Die 3 grootste issues in ‘n vrou se lewe

0
1373

Elke vrou wil graag alles insit om die beste van haar lewe te maak. Fokus eers op hierdie areas en jy sal ’n gelukkiger mens wees.

Kry jou selfbeeld en lewensuitkyk reg

Baie vroue is soos styfopgewende rekkies en hou aan om hulle nog stywer op te wen. Ons jaag na die volgende afspraak en wil beeldskoon lyk en alles perfek reg doen. Ons plaas onsself in boksies om modelma’s en -vroue te wees. Dis so onnodig!

Jy sal baie druk van jou afhaal as jy besef dat elke dag ’n plek is waar jy nog nooit was nie. Elke oomblik hou die potensiaal in van ’n nuwe ervaring, ’n oomblik wat net jy op ’n spesifieke manier kan ervaar.

Elke dag het sy eie nuwe uitdagings en word jy gekonfronteer met dinge waaroor jy nie beheer het nie. Dit gaan beslis nie ’n verskil maak as jy jou daaroor opwerk nie, jy kan netsowel ontspan en die reis geniet.

’n Soepeler benadering sal dinge vir jou baie makliker maak. Los plek in jou dag vir dit wat jy nie verwag nie. Moenie so besig wees dat ’n klein dingetjie wat verkeerd loop, jou hele dag omvergooi nie. Moet alles regtig perfek uitwerk om jou lewe te kan geniet?

Span ’n slag daardie innerlike krag in om jou deur moeilike tye te dra. Glo dat jy kan opstaan, dat jy goed kan voel en kan aangaan, al is daar terugslae. Jou gesindheid, waardes en keuses sal meer doen om jou gees sterker te maak as enigiets wat van buite af kom, soos jou geld, jou huis en jou looks.

Wat jy van jouself dink, bepaal wat jy na ander mense uitstraal. Dit beïnvloed weer hoe mense op jou reageer, wat weer beïnvloed hoe jy oor jouself voel. Onthou, ander se opinies oor jou word gemotiveer deur hulle behoeftes en emosies en nie deur ’n wonderlike insig in jou en jou waarde nie. Jou kontak met ander mense is maar ’n klein deeltjie van jou prentjie.

As jy in die verlede baie slegte ervarings gehad het, dink jy dalk dat daar nooit iets goeds met jou sal gebeur nie. Jy begin selfs dink dat jy nie goeie dinge verdien nie! As dít jou houding is, is dit tyd om jou gedagtes te herprogrammeer.

Jou gisters het altyd waarde. Dit is tog onmoontlik om jou verlede uit te vee asof dit nooit gebeur het nie. Vandag, en dit wat jy op die oomblik doen, is egter die belangrikste. Onthou: Waarvandaan jy kom, is nie so belangrik soos waarheen jy op pad is nie.

Sekere dinge is baie moeilik om te aanvaar, want dit het onomkeerbare gevolge in jou lewe, veral as jy nie die een is wat dit gekies het nie. Maar moenie jou lewe op ander mense se besluite – goed óf sleg – bou nie.

Geen enkele gebeurtenis definieer jou lewe of wie jy is nie. Dit maak nie saak hoeveel ’n situasie jou oorweldig nie, dit is nooit die hele prentjie nie. Herinner jouself dat dit wat jou pla of wat jy saam met jou dra, altyd net ’n gedeelte van die prentjie is.

As jy binnekant gesond wil word, moet jy bereid wees om te vergewe. Jy vergewe ander mense ter wille van jouself, nie ter wille van hulle nie. Wrokke kan jou gees en liggaam vergiftig en jou siek maak. Bitterheid, haat, woede en pyn kan gereeld terugkom. Elke keer as dit gebeur, moet jy bereid wees om dit te hanteer en weer te kies om te vergewe.

Vertrou jouself en daardie stemmetjie in jou binneste. Dit wat jou gelukkig gaan maak, is joune as jy dit wil hê. Maar solank jy aan jou drome twyfel en huiwer om jou hand uit te steek, sal jy nooit kry wat vir jou bedoel is nie. Jy sal nooit gelukkig wees as jy maar net vir die beste hoop nie. Jy moet die beste met mening vir jouself opeis.

Om in jouself te glo is die sleutel tot geluk. Iemand wat nie in haarself glo nie, leef al hoe laer. Dit beteken jy dink jou lewe is al hoe minder belangrik, jy word negatief en gun jouself niks. Die lewe het genoeg uitdagings sonder dat jy jouself goeie en lekker dinge ontsê. Gee jouself toestemming om gelukkig te wees!

