Demi Lee Moore: Wat ek geleer het…

588

DIE LEWE IS NIE ALTYD REGVERDIG NIE…
maar ons het ’n keuse. Toe ek sewe was, is my pa skielik aan kanker oorlede. Ek is nou nog nie oor sy dood nie, maar kies om voluit te lewe – ook vir hom.

’N GROOT GEHEIM VAN GELUK IS…
om jouself met die regte mense te omring. Dit is wonderlik om te kan staatmaak op mense wat regtig in my glo, my liefhet en aanvaar soos ek is.

JY WORD JOU BESTE SELF DEUR…
nie blind te wees vir jou eie foute nie. Ek besef dat al hoe jy ’n beter mens gaan raak, is deur jou tekortkominge te erken en daaruit te leer.

VOOR JY JOU HUMEUR VERLOOR…
onthou dat die lewe altyd erger kan wees en juis op hierdie einste oomblik erger is vir iemand anders. Ek word nie sommer kwaad nie, maar fokus eerder op die goeie.

VERRAS MENSE MET JOU…
vriendelikheid. Wanneer ek in die straat afstap, is dit lekker om sommer net randomly vir ’n vreemdeling te glimlag. As iemand dit met my doen, kikker dit sommer my dag op.

MOET NOOIT BANG WEES OM…
baie groot te droom nie. Ek het altyd gedink my drome is dalk onbereikbaar… maar as jy hard werk, gedryf deur passie, gebeur die regte ding op die regte tyd.

WAT ONS ALMAL GEMEEN HET…
is die mag om ’n verskil te maak. Waarin is jy goed? Wat kom natuurlik? Wat sien jy gewoonlik raak wat ander miskyk? Gebruik dit om goedheid in mense se lewens te saai.

ONTHOU OM ELKE DAG…
met dankbaarheid te leef. Soms gee die lewe jou ’n dwarsklap, maar daar is altyd iets om voor dankie te sê. Ek bly nie hartseer oor dinge waaraan ek niks kan doen nie.