Dié afspraak het gelei tot pleit en vergifnis

63

Ek het in ’n huis saam met vier broers en drie susters grootgeword. Agt kinders in drie slaapkamers op stapelbeddens.

Tot vandag toe weet ek nie hoe dit gekom het dat ek daardie aand alleen in my bed was nie. Ek onthou wel die vreemde drang, ’n wete, vanaand is anders. Ek het my Bybel oopgemaak en begin lees. Dit was nie gewone lees nie.

Die woorde het my oorrompel en verpletter. Dit het my aangetrek, maar ook met vrees vervul. Bekoor en bedreig. Ek sou die Bybel wou toemaak, maar het geweet dit is onmoontlik. Die afspraak van alle afsprake het aangebreek. Die afspraak waarna ek nog altyd uitgesien het, maar ook die afspraak waarvan ek nog altyd weggedeins het.

Daar is min ervarings so ontnugterend, maar ook bevrydend, as die volkome oortuiging dat jy skuldig is. Al jou verskonings wat nog altyd handig te pas gekom het, maar ook altyd soos ’n nare stem in die gewete gefluister het, het finaal verkrummel. In die teenwoordigheid van Waarheid kan geen leuen bly staan nie. Selfs die soort leuens wat meer waar as vals is, die soort leuens wat in alle opsigte waar is behalwe dalk net nie in een stukkie detail nie.

Om een van agt kinders te wees maak konflik onvermydelik.

Dis mos maar hoe dit is om boeties en sussies te hê. Daar is tog sekerlik niks vreeslik sondig of verdoemend aan die onderonsies tussen kinders nie. Jy bedoel tog nie wat jy jou broer in jou kinderlike drif toesnou nie. Netnou is dit tog weer vergete. Bloot die onskuldige, natuurlike aanleer van sosiale en kommunikasievaardighede.

Maar daardie aand was die groot spieël voor my. Nie Paulus se dowwe spieël waarin ’n mens net raaisels vaagweg raaksien nie. Nee, hierdie spieël is duideliker as enige ander. Ek kon sien wie ek is. Ek het woorde gelees wat my oortuig het dat Iemand vir wie ’n mens niks kan wegsteek nie naby was. Ek het gelees van ’n verdoemenis vir mense soos ek.

“Elkeen wat vir sy broer sê, Jou dwaas! Sal verantwoording doen in die helse vuur…” is Jesus se waarskuwing in die bergpredikasie. Skielik het ek anders gevoel oor ons broederlike geskille. Daar was geen skuilplek of wegkomkans voor die onverbiddelike wete nie: Jesus praat van my!

Sal ek ooit vergeet hoe ek gepleit het om genade. Die besef dat ek vir myself niks kan doen nie. En toe kom die oortuiging. Iemand wil my help. Iemand wil vergewe. Iemand het betaal.

Die verbaas my nie dat die Bybel vandag onder die spervuur van kritiek kom nie. Dit verbaas my nie dat hierdie onvergelykbare boek as outyds en onvanpas beskryf word nie. Want in hierdie boek is woorde van lewe en dood. In hierdie boek is waarhede wat in ewigheid nie sal vervaag nie. Die Duisternis sal alles doen om woorde wat die vermoë het om ’n verlore jong seun in een aand te verander in ’n volgeling van Christus verdag te maak.

KOOS VAN DER MERWE is ’n bekroonde  liedjieskrywer,  predikant en  solokunstenaar.