Deurmekaar

Liewe Persoon

Dit is so maklik soos “push” en “pull”… of is dit?

Dié twee woordjies staan lewensgroot op al wat ‘n glasdeur is en miljoene mense voer daagliks die aksie uit sonder om eers veel daaroor na te dink. As dit kom by die uwe, is dit egter ‘n heel nuwe ball game. Jy sien – ek SIEN die woordjie, maar iewers langs die pad is my draadwerk deurmekaar want die stoot-handjie will trek en die trek-handjie wil terstond stoot!

So slaat ek vanmiddag – ten aanskoue van die hele Vanderbijlpark, myself amper lights out by die dokter se spreekkamer, want ek WIL pull en NIE push nie. Dit terwyl al die hoesende en proesende en natneus-snuifendes (adenoids and all) hulself aan my vergaap.

Letterlik.

Ek het skaars herstel van dié nie-so-ligte-oomblik (face it: daar is NIKS so embarrasing soos wanneer ‘n laerskoolkind vir ‘n “tannie” lag nie!), of ek pleeg ‘n soortgelyke openbare blaps by die bank.

Dié keer het ek op die regte plek ge-pull, maar toe is die rooi en groen liggie weer ‘n uitdaging! Jy stap mos by so ‘n glashok in en wat ek nie geweet het nie is dat jy omtrent tot bo-op die tweede glasdeur se drumpel moet staan om die groen liggie te aktiveer. So natuurlik neem ek toe in ‘n state of panic waar dat ek in die glashok vasgekeer is (en ek sien in my verbeelding hoe televisiespanne voor die glashok uitkamp om meer oor my reddingspoging te hoor, en hoe ek van die dors oor my droë-gebarste lippe lek. ‘n Slagoffer van ‘n unfortunate event).

Ek en my dramatiese flair het omtrent vir ‘n beroering gesorg. Ek dink daar is ‘n hele paar mense wat dink ek het hulle met ‘n Leon Schuster-grap probeer vang. Sien – ek stap die hokkie binne en wag. Die liggie bly rooi en die deur bly toe. Ek stap toe maar weer uit… net om die exercise te herhaal. Seker vierkeer. Dit nadat ‘n baie behulpsame tannie met ‘n purple rinse EN twee sekuriteitswagte fisies vir my gedemonstreer het hoe om by die bank in te kom.

Praat van deurmekaar!

Ek dink daardie sekuriteitswag lag nou nog vir my… en die kanse is goed dat die Tannie my op haar selgroep se gebedslys gesit het!