Die Aussies het ‘n duur prys betaal

0
438

Ek wy nie baie bloginskrywings aan sport nie, maar vandag kan ek nie anders nie.

‘n Mens moet iets sê oor die krieket! Die Proteas het die Aussies behoorlik verpletter deur hulle met 492 lopies te wen, en so ook die reeks 3-1 te wen. Die Proteas was beter, maar ek dink nie dat ‘n mens ‘n graad in sielkunde nodig het om te weet dat die hele storie oor balpeutery ‘n baie negatiewe effek op die Aussies se vertoning in die laaste twee wedstryde gehad het nie. Hulle het ‘n baie baie duur prys betaal vir daardie oortreding.

‘n Mens sal seker nie weet of hulle dit ook in vorige wedstryde probeer het nie. Dit is die probleem met oneerlikheid. As jy uitgevang word, verdink mense jou dadelik ook van ander en van groter oneerlikheid waar jy dalk net nie uitgevang was nie.  Dalk was dit jou eerste keer, maar jou reputasie is daarmee heen, en mense sukkel om jou te glo.

‘n Mens moet eintlik altyd voordat jy iets verkeerd wil doen, so bietjie die lewe “fast forward” en jouself sien waar jy uitgevang is, en jouself dan afvra of jy steeds wil doen wat jy vir ’n oomblik bedink het. Voordat jy byvoorbeeld daardie buite-egtelike verhouding wil aanknoop, “fast forward” jou lewe en sien jouself waar jy uitgevang is, en jy in die sitkamer sit en teenoor jou lewensmaat moet bieg wat jy gedoen het.

Ek geniet die beeldryke taal van Spreuke 20:17 wat sê: “Soet is vir ‘n mens die brood van bedrog, maar daarna word sy mond vol gruisklippertjies”. Lees weer hierdie vers, en lees dit daarna in die Nuwe Vertaling wat dit so vertaal: “Kos wat oneerlik verkry is, smaak miskien goed, maar agterna sal jy klippe kou!”.