Die begeertes van jou hart!

Die begeertes van jou hart is nie net wat jy wil hê nie, maar waarom jy dit wil hê. Die begeertes van jou hart onthul wie jy is, jou integriteit, jou visie en jou ingesteldheid.

Voordat ons egter hierdie begeertes van ons hart kan ontvang, moet ons eers een van die belangrikste lesse van die lewe leer. “Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal aan jou gee wat jou hart begeer.” -Psalm 37:4 AFR83

Wat beteken dit om jou vreugde te vind in die Here? Om jou vreugde te vind in die Here is, om jou vreugde te vind in die wete dat God jou oneindig baie lief het. Jou vreugde te vind in die sekerheid dat Hy net die beste vir jou wil hê. Jou vreugde te vind daarin dat die Here nie aan jou die begeertes, wat jy dink jou hart verlang, wil gee nie, maar die begeertes wat jy regtig koester in jou hart.

Hoe baie maal vra ons dinge van die Here, net om agterna kwaad te wees vir die Here dat Hy dit toegelaat het. God wil vir jou net die beste hê, maar baie maal skik ons vir tweede beste, omdat ons nie waardig voel nie. Soms is dit goed om net stil te word voor die Here en te wag op Hom. Hom te vra, “Here, wat is U wil vir my?” Nie die maklikste keuse nie, ook nie die impulsiewe keuse nie, maar die beste keuse.

God, wat jou hart beter ken as wat jy jou eie hart ken, weet wat jy werklik begeer en wat die hartsmotief agter die versoek is. Jy het dalk iets van die Here gevra omdat jy spesiaal, waardevol, kosbaar of geliefd wou voel en dit was die eintlike rede agter hierdie begeerte, maar God in Sy almag het geweet dat dit wat jy dalk glo hierdie begeerte sou vervul, nie werklik die oplossing sou wees nie. God het geweet dat dit net ‘n tydelike verligting sou bied, voordat dit opeindig in hartseer, verwerping en wantrou. Daarom is dit altyd die moeite werd om net so stil-stil en op jou eie by Sy voete te gaan sit. Die lewe is besig vir ons almal, maar moet nooit te besig raak om Sy stem te hoor nie.

Wanneer jou hartsmotief altyd is om vreugde in die Here te vind en Sy beste wil vir jou lewe, sal jou hartsbegeertes ook aan jou ware vreugde en vervulling bring. Die Here is altyd getrou en regverdig en Hy sal aan jou al die regte en goeie begeertes van jou hart gee, in die tyd wat Hy goed en reg daarvoor bestem het.