Die aarde vanaf die maan

Een van sy opdragte was om foto’s te neem. Die maan was donker en vol gate. Die ruimtevaarders van die Appollis het die onmoontlike reggekry. Eerste tree op die maan.

Die kamera was gereed en hy het niemand teleurgestel nie. Iets het hom laat omkyk. In die verte was die blou kleurvolle bal in sterk kontras met die maan. Sy aarde. Dit was opeens vir hom ontsettend mooi. Op die ingewing van die oomblik het hy sy lens gestel en ‘n tydlose foto geneem. Op 24 Desember daardie jaar het miljoene Amerikaners geluister na die uitsending vanaf die maan. Dit was ‘n ongelooflike prestasie. Meer merkwaardig was egter sy boodskap uit die skeppingsverhaal dat God die hemel en die aarde gemaak het, die water geskei en land gevorm het. Dit was goed en mooi.

In die dokumentêre program vertel die grys ruimtevaarder hoe hy by homself gedink het waaroor al die getwis, al die rumoer in die wêreld. Dit was so waar. Die mens hunker na meer en meer. Ons wil maan toe, maar rondom ons is ‘n stuk paradys.

Ons raak so vasgevang tussen die sorge van die lewe dat ons dikwels die wonder mis.

In ‘n motiveringspraatjie die afgelope naweek word ons geínspireer om nie te wag dat ander mense die verskil moet maak nie. Ons moet minder by die venster uitkyk en vingers wys na alles wat nie reg is nie. Dalk meer in die spieel kyk en besef dat die een wat die verskil kan maak die een is wat na jou terug kyk.

Soms wil ons almal maan toe vlieg. Weg kom van alles en nog wat.

Tydens pinkster word ek opnuut herinner om op die Vader se skoot te klim en my probleme by hom te los… met gebed, smeking en danksegging. Fillipense 4. Dis eintlik wat geloof is, al lyk niks anders nie, verskyn daar vrede in jou hart en word hoop gebore. So waar. As daar net kommer is kan jy moeilik iets goeds raak sien. Danksegging is om ‘n tree terug te gee en God daarmee te vertrou. Dalk van die maan weg te draai en die aarde van ‘n ander hoek te sien. Met verantwoordelikheid. Met nuwe visie. Nuwe hoop.

Die antwoord en die oplossing lê nie daar ver op die maan nie, maar soms reg onder ons neuse.
Dit begin by geloof, vertroue, smeking en danksegging. Op n dag verras die vrede jou wat alle verstand te bowe gaan… ten spyte van…