Dianne Broodryk: die probleem met SA

0
368
een_tot_een.jpg

As Jacaranda FM se oggendnuusredakteur ken Dianne Broodryk die swaar van SA, maar kies steeds geluk.

As ek een ding in Suid-Afrika kon verander

Toe sy 22 jaar gelede as joernalis begin werk het, het Dianne kennis gemaak met swaarkry en pyn. “Ek is behoorlik by die diep kant ingegooi,” onthou sy.

“Die eerste storie wat ek moes dek, was die Boipatong-slagting in 1992 (waartydens 45 mense vermoor is en verskeie IVP-lede later aan dié moorde skuldig bevind is). Ek en een ander joernalis is in die township ingestuur en moes kort-kort wegry soos mense gemik het om ons met klippe te gooi. Daar het ek vir die eerste keer lyke gesien. Op daardie oomblik het die adrenalien so gepomp dat instink oorgeneem en ek nie emosioneel geword het nie. Ek het soveel moontlik inligting gekry om my storie te doen en gery. Daardie aand het ek die kasset by die huis gespeel en my oë uitgetjank.”

Dis stories soos dié wat haar soms onderkry en oor die toekoms van ons land laat wonder. “Ons sien die misdaadsyfers, en dis angswekkend, maar ons besef nie elke syfer het ’n storie nie. Ons is ’n getraumatiseerde samelewing. ’n Ma se kind is sommer doodgeskiet of ’n seun moet maar sonder sy pa grootword…

“As ek een ding in ons land kan verander, sal dit ons gulsigheid wees. Ek wens mense wil nie net by ander vat nie, maar elke persoon die son in sy lewe gun. Ons president leef in weelde terwyl kinders sonder skoolboeke sit! Daar is ’n survival of the fittest-mentaliteit.”

Maar wanneer sy terneergedruk raak oor die dinge wat sy in die nuus sien, help Good Morning Angels, Jacaranda se liefdadigheidsprogram, haar altyd beter voel. “Daar is ook soveel van die goeie in ons land, soveel mense wat vreemdelinge sal help om hulle lewens te verbeter.”

Dianne het nooit gevra om deel te wees van die program nie en voel daarom asof dit ’n bestiering was. “Dit het met ’n rede gebeur. Toe ek al ’n paar jaar by Jacaranda was, is ek gevra om meer betrokke te raak by die programme en nie net die nuus nie. Dis toe dat Kieno Kammies met Good Morning Angels in sy program begin het, nege jaar gelede, en ek het daar ingeval. Later het dit my baba geword en was ek soos ’n vis in die water. Dis was so lekker om positiewe werk te doen na jare se harde nuus.

“Veral kinders se nood lê my na aan die hart. Daar was eenkeer ’n twee jaar oue dogtertjie, Diané, wat ’n beenmurgoorplanting nodig gehad het. Sy was in ’n staatshospitaal, wat vir die oorplanting sou betaal maar nie om ’n skenker te soek nie. Haar ma, ’n enkelma, kon dit nie bekostig nie. Ons het toe gewillige luisteraars by die Sunflower Fund se skenkerlys geregistreer en só vir haar ʼn skenker gekry. ’n Wildvreemde vrou was bereid om haar beenmurg vir dié dogtertjie te skenk, en nou gaan Diané volgende jaar skool toe.

“Stories soos dié gryp my aan. Dit het my geleer ons gees is sterker as wat ons dink, en ons kan regtig enigiets deurmaak. Jy weet nie waartoe jy in staat is tot jy daardeur is nie.” [pagebreak]

Jou houding bepaal jou geluk

Dis deur die goeie en die slegte só in haar lewe te balanseer dat Dianne gelukkig bly. Geluk, glo sy, is nie iets wat met jou gebeur nie, maar iets wat jy self moet kweek en versorg. “Ek het jare terug besluit om myself met positiewe mense te omring, want jy moet baie versigtig wees vir iemand wat altyd kla en só jou energie dreineer. Jy hoef nie altyd ander se probleme vir hulle op te los nie, en jy kan kies om eerder by dié te wees wat tot jou lewe bydra.

“Dis hoekom ek enigiets vir my man, Deon, my dogter, Robyn (12), en my familie sal doen. Ons is baie na aan mekaar en ek, my ouers, broer en suster en ons gesinne probeer elke Sondagmiddag bymekaarkom. Ek is baie geseënd om ’n gesonde familie te hê. Op 43 het ek nog niemand naby aan my verloor nie.”

Hulle lewens is egter nie onaangeraak deur trauma nie. In die laaste maand van Dianne se swangerskap is sy en Deon in hulle huis in Centurion deur agt gewapende rowers aangehou. “Ons was nog besig om gordyne in die babakamer op te hang toe ek ondertoe gaan om vir ons tee te maak en in die kombuis op ’n man met ’n pistool afkom. Hulle het die wapens op ons gerig en die huis leeggedra. Hulle het selfs die babawaentjie gesteel. Ek is op ’n vreemde manier bly ek was toe swanger, want dit het gemaak dat ek kalm kon bly vir my baba se onthalwe. Anders weet ek nie hoe ek daardeur sou kom nie.”

