Die beste geskenk wat jy kan gee

0
466
Lydie_Terblanche.jpg

Die storie begin ses-en-twintig jaar voordat sy gebore is. Met die deeglikheid van ’n ervare navorser, laat ontvou Lydie Terblanche ’n besonderse verhaal.

Frikkie Terblanche, of Terry, soos almal hom ken, hou nie van uitspattige gedoentes nie. Veral nie op sy verjaarsdag nie. ’n Lekker ete saam met sy mense is meer as genoeg. En wanneer jy sewentig somers agter die blad het, is herinneringe baie kosbaarder as presente. Maar die mense om die tafel hou van gee. Toe dit Lydie se beurt is, tel sy die swaar pakkie op en laat dit sag in haar pa se hande rus.

“Dis vir my so verkeerd,” vertel Lydie in die sonlig wat deur haar eetkamervenster val, “dat daar so baie mooi dinge oor mense gesê word op hulle begrafnis – húlle moet dit mos hoor! Ek wou nie hê dit moes met my pa gebeur nie. Almal moes die kans kry om vir hom te sê wat hy in hulle lewens beteken het terwyl hy nog hier is.”

As sy vooraf geweet het wat vir haar wag, sou sy heel moontlik nie hierdie liefdestaak aangepak het nie. “Ek het besluit om ’n boek saam te stel oor my pa se lewe. Van sy ouers se troudag tot op sy 70ste verjaarsdag.”

Stuk vir stuk het sy die legkaart van haar pa se lewe begin bou, en gou-gou besef dit gaan glad nie maklik wees nie. Baie van die mense wat aan die beginjare deel van haar pa se lewe was, het net ’n telefoonnommer en ’n posbus gehad. Faks? Epos? Niks daarvan nie … “Ek het briewe geskryf, gepos, gewag, weer geskryf, weer gewag …” ’n Glimlag speel om haar mond as sy terugdink aan die ooms en tannies wat met soveel deernis en liefde aan haar projek deelgeneem het.

Op die eerste bladsy verskyn ’n troufoto van Terry se ouers, en daarna volg sy grootwordjare soos die mense naaste aan hom dit onthou. Daarna sy akademiese loopbaan, wat begin by die Universiteit van die Vrystaat se dramadepartement, ’n draai maak by NALN (Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum) en tot ’n hoogtepunt ontwikkel terug by Kovsies se kommunikasiedepartement. “Hoewel ek probeer het om die datums en feitelike inligting so akkuraat as moontlik te kry, is al die herinneringe nie noodwendig heeltemal korrek nie,” sê Lydie.

[Pagebreak] “Maar dis hoe mense dit onthou en dis goed genoeg. Elke mens se herinnering aan my pa is opgesluit in hulle gedagtes, en dis kosbaar. En dis juis wat ek vir my pa wou gee: hoe ander mense hom sien. Hom waardeer.”

Behalwe dat hierdie boek, waaraan Lydie amper ’n jaar lank gewerk het, ’n besondere storie vertel, stap dit ook ’n lekker pad deur die geskiedenis. Die haarstyle, die klere … soos die storie vorder, ontvou elke moderamp en snaakse gier. Die aanvanklike swaar Afrikaans verander later in ’n amper reëllose geselstrant soos die laaste studente wat onder prof. Terry se bekwame hande deurgeloop het, hulle stempel afdruk.

Dit was nie net ’n besondere ervaring vir Lydie nie; al Terry se vriende en familie het ook heerlik gekou aan die onthou. Die lag, die liefde en soms ook die trane. En wie weet, dalk het dit hulle geïnspireer om ook ’n onthouboek te maak – want elke mens het ’n storie wat die moeite werd is om te vertel.

