Die A tot Z van vakansiepret

0
157
vakansie.jpg

Dis alweer vakansie tyd, en terwyl die kinders juig is dit vir baie ouers ’n kopseer. Hoe hou jy hulle besig deur die Desember vakansie? Hier is die A tot Z gids vir Desemberpret.

Avontuur

Dit is ’n sleutel tot die reputasie van supercool ma as jy saam met jou tieners gaan bungee of die bruisende waters van ’n rivier aandurf in die binneband. Met jonger kinders kan jy meer gematigde avonture aanpak. Dalk kamp opslaan in die tuin?

Bak en brou

Skryf saam met jou tiener in vir ’n kook- of koekversieringskursus. Daar is ook klasse vir die kleintjies beskikbaar.

Cool in ’n pretpark

Kies ’n pretpark wat geskik is vir jou kind se ouderdom, en word vir ’n dag weer kind. Lag saam en neem hope foto’s.

Dag in die dierewêreld

Gaan besoek een van die honderde krokodilplase, dieretuine, mini-wildtuine, slangparke, voëlparadyse of akwariums in ons land of gaan op ’n begeleide toer en bekyk krok se tande van naderby.

Eendag lank, lank gelede

Neem die kleingoed biblioteek toe vir die gereelde storie-uur terwyl jyself die kans benut om bietjie tussen die rakke te snuffel vir lekker vakansieleesstof.

Fietsry

Spring as gesin saam op julle fietse en gaan verken die area. Pak sommer ’n piekniekmandjie in, en maak dit ’n heerlike gesinsuitsappie.

Grotgenot

Suid-Afrika spog met ’n hele klomp indrukwekkende grotte en ook ’n aantal kleiner, minder bekende grotte. Vind uit wat daar in die omgewing is.

Hoe ry die trein

Daar is ’n verskeidenheid pretritte per trein beskikbaar reg oor die land. Vir jou kleuter sal ’n rit op ’n mini-stoomtrein in die parkie net so opwindend wees.

In ritme

Sluit as gesin aan by ’n dromwerkswinkel en leer hoe om Afrika-dromme te trommel dat die aarde bewe! Dis heerlik ontspannend en groot pret.

Jagtog na skatte

Gaan op ’n jagtog met ’n kamera – nie noodwendig net na diere nie, maar ook na interessante skulpe, insekte, munte, en so meer.

Klim en klouter

Bederf jou kleuter met ’n dag by ’n sentrum met ’n verskeidenheid klimapparate of beproef jou eie rots- of muurklimvermoë saam met jou laerskoolspruit.

Lasergevegte

Jou kleuter sal hierdie een moet uitsit, maar vir laerskoolkinders en hulle ouer boeties is dit ’n heerlikheid. Julle kan dit ook afwissel met verfbalgevegte (paintball).

Museumpret

Soek na ’n museum wat interaktief is. Kies volgens jou kind se belangstelling, soos ’n motormuseum vir jou kind wat meganies aangelê is of ’n speelgoedmuseum vir jou kleuter.

Natuuruitstappie

Ons land spog met van die mooiste natuurskoon in die wêreld. Vind uit watter lekker daguitstappies is beskikbaar in die omgewing en pak vir julle ’n rugsak vol lekker versnaperinge voor julle die wandelpad aandurf.

Onder die sterre

Besoek ’n planetarium en sien die ruimte deur ander oë. So sal jy en jou kind leer van die verskillende sterrestelsels terwyl julle heerlik agteroor kan lê en ontspan.

Pottebakkery

Skryf in vir pottebakkery en leer hoe om julle eie potte te maak en versier terwyl julle lekker gesels. Dis geskik vir alle ouderdomme en ’n heerlike kreatiewe projek om aan te pak.

Quiz

Hou die jongklomp besig in die aande met ’n vasvraekompetisie tussen twee families of sit die jonges teen die oues. Julle kan speletjies soos Thirty seconds of Trivial Pursuit gebruik daarvoor.

Ry Kyalami!

Soek julle naaste mini-renbaan, gespe julle valhelms vas en jaag! Dis heerlike gesinsvermaak om die enjins te laat brul.

Sandpret

As julle naby die see of enige ander groot duine is, gaan op ’n heerlike sandbordsessie waar julle speel-speel die duine afgly.

Teater toe

Die meeste teaters bied ’n uitstekende vakansieprogram aan, propvol heerlike vermaak vir alle ouderdomsgroepe, van kleutertjies tot volwassenes.

Uitstappie plaas of stad toe

Vir ’n plaasjapie is daar min dinge so opwindend soos ’n ordentlike besigtiging van die groot stad, terwyl ’n stadsjapie dalk ’n ding of twee kan leer op ’n plaas.

Vlinderplaas

As dit ’n reëndag is, besoek die naaste skoenlapperplaas en verwonder julle aan hierdie mooiste van mooi versierings uit die natuur.

Waterpret

Oorwin die somerhitte; gaan swem, dryf met binnebande rivier af, ry branders in die see, gaan vang vis, ry branderplank of gaan roei.

X-treme sport!

Klim op julle bergfietse en verken die heuwels in die omgewing of gaan saam vir lesse om te leer skaatsplank ry. Gaan op ’n witwater-ekspedisie of gly met ’n foefieslide deur die woude.

Ysskaats

Kies ’n stil tyd om die skaatsbaan die eerste keer aan te durf en vra jou kinders gerus om jou te help om hierdie vaardigheid onder die knie te kry.

Zzzz onder die sterre

Om ’n aand te gaan uitkamp in die veld bly ’n heerlike avontuur vir die meeste kinders. Sit om die kampvuur, ruil spookstories uit, braai malvalekkers en skep herinneringe saam.