Die beste kar-kopies vir vroue

0
318
kar.jpg

Praat die verkoopsman jou kop deurmekaar oor motors? Hier is Waldo van der Waal van La’t Wiel se raad.

Ons almal beny die vrou wat selfversekerd die vertoonvertrek binne stap en weet waarvoor om te kyk. Die meeste van ons is redelik verdwaal daarbinne, en dit is nog voor die verkoopsman sy mond oopgemaak het. Waldo het ons gehelp om die soektog na die perfekte kar vir vroue af te stem. Hier is sy raad en topkeuses.

Dís waarna jy moet oplet wanneer jy kar koop

Baie motorvervaardigers mik sekere modelle deesdae spesifiek op vroue. Maar net omdat ’n motor se bemarking op vroue gemik is, maak dit nie noodwendig die beste keuse vir jou nie.

Op die ou end is daar ’n klomp dinge om in ag te neem wanneer jy ’n motor koop. Die belangrikste is waarskynlik die herverkoopwaarde en dan kom die koste van instandhouding. Petrolverbruik is deesdae ook ’n bepalende faktor. Aangesien motorvervaardigers veiligheid in gedagte hou, kan jy deesdae ook ’n motor kies wat die waarskynlikheid van kapings beperk.

Wat baie belangrik is wanneer jy pryse vergelyk is om te kyk wat die finansiering op die langduur gaan kos. Bereken die verskil tussen die verkoopsprys en die totale paaiemente wat jy maandeliks betaal om die vergelyking te maak.

Dink ook mooi oor die ekstras soos elektriese vensters, GPS en kragstuur. Het jy dit regtig nodig? Want dit sal die prys van die motor ook opjaag.

Die beste keuse vir die avontuurlustige vrou

Daihatsu se Terios Diva Deluxe se veldryer is toegerus met lugverkoeling en chroomafwerking, sowel as ’n GPS, vier lugsakke en ’n sonbrilhouer. Dit het ook ander vrou-vriendelike eienskappe soos matte wat nie jou hoëhakskoene sal verniel nie.

Vir groter veiligheid is daar versterkte vensters en beskerming teen grypaanvalle wat sommer van meet af op die ruite aangebring is. Die Diva het ook ’n sensor wat die brandstof afsny in die geval van ’n harde stamp naby aan die petroltenk. Dit verhoed dat brandstof in kontak kom met enige vonke tydens die ongeluk. ’n Dramatiese toneel uit ’n aksiefliek, waar die kar ontplof, kan dus vermy word.

diva.jpgDie Diva maak ook seker niemand is verveeld tydens lang ure in die kar op pad na ’n naweek-wegbreek nie. Daar is altesaam drie DVD-skerms, wat elk ’n ander DVD op dieselfde tyd kan speel.

Die veldryer is slegs in 4×2-gewaad beskikbaar.

Prys: R269 995
Motorplan: 3 jaar/75 000 km
Brandstofverbruik: 7,5 liter per 100 km

Goeie waarde vir geld vir die stadsmeisie

Dit is een van die skattigste motortjies op ons paaie: Fiat se 500. Drie deure, kompakte afmetings, ’n interessante binneruim en hope veiligheidstoerusting. Die karretjie is dalk nie ideaal vir ma’s met hope kinders nie, maar beslis vir ’n eerste koper. 500.jpgDie 500 se dienstussenposes is 30 000 km – so jy gaan hom net elke tweede jaar hoef te laat diens! Ideaal vir die vrou wat elke dag stadsverkeer moet trotseer. Daar is ’n klomp verskillende modelle wat begin by die 1.2 Pop en opgaan tot by die 1.4 S Cabrio.

Prys: R168 990 vir die 1.2 Pop
Motorplan: 3 jaar/100 000 km
Brandstofverbruik: 6,4 liter per 100 km

’n Betroubare en bekostigbare keuse vir ma’s

So wat koop jy as jy net ’n goeie, voorspelbare ryding soek, sonder om te veel te spandeer? In daardie kategorie is die gewildste motors ongetwyfeld die Volkswagen Polo, Toyota Corolla of Honda Civic. Almal motors met goeie herverkoopwaardes, hoë betroubaarheidsvlakke en heelwat standaardtoerusting.

Neem byvoorbeeld die Volkswagen Polo Vivo. Dis baie betroubaar en prakties. Die 1.4-model het onder andere lugverkoeling, lugsakke en kragstuur. VOLKSWAGEN.jpgKleiner karre se brandstofverbruik is ook baie minder, wat hierdie beslis een van die meer ekonomiese kopies maak.

Prys: R138 200 vir die 1.4-model.
Motorplan: R 6 829 ekstra vir ’n plan van 5 jaar/60 000 km vir die 1.4-model.
Brandstofverbruik: 6,2 liter per 100 km

Hopelik voel daardie verkoopsman nie nou meer so intimiderend nie. Met deeglike navorsing kan jy nou ’n kar met selfvertroue soek.