Een ding wat deurlopend dieselfde bly, is die bewondering waarmee die mense van hom praat. Hierdie besonderse man met die ysblou oë wat alles so netjies in sy geheue stoor. Geen student het eers probeer om plagiaat te pleeg nie – en dié enkeles wat wel het, sou dit net een keer doen. Prof. Terry ken elke sin in elke kommunikasieboek so goed dat hy vir jou kan sê op watter bladsy dit staan.

Net so is daar talle inskrywings deur mense wat Terry se kunssinnigheid onthou. Sy uitstaande akademiese prestasie. Sy wonderlike vermoë om met woorde te speel. Die hartaanval in sy dertigs wat almal laat asem ophou het. Die egskeiding later. Dan ’n nuwe liefde. Maar altyd die groot gees van ’n ongelooflike man. “Siele van potklei” het hy dikwels gesê oor die sensitiwiteit van ’n mens se wese. Maar net voor jy dink jy kan wegkom met moord danksy dié sagte begrip, loer hy oor sy bril en groet met: “Hallo, lelik!”

Terwyl sy gesels, blaai Lydie se hande deur die dik boek, wat sy haar tweede doktorsgraad noem. “Dit was wonderlik om my pa op hierdie manier te leer ken. Om te weet waar hy was en wat hy gedoen het. Ek dink eintlik elke mens moet so ’n boek hê. Iets wat jou spore op aarde saamvat. Wat wys dit het saak gemaak dat jy bestaan …”

[Pagebreak] Vir Terry was hierdie geskenk wat sy dogter namens sy hele gesin vir hom gegee het, onbeskryflik. Beslis die wonderlikste ding wat hy nog ooit gekry het. Geraak deur die moeite wat sy dogter bereid was om te doen. Dat soveel mense met soveel oorgawe deel was van die poging. Dat hulle dit vir hóm gedoen het.

Die dag om die kostafel toe hy die swaar boek nog toegedraai in sy hande kon voel, het hy gewonder waar op aarde hy tyd gaan kry om dit te lees. Boeke is ’n algemene geskenk vir ’n man wat sy lewe aan woorde gewy het, dis darem meer kleurvol as kouse en stortseep. Maar nóg een?

Sonder veel afwagting en met ’n geoefende gesig wat vreugde en dankbaarheid sal wys oor enige geskenk wat hy kry, het hy die papier afgeskeur. Die leerbundel met goue letters het hy baie goed geken. Dit is hoe elke proefskrif uiteindelik op sy tafel beland het … Maar hierdie was nie ’n tesis nie. Dit was sý storie! Stadig het hy ’n paar bladsye omgeblaai en die vloedgolf van waardering en herinnering toegelaat om oor hom te spoel.

Al loop sy boek oor van prestasies en ongekende vermoë, het dit hom nederig laat voel. Hulle het dit vir mý gedoen? Ja hulle het, omdat Terry soveel in sy lewe vir ander gedoen het. En nou dat die dae stiller en rustiger raak, is dit tyd dat hy dit onthou – en nie net al die akademiese teorieë wat hy oor die jare bepeins het nie.

Deur die loop van daardie besonderse verjaarsdag in 2011 het Terry elke nou en dan die boek opgetel om nog ’n bietjie te onthou. En in die maande en jare daarna het dit ’n getroue geselsmaat geword in die rustige ure van die dag. Danksy Lydie se navorsing, kon hy weer met talle mense kontak maak, want sy het ook ’n lang lys kontakbesonderhede in die boek gebind. Nou is sy lewensjare nie net ’n herinnering in sy eie gedagtes nie. Dis op papier. En kan hy die mense wat sy dae met hom gedeel het, weer kontak. Saam met hulle onthou.

Lydie is reg. Elke mens moet so ’n lewensboek hê. Amper soos ’n Facebook van lank, lank gelede. Maar nie net die bietjies elektroniese onthou wat die meeste van ons maar so vyf jaar gelede ontdek en ontgin het nie. Regte, egte onthou. Van mense wat diep omgee en nie sommer so in die verbygaan op like kliek nie …