Die 3 Grootste issues in ’n vrou se lewe

R130.00 R104.00
Met 3 celebs se ware verhale!

Dis elke vrou se begeerte om van haar issues ontslae te raak. Hierdie selfhelpgids sal jou help om die dinge in jou lewe te identifiseer wat jou verhoed om by dié plek uit te kom!

Kliek hier om te koop

Die stryd met die skaal kan jou vreugde steel

Die meeste vroue voer ’n ewige stryd met kos. Kos en dit wat hulle eet en nie eet nie, word naderhand ’n obsessie. Hulle voel of hulle geen beheer het nie en of niks vir hulle werk nie.

Vir baie vroue is hierdie obsessie ’n ompad om pyn, woede, vrees en depressie te vermy. Hier is goeie nuus: Verandering is moontlik, girl! Die sleutel is om jou kop reg te kry.

Onthou, daar is iets soos ’n gesonde gewig en iets soos ’n ongesonde gewig. Te veel mense wil gewig verloor terwyl hulle eintlik doodreg is. Die maklikste manier om uit te werk in watter kategorie jy val, is om jou lengte in meter te neem en die 100 te laat wegval. Byvoorbeeld as jy 1,65 meter lank is, is jou gesonde gewig min of meer 65 kilogram.

As jy ongeveer die regte gewig het volgens hierdie berekening, behoort jy jouself te leer aanvaar, al het jy nie ’n modellyfie nie. Elke vrou is besonders en spesiaal en om ontevrede te wees omdat jy nie in alle opsigte perfek is nie, is die grootste onreg wat jy jouself kan aandoen. Jou menswees en wie jy is, is tog baie belangriker as hoe jy lyk.

Vroue is geweldig krities teenoor hulleself. As jou ma byvoorbeeld negatief oor haarself of haar liggaam gevoel het, het sy dit tien teen een aan jou oorgedra en nou voel jy ook so. Wees eerder gaaf en gee jouself kans om geleidelik te verander. Neem klein treetjies, al gaan jy twee treë vorentoe en een tree terug.

Eetprobleme ontstaan gewoonlik as jy leer om jouself te troos met kos wanneer jy probleme het. Jy gaan in ’n toestand van ontkenning in. Dink eerder elke keer as jy wil eet, in terme van keuses en gevolge. Besef dat dit ’n keuse is en dat jy die gevolge sal moet dra.

Dit wat om jou heupe gebeur, is meestal ’n gevolg van dit wat jy in jou mond sit. Dis baie moontlik dat ander faktore ook ’n rol speel, maar daar is ’n direkte verband tussen kos en gewig. Die meeste mense wil gewig verloor, maar hulle wil nie die prys betaal om minder te eet nie.

Maak daardie keuse eerder van oomblik tot oomblik. Dit is ’n stryd wat tree vir tree gewen word en nie met ’n breë, algemene besluit nie. As jy misluk, begin die stryd weer van voor af. Dis gelukkig net ’n mislukking as jy heeltemal moed opgee.

’n Beheptheid met kos is soms ons vroue se eie skuld, want ons skep ’n klomp moets en moenies. Ons verwag nie beter of meer vir onsself nie, want ons dink dis selfsugtig. Ons stel onsself altyd heel laaste. Dit veroorsaak dat kos die enigste ding is wat in ons lewe oorbly wat lekker is.

Ons koppel gewoonlik alles wat lekker is aan kos. Dis ook al wat ons onsself gun, want ons moet tog eet. Ons voel skuldig oor die ander goed, want dis luukses. Kos is die goedkoopste vermaak wat ’n mens kan kry!

As kos en kosverwante geleenthede die enigste pret is wat jy in jou lewe het, moet dit verander. Daar is beslis meer in die lewe. Besluit wat jou opgewonde maak en wat vir jou lekker is. Moenie verskonings maak nie, jy moet uitvind wat jou energie gee en jy moet tyd daarvoor maak.

Iemand het eenkeer gesê ’n vrou se ware skoonheid lê in wie sy is en nie in wat sy doen nie. Dit gaan nie oor hoe jy lyk nie. As jy sukkel met jou gewig, word dit die bril waardeur jy na jouself kyk. Jy sien nie die mooi mens binne-in raak nie. Verander dit, kyk verby wat jy in die spieël sien en sien die mens raak.

Die beste manier om na jouself te kyk, is deur God se oë. Vir Hom is jy spesiaal en mooi – nes jy is. Ons wil so graag soos ander mense wees omdat ons bang is dat hulle ons nie sal aanvaar as ons anders is nie, terwyl dit juis jou andersheid is wat jou spesiaal maak.

