Die beste geskenk wat jy jou kinders kan gee

0
113
gretha wiid

Dit wat kinders die meeste nodig het, is dat mamma en pappa ’n gesonde verhouding met mekaar het.

Dit wat kinders die meeste nodig het, is dat mamma en pappa ’n gesonde verhouding met mekaar het.

Duisende vroue verklaar dat hulle kinders hulle prioriteit geword het. Natuurlik weet almal dit hoort nie so in ’n gesonde huwelik nie, maar die werklikheid is dat kinders aandag verg. Hulle is klein bondeltjies wat gevoer, gebad, gekosblik, gehuiswerk, gestreel en getroos moet word. Watter ma kan aandag aan haar man bly gee as twee sussies mekaar se hare trek of een nerfaf geval by die huis inhardloop? En wie kan bly sit om ’n liefdevolle oomblik in te drink as Sussie jou luidkeels inlig: “Mammá, ek wil gaan poef!”?

Dis die ou storie: so baie dinge om te doen en so min tyd. Jy dra die titels van Ma, Huisvrou, Medebroodwinner, Aktivis, Vriendin, Dogter en natuurlik Vrou ook! Die ergste is dat hierdie volgorde vir die meeste vroue ’n werklikheid is. Alles kom voor vrouwees, veral as jy uitgeput op die bed neerval, en jou man in dáárdie stem vra of jy nie ook lus is nie, met ’n hoopvolle hand wat mik-mik om al die nodige enjins aan die gang te kry. Lus? Lus om te slaap, ja. Lus om weg te hardloop, ja. Maar lus vir dit waarvoor hy lus is… regtig? Dié tyd van die aand?

Die probleem

Die droewige waarheid is dat ons so baie tyd en aandag aan ons kinders bestee dat ons huwelik gereeld aan die agterspeen suig. Teen die tyd dat ons besef dit kan ons ’n prys kos, sit ons dalk met ’n leë nes én ’n leë huwelik. Ek dink die meeste mense leef nie gefokus genoeg in hulle huwelike nie. Hulle gaan net aan. Hulle oorleef net op autopilot.

Met die koms van kinders word enige vorm van kwaliteittyd met jou huweliksmaat oornag ’n baie seldsame kommoditeit. Soveel as wat hulle ’n ryke toevoeging tot ons lewens is, steel hulle so maklik die kwaliteit- en kwantiteittyd wat ons het om aan ons maats te spandeer – iets wat ons huwelike oornag kan verarm. Daarom is dit so belangrik dat julle sal tyd maak vir mekaar weg van die kinders af – nie net met uitgesoekte naweke nie, maar ’n klein stukkie tyd elke dag.

Baie paartjies gaan kyk nie eers meer romantiese flieks vir ’n date night nie. Hulle kyk eerder ’n animasiefilm saam met die kinders. Hulle vakansies is kindervriendelik: daar moet genoeg wees om die kinders besig en gelukkig te hou. Sulke oorleef-net-paartjies kies restaurante met vetkryt op die tafels, speelruimtes vir die kinders en goedkoop speelgoed wat uitgedeel word. Hierdie paartjies se lewens word regeer deur die tyd wat die babaoppasser beskikbaar is. Wanneer hulle gesels, gaan dit oor die kinders, karre wat gediens moet word, die reëlings vir Vrydagaand se braai of die skoonmense wat kom kuier. Seks word ’n roetine – iets wat op die doenlysie afgemerk moet word – maar net as die kinders slaap. Hulle kies om eerder op hulle selfone na ander mense se lewens te kyk as om in mekaar te investeer. Só word hulle huwelik mettertyd leeggedrink.

Wanneer hulle wel die dag wakker skrik, hoop hulle dat die berader hulle sal kan fix, hulle konneksie kan herstel, hulle kan laat voel of hulle belangrik is vir mekaar. Hierdie mense sê vir die berader dat dit nie regverdig is dat hulle kinders deur ’n egskeiding moet gaan nie. Hulle móét probeer om hulle huwelik te red… ter wille van die kinders!

Die uitdaging

Kan ons elkeen vandag ’n toetsie aflê en onsself eerlik punte gee? Hoe gereeld doen jy moeite om soos ’n vrou vir jou man te lyk en nie net soos ’n ma wat langs die netbalbaan gestaan het nie? Hoe lyk die balans in die hoeveelheid tyd wat jy in die aand aan jou kinders bestee teenoor dit wat jou man van jou kry? Bepunt ’n slag jou grense. Weet die kinders dat jy en manlief alleentyd wil hê vir gesels en kuier?

Wanneer laas het jy tyd weg vir nét julle twee gereël sonder om elke kort-kort die oppasser te bel? Hoe gaan dit met jou huwelik? Nee, nie met die gesin nie, met jou huwelik?

As jy die toets dop, is daar gelukkig ’n hereksamen. Weet net dat jy harder sal moet leer en baie meer sal moet fokus. Begin met klein dingetjies wat jy verander. Jy ken jou roetine, jou man en jouself. Dink wyd, wees waagmoedig, stuitig, romanties en gefokus! As jy dit nie doelbewus gaan beplan nie, gaan dit nie gebeur nie. As ons ma’s kosblikke en toergeld vir ons kinders kan beplan, kan ons sekerlik iets vir ons huwelik ook beplan?

Onthou, gehaltetyd is nie iets wat toevallig kom nie. Dit verg goeie grense, ’n bietjie beplanning en gefokusde toewyding – ’n ingesteldheid wat sê: My huwelik is my prioriteit! Ek wil nie net eendag sê dat ek ’n wonderlike ma was nie, maar ook dat ek ’n fantastiese vrou was! Begin vandag om elke dag doelbewus tyd aan jou maat af te staan, al is dit net tien minute vir saam koffie drink of gou-gou saam stort. Kies om ’n ma te wees wat gereeld vir jou kinders sê: Ek kuier nou eers met Pappa! Dit verg eintlik min moeite, maar baie fokus.

Immers, as jou kinders dan só belangrik vir jou is, gee hulle die beste geskenk… Wees lief vir jou man en werk aan jou huwelik!

Gretha Wiid