Die beste advies vir entrepreneurs

0
341
Paul_Bosman.jpg

Dr. Paul Bosman, uitvoerende direkteur van Tara Pharmaceuticals, het sy besigheid in een jaar gegroei.

Ek het by natuurlike medisyne betrokke geraak…

…toe ek in Switserland gewerk het en ons dogtertjie baie siek geword het. Ek is na ’n pediater verwys, wat eers natuurlike middels gebruik het om haar mee te behandel. Sy het baie goed daarop gereageer. My broer se tweeling was ook altyd siek. Toe kry ek vir hom van die natuurlike medisyne en dit het gewerk. Daarna het ek al hoe meer begin belangstel.

Die grootste uitdaging vir entrepreneurs is…

…finansiering vir jou onderneming. Jy moet eerstens ’n goeie idee hê, maar as jy nie geld het om dit te finansier nie, gaan jy nêrens kom nie. Banke leen nie maklik vir jou geld nie en daar is bitter min individue wat vir entrepreneurs geld sal voorskiet. Dit is die grootste probleem, ek sukkel nou nog daarmee.

Die medisinale veld is spesifiek uitdagend, want…

…jy moet eers bewys dat die middel effektief is. Dit moet ook veilig wees en die mark is gereguleerd. Vandag gaan dit jou klomp geld kos, want jy gaan studies nodig hê om die effektiwiteit van jou produk te bewys. Die versperrings tot toegang tot die mark word baie hoër. Jy moet ook medisyne ken. Daar is redelik baie cowboys wat allerhande aansprake vir hulle middels maak.

Om jou besigheid binne een jaar te laat groei…

…moet jou produkte blootstelling kry. Sorg dat mense op die een of ander manier van jou produk te hore kom. As hulle nie daarvan weet nie, sal hulle dit immers nie koop nie. En natuurlik moet jy gereelde kliënte hê. Mense moet dit nie net een keer koop nie. Dit moet werk en hulle moet dit weer en weer koop. Tevrede kliënte wat oor jou produk praat, is die effektiefste bemarking.

Die beste manier om jou maandelikse inkomste te verhoog…

…is om jou uitgawes so laag as moontlik te hou en geteikende bemarking te doen. Advertensies en ander vorme van bemarking is ontsaglik duur. As jy voor die voet advertensies koop, gaan jy gou bankrot speel. Ons sorg verder dat ons die regte hoeveelheid voorraad aanhou, sodat ons nie met te veel daarvan sit nie. Dit klink dalk vanselfsprekend, maar die beste manier om inkomste te verhoog is om soveel as moontlik van ’n produk te verkoop.

Die bemarkingstrategie wat die beste vir ons werk, is…

…advertensies in die media, veral in spesifieke tydskrifte. Ek dink dat direkte bemarking aan jou teikengroepe ook baie effektief is, soos produkte vir kinders in ’n tydskrif gemik op jong ma’s. Jy moet presies weet wie jou teikenmark is en watter reklamemedium juis daardie groep verbruikers sal bereik.

Die grootste risiko wat ek geneem het…

…was toe ek my huis en kar verkoop het. Ek het al die geld wat ek moontlik kon kry, in die maatskappy ingestoot. Ons is al van 2007 af aan die gang en hopelik gaan ons hierdie jaar ’n omset van 10 miljoen rand hê. Jy moet glo in wat jy doen. Ek het blindelings geglo ek gaan suksesvol wees.

Die beste sakeadvies wat ek nog gekry het…

…is fokus, fokus, fokus op jou sterk punte. Doen wat jy ken – moenie probeer om ewe skielik na skoonheidsprodukte oor te skakel as jy medisyne ken nie. Toe die maatskappy waarvoor ek gewerk het, verkoop is, het ek gedink ek moet nou my eie onderneming begin. My broer het my aangeraai om te bly by wat ek ken. Dit was toe dat ek my maatskappy, Tara Pharmaceuticals, gestig het.