Die beste raad vir ma’s óóit!

0
163
ma.jpg

Met hierdie praktiese raad kan jy jou lyf terugkry, jou gesin se mae vol hou en boonop sorg dat daar geld in jou beursie is!

Skud jou na-babalyf af – selfs jare later!

Stap, stap, stap. Daar is nie ’n veiliger, effektiewer en meer genadige manier om jou lyf weer in orde te kry nie. Om te stap strek en buig jou bekkenbodem en maak jou hele midderif sterker sonder om spanning om jou maag te sit.

Jy kan sommer die gesin se jongste toevoeging saamvat vir ’n bietjie vars lug. As jy ’n baba-drasak gebruik, maak net seker dat dit goed sit en nie die baba se heupe of jou rug seermaak nie. Vra jou dokter of fisioterapeut om te help. As jou kinders al groot is, maar jy het nog steeds jou baba-maag, is stap net so ’n goeie manier om jou lyf se vorm terug te kry. Fokus veral op jou postuur.

Hoe vinniger jy stap, hoe gouer sal jy resultate begin sien omdat jy meer kalorieë verbrand. Mik daarna om een kilometer in 10 minute te stap. Maar as dit jou aanvanklik 20 minute neem om ’n kilometer te stap, moenie stres nie, dis goed genoeg vir ’n begin. Probeer om vier tot ses keer per week te gaan stap, ten minste 30 minute lank. Namate jy fikser word, kan jy probeer om kort entjies te draf ook, maar as jy nie van draf hou nie, stap net langer.

Wat op aarde moet jy maak om te eet?

Anders as in ons ma’s se tyd, is hulp net ’n klik ver! Volg “Kos-idees vir moeë mammas” op Facebook. Jy kan ook by kreatiewekosidees.com of maklikeresepte.co.za aanklop vir hulp. Daar is ’n hele aanlyn kosgemeenskap van vroue wat baie magies vinnig vol moet kry. Gelukkig is niemand suinig met hulle idees nie.

Wees net versigtig dat jou kinders nie jou huisgesin se eetgewoontes bepaal nie. As jy jou aan elke kind se geite steur, gaan julle dalk elke aand worsbroodjies of macaroni en kaas eet.

Moenie moed opgee as jou kind nie van ’n sekere kossoort hou nie. Hou aan om dit voor te sit. Hoe meer gereeld ’n kind aan sekere kossoorte blootgestel word, hoe groter is die kans dat hy dit in ’n stadium sal eet. Jy kan wel iets gesonds waarvan hy hou – soos druiwe – saam met ’n ete bedien. Sy keuses moet egter beperk wees tot dit wat jy vir hom gee om te eet. As daar hoender, druiwe en pampoen op sy bord is, is dit waaruit hy kan kies, jy gaan nie iets anders uit die yskas haal nie.

Sorg dat daar vir jou óók geld is

Dat geld nie aan bome groei nie, kom jy veral agter wanneer jy ’n ma is. Die kinders het speelgoed, maar jy het nie eers geld vir gesigroom nie! Jou kinders behoort van jongs af te leer wat ’n begroting is. ’n Sekere bedrag kan byvoorbeeld vir hulle behoeftes opsygesit word, en as dit op is, is dit op! Daar is baie oulike voorbeelde van ’n begroting aanlyn beskikbaar. Gaan kyk op momsbudget.com en maak seker dat jou kinders nie jou beursie platmaak nie.

Jy en ’n groep vriendinne kan ook saam spaar. Hoekom maak julle nie ’n gee-en-vat-tafel wanneer julle bymekaarkom nie? Elkeen kan dan iets saambring wat nog in ’n goeie toestand is, maar nie meer in julle huis gebruik word nie. Jy kan dan weer iets anders vat wat jy nodig het. In elke huis is daar items wat net een of twee keer gebruik is en nou vergete in ’n kas lê. Dis nie net ’n blink plan vir jou beursie nie, maar sommer vir die omgewing ook. In plaas van dat ’n ding later op ’n ashoop beland, dien dit ’n doel in iemand anders se huis.