Die Arme Tandemuis

Die Tandemuis is in ons huis al deur twee stelle melktande en is vinnig besig om die laaste stel melktande ook stuk-stuk te kom haal.

Dit is nou behalwe as ons die baba boetie sou kry waarvoor die drie juffers so ernstig bid, maar wat ons eendag vir hulle sal verduidelik nie regtig meer moontlik is nie.

Ons huis se Tandemuis sal soos meeste ander tandemuise natuurlik boeke vol kan skryf oor sy wedervaringe.  Een van die vroeë hoofstukke sal seker gewy word aan “Die Eerste Tand”.  Dit is meestal so ʼn klein onderste voortandjie wat met groot opwinding (en dalk met ʼn briefie by) netjiese in ʼn skoen gesit word waar die muis dit duidelik sal kan sien.  Die tand is gewoonlik mooi skoongewas en ʼn hele paar keer afgeneem voordat dit seremonieel in die skoen gesit is.  Alhoewel die ouers die fanfare se ver moontlik probeer volhou, taan dit gewoonlik soos wat die melktande minder en die pipperment tande meer word.

Die Tandemuis is ʼn avontuurlike knaap en sien vir baie kans.  Daarom sal daar ook ʼn hoofstuk in die boek wees oor tande wat hy bv op die skoolterrein moes gaan soek nadat hy betraande briefies in die skoen gekry het met instruksies van waar die tand vermoedelik verloor is.  ʼn Ander hoofstuk sou vertel van die noue ontkoming wat hy met die kat gehad het en die briefie wat hy moes skryf om dit aan die juffers te verduidelik nadat hulle die tand ʼn dag later op Mamma se spieëlkas sien lê het.  Hy was besonder dankbaar dat hulle dit vir hom opgespoor het nadat dit uit sy rugsak geval het.  Die Tandemuis sal ook kan vertel van die troos briefie wat hy moes skryf toe hy een aand so groot geskrik het vir een van die speelgoed in die kamer dat hy eers die volgende dag die tand kon kom haal.  Hy het regtig nie vergeet nie!

Tand finansiering is ʼn wetenskap op sy eie.  Daar sal beslis ʼn hoofstuk in die Tandemuis se boek wees oor hoe hy dit reg kry om altyd gereed te wees met ʼn geldjie wanneer ʼn tand gewissel word.  In hierdie hoofstuk sal hy raad kan gee oor watter motorhawe na ure oop is om ʼn brood te kan gaan koop om kleingeld te kry of hoe duur ʼn tand hom al in Amerikaanse doller uitgewerk het toe die gesin in Zimbabwe met vakansie was.  Hierdie hoofstuk sal konfidensiële, soms inkriminerende inligting bevat en is verseker nie vir sensitiewe lesers nie.  Hierin sal die Tandemuis vertel van (ag en laat ek nou maar namens die muis bieg) …die keer toe hy geld uit ʼn kind se spaarbussie moes leen.

Gisteraand sou ook seker êrens in die Tandemuis se boek genoem word.  Waarskynlik in een van die laaste hoofstukke van enige Tandemuise se boek:  Die hoofstuk oor sy identiteitskrisis – Wie is hy nou eintlik?

Ons jongste juffer is deesdae baie skepties oor die Tandemuis.  Sy was gister heeldag besig om aan ʼn tand te woel.  Net voor slaaptyd hoor ons die gejubel en snap dadelik dat die tand gewen is. Die aanvanklike trots van ʼn paar jaar gelede het plek gemaak vir ʼn kapitalistiese gretigheid om die tand-bate in kontant om te sit en Pappa en Mamma word (met voorbedagte rade) deeglik in kennis gestel dat die tand gewissel is.  Om die waarheid te sê word Pappa uit sy televisieslaap wakker gemaak om hom op hoogte te bring van die verwikkelinge in die huis en van die hoë verwagtinge wat sy aan die Tandemuis se bydrae tot haar finansiële situasie stel.

Die Tandemuis was seker gisteraand vreeslik besig met kombuis opruim en baie moeg na die derde dag van ʼn hittegolf en het vermoedelik onverwags onder die waaier op die bed aan die slaap geraak.  Die juffertjie was gelukkig nog aan die slaap toe die Tandemuis wakker skrik en van die tand onthou.  Hy besef sy eer is op die spel aangesien sy identiteit deesdae onder verdenking is.  Die arme drommel het deur die kamer gesluip, onder die bed gesoek, in die kas gesoek, selfs in die wasgoedkas en rolskaatse ook gesoek, maar kon niks kry nie.  Uiteindelik het hy maar opgegee en ʼn nota geskryf om die juffer te vra dat sy vanaand vir hom ʼn briefie moet los om te sê waar sy die tand los.

Toe ek haar vanoggend wakker maak, groet sy my met ʼn skeptiese:  “Was die Tandemuis hier?”.  Nee ek weet nie, waar het sy haar tand gelos, dan kyk ons twee gou.  “Nee!” sê sy “Ek sal self kyk.  Mamma sal kan hoor of hy hier was of nie” en daarmee maak sy die kamerdeur voor my toe.  “Aaargh!” hoor ek haar aan die anderkant van die deur.  Sy kom uit met die tand in watte toegedraai asof dit êrens in ʼn skoen weggesteek was.  Ek sien toevallig die Tandemuis se briefie teen die deur raak en wys dit vir haar.  Sy lees dit aandagtig deur en sê dat die muis wil hê dat sy vir hom moet sê waar die tand is.  Sy antwoord slinks:  “Ek sal maar terug skryf en sê dit is in een van my skoene…”

Ek het ʼn vermoede dat ons Tandemuis binnekort werkloos gaan wees.  Ons hoop dat hy ʼn goeie nuwe huis sal kry waar die kinders (aanvanklik) net so lief sal wees vir hom.