deense tertdeeg met klaargerolde skilferkorsdeeg as jou tyd beperk is.
*Maak vooruit: Draai elke deegvierkant (of die hele rol deeg) in kleefplastiek toe; dit kan tot ’n maand lank gevries word. Ontvries oornag in die yskas, vul, en bak soos hierbo.

Met komplimente van Food & Home Entertainment en Your Family