Dis die moeilike tye wat juis die goeie tye soveel soeter maak, glo sy. “Ek vergelyk dit altyd met die winter en die lente. Al die bome in ons tuin verloor hulle blare in die winter en dit maak my sommer terneergedruk as alles so vaal en vol stof is. Toe sê iemand op ’n dag vir my om te onthou dat die nuwe blare nie so wonderlik sal wees sonder die kaal bome nie. Dit het my bygebly. Sonder moeilike tye sal die goeie tye nie so goed wees nie, en nou waardeer ek die saai winter omdat ek weet dit maak die lente soveel mooier.”

Passie is noodsaaklik
Dianne het joernalistiek aan die Pretoria Technikon (tans die Tshwane Universiteit van Tegnologie) gestudeer en toe haar indiensopleiding by die SAUK gedoen in 1991. Die volgende jaar het sy voltyds vir hulle begin werk in die Polokwane-nuuskantoor. “Ek onthou nog hoe al my aardse besittings, behalwe my bed, in my Fiat gepak is en ek alleen na hierdie vreemde stad moes ry waar ek niemand geken het nie. Dit was baie intimiderend, maar ook opwindend.

“Dit was kort voor die verkiesing in 1994 en selfs die junior joernaliste soos ek kon die kans kry om groot stories te doen, bloot omdat daar geweldig baie nuus was. Ek was so bederf om in daardie jare ’n joernalis te kon wees. Ek is aangestel om Binnelandse Sake se vordering te volg soos hulle vir byna die hele land nuwe ID-boeke moes uitreik.

“Na vyf maande is ek na die Pretoria-nuuskantoor oorgeplaas, waar ek twee jaar gebly het.”

[pagebreak] Dianne het ook vir ’n paar jaar die nuus op SAUK2 gelees, saam met Riaan Cruywagen. “Hy het ’n baie groot invloed op my werkwyse gehad. Riaan was altyd professioneel en ’n gentleman, al was dinge hoe druk in die nuuskantoor.”

As nuusredakteur werk sy deesdae minder in die veld, maar dit pas haar leefstyl. “Ek kan verstaan hoekom mense hulle lewe lank veldjoernaliste wil bly. Jy is deel van die aksie soos die wêreld om jou verander, en jy voel asof jy die kans het om ’n verskil te kan maak. Ek was mal oor die adrenalien van groot nuusgebeure, maar daardie leefstyl is nie volhoubaar nie. Ek het dikwels byna deurnag gewerk en ’n mens kan nie dit doen as jy ’n gesin wil hê nie.

“Ek is nou al 14 jaar lank by Jacaranda FM en daar is nooit ’n vervelige oomblik nie. Net vanoggend het ek byvoorbeeld met twee pornografie-sterre gesels, die dieretuin besoek en toe na ’n skoolkoor geluister!

Dit sê baie oor my werk en die maatskappy dat ek steeds daar is, en ander mense selfs al langer as ek daar werk. Dit gebeur deesdae min dat mense so lank by een plek werk.”

Familie is die hoeksteen van my lewe

Na werk kry Dianne vir Robyn by die skool en ry haar rond na haar aktiwiteite. Hulle is gewoonlik eers laatmiddag tuis. “My man, Deon, maak gelukkig vir ons kos en geniet dit boonop! Ek is ’n baie gelukkige vrou. Dit sou gaaf wees om te weet hoe om ’n lekker skaapboud soos my ma te maak, maar Deon sorg darem mooi vir ons. Ten minste kan ek ’n baie lekker spaghetti bolognese maak. Solank ’n mens een ding darem goed kan doen, is jy nie heeltemal nutteloos nie,” lag sy.

Robyn, sê Dianne, is ’n ou siel en het “die musieksmaak van ’n 40-jarige man. Dit maak dit baie maklik om dinge saam te kan doen. Sy sal nie na Justin Bieber of One Direction luister soos haar maats nie, maar is mal oor die Beatles en Jimi Hendrix. Saam met haar pa sal sy soms ure omsit en kitaar speel en ons het ook as gesin al na Metallica en Bruce Springsteen gaan kyk.

Robyn is haar pa uitgeknip – sy lyk soos hy en stel in dieselfde dinge belang. “Maar ek kan ook dele van myself in haar sien. Toe ek swanger was met haar, het ek skietgebedjies opgestuur dat sy asseblief haar pa se mooi wimpers sal erf, gesond sal wees en vir haarself sal kan dink. Dit het alles waar geword, maar soms maak dit die lewe vir my as ma moeilik. Sy sal nooit net opdragte uitvoer nie, maar moet altyd weet hoekom en daaroor nadink tot sy die doel daarin sien – in daardie opsig is sy soos ek.

“Ek is die generaal in ons huis en raas baie. Sy is slim maar ’n dromer en hou nie van huiswerk nie. Dan moet ek haar altyd daaraan herinner om te leer as sy toets skryf. Ek stel ook vreeslik uit en sal altyd iets op nommer 99 doen. Op skool sou ek deurnag leer voor ’n toets en dan op my beste wees. Sy is ook so.

“Dit was interessant om te sien hoe my eie karaktertrekke my soms inhaal. Ek was gedurig besig om haar aan te jaag tot ek die dag besef het sy is maar soos ek – dinge sal tog betyds gebeur, of ek nou raas of nie. Sy was ook nog nooit ’n goeie slaper nie. Ek slaap gemiddeld net vier uur per nag omdat ek vroeg moet opstaan. Toe het my ma vir my gesê ek kan nie ongeduldig word met haar nie, want sy het my slaappatrone geërf.

“Moederskap het my beslis geduld geleer, maar dit het ’n hele nuwe en wonderlike wêreld vir my oopgemaak.”