Spanning en kritiek kan jou sekslewe skade aandoen

Seks is iets waaroor niemand sommer praat nie – selfs paartjies wat al lank getroud is, vermy hierdie onderwerp. Tog is dit die moeite werd om aan hierdie afdeling te werk, eerder as om na groener weivelde te soek.

’n Langtermynverhouding waarin julle begrip vir mekaar het en mekaar in ag neem, kan julle meer gemaklik met mekaar laat voel. Dis dan wanneer julle vry sal wees om sommer net heeltemal te ontspan sonder om selfbewus te wees, sodat julle mekaar spontaan kan geniet.

Hulle sê al die vroue in die wêreld wil soos supermodelle lyk en tog is daar slegs agt vroue wat wel so lyk! Onthou gerus hierdie woorde wanneer jy skaam is en dink jy is nie die prentjie wat jou man wil sien nie.

Jy hoef nie die mooi meisies in die tydskrifte as ’n bedreiging te beskou nie. Jou maat het jou gekies en jy is werklik en nie net ’n foto nie. Jy is sy maat, minnares en vennoot. Die vrou in die boek is onbereikbaar, koud en ver. Hy weet goed dat die prentjie in die boek eintlik maar fake is.

Min vroue besef dit, maar dit wat buite die slaapkamer gebeur, het baiekeer ’n groter invloed op ’n mens se intimiteit as dit wat daarbinne gebeur. Die vinnigste manier om jou sekslewe te vernietig, is om jou maat heeltyd te kritiseer. Die ergste is dat ons mekaar voorsê en kritiseer oor goed wat nie eens belangrik is nie!

Een van die grootste sielkundige oorsake van seksuele probleme is dat jy nie respek het vir jouself nie. Verliese of vernederings in ander areas van jou lewe kan jou onbevoeg en soos ’n mislukking laat voel. Dit kan oorspoel na julle sekslewe en ook daar ’n effek hê.

Depressie is nog ’n oorsaak van seksuele probleme. As jy en jou maat gedurig vassit, plaas dit natuurlik ook ’n demper op dit wat tussen die lakens gebeur. Mans én vroue kan soms net té seergemaak of kwaad voel om intiem te verkeer.

Spanning speel natuurlik ’n groot rol in julle seksuele verhouding. Hoe hoër die spanningsvlakke, hoe laer sal julle seksuele behoeftes en vermoëns wees. Alhoewel seks ’n goeie manier van stresontlading is, is daar ’n punt wat ’n mens kan verbysteek waarna stres slegs ’n negatiewe invloed het. Enige vrees of onsekerheid oor of jou liggaam gaan saamwerk en reageer soos dit “moet”, sal juis veroorsaak dat dit nie gebeur nie.

Vir die meeste mense klink dit te kunsmatig om hulle seksuele verhouding te beplan. In ons hoëspoedlewens gebeur dit maklik dat seks langs die pad wegval; dan kan dit help as jy spesifieke tye uitgesit het vir julle twee. As jou kinders klein is, is dit makliker gesê as gedaan, maar dit is nogtans die moeite werd om ten minste te probeer.

Gevaartye in jou verhouding is wanneer jou kinders klein is of daar ’n finansiële krisis of groot verandering in jou lewe is. Dan moet daar juis harder gewerk word aan die verhouding. Moenie toelaat dat teen die tyd dat jy iets agterkom, julle twee weke laas seks gehad het nie.

Jou maat mag jou dalk soms seermaak of te na kom, maar gee hom die voordeel van die twyfel dat sy bedoelings goed is. Wees versigtig daarvoor om sleg te dink van jou maat – jou sekslewe sal net daaronder ly.

Het jy geweet daar bestaan iets soos sekstale? Elke persoon is verskillend en dit is ook van toepassing op hoe ons funksioneer ten opsigte van seks. As jy dus gedink het dat seks vir almal dieselfde is en dat dieselfde dinge almal stimuleer, dink weer.

Jou sekstaal is daardie dinge wat jou die meeste en vinnigste seksueel opwek en waarop jou liggaam instinktief reageer. Maak dit ’n speletjie en vind uit wat sy tone laat omkrul – hy sal mal wees daaroor!

Jou seksualiteit is deel van wie jy is en jou maat se seksualiteit is deel van wie hy is. Dit behoort ’n vanselfsprekende deel van ’n verhouding te wees, soos om vir mekaar in die oggend “hallo” te sê. Praat maklik daaroor, vat baie aan mekaar en wees gemaklik bymekaar wanneer julle nie klere aanhet nie.