Die beste skoonheidswenke… ooit

0
49
mooi.jpg

Die geheim van ’n jong gesig was al die tyd eintlik hier reg onder neuse. Hier is die 3 beste wenke.

Vra bietjie jou vriendin hoe om van donker kringe om jou oë ontslae te raak en die kanse is goed dat sy vir jou ’n lysie gaan uitpluk so lank soos die snelweë tussen Pretoria en Kaapstad. Want skoonheidswenke is volop. Dis in die tydskrifte wat jy deurblaai, op televisie, in die winkels en sommer om die koffietafel. Maar dan weet jy seker ook dat alle skoonheidswenke nie ewe goed werk nie. Vra maar vir enige vrou wat ’n klomp geld spandeer het op ’n “wonder” produk, net om “wonder”lik teleurgesteld te wees. Ander wenke werk weer verbasend goed. Hier is dié wat jy kan vertrou.

’n Glimlag laat jou meer toeganklik lyk

Baie vrouetydskrifte het al beweer dat ’n glimlag jou gesig dadelik lig, jou meer spontaan en toeganklik laat lyk en sommer jonger ook. En hulle was reg! ’n Studie in Oostenryk het bevind dat deelnemers ’n glimlag meer aantreklik en betroubaar vind as ’n neutrale gesig, of selfs ’n geheimsinnige glimlag. ’n Ander studie in Amerika het weer foto’s geanaliseer en bevind dat die mense wat die breedste glimlag op foto’s langer leef. ’n Breë glimlag laat jou dus nie net mooier lyk nie, maar kan selfs jou lewe verleng.

Glimlag is jou beste wapen wanneer jy lelik voel. Jy kan hoe mooi gegrimeer wees, soos ’n supermodel lyk, in olyfolie bad, maar as jou gesiggie suur is, gaan min mense in jou rigting kyk. En om alles te kroon, is ’n glimlag spotgoedkoop! Wel, eintlik heeltemal verniet.

Ovulasie die rede vir blink hare en vel

Jou gunsteling-tydskrif het dalk al beweer dat wanneer jy ovuleer jou estrogeenvlakke hoër is. Meer estrogeen beteken ’n gladder vel, want dit verminder olieproduksie wat beteken jy het minder puisies. En dan is estrogeen ook verantwoordelik vir ’n blink haredos.

Hierdie teorie is reg, want wanneer jy ovuleer is dit Moeder Natuur se manier om te verseker dat ons spesie voortbestaan. Wanneer ’n vrou ovuleer is sy op haar vrugbaarste en daarom ook op haar mooiste. Haar middeltjie word kleiner sodat haar kurwes beklemtoon word. Studies het getoon dat vroue se borste in hierdie tyd selfs meer simmetries vertoon. Dis ook die tyd wanneer jy meer selfversekerd, spontaan en positief voel. Vroue doen baie meer moeite met hul voorkoms tydens ovulasie.

Hoë estrogeenvlakke laat jou beter voel en lyk. Na ovulasie neem jou progesteroonvlakke toe en dit beteken vogterughouding, hoofpyn en premenstruele sindroom wat slegte nuus vir jou voorkoms beteken.

Oefening laat jou ook mooier lyk

Het jy al ooit die volgende gelees? Wanneer jy oefen, verbeter jou bloedsirkulasie wat beteken meer bloed kan suurstof en voedingstowwe na jou vel toe neem. Dit beteken jy het ’n mooier gelaatskleur en rooier wange.

Sweet laat ook jou porieë oopgaan en vuilgoed kom uit. Min vroue gaan wel direk nadat sy geoefen het beeldskoon lyk, maar die voordele kom bietjie later. Gaan stort en was jou gesig direk na oefening en jy sal sien dat hierdie teorie waar is.

Daar is enkele klein studies wat toon dat aknee verbeter word deur oefening. Dermatoloë glo dis omdat oefening stresverligting bring. Is dit nie ’n verligting dat skoonheid eenvoudiger is as wat ons baie maal dink nie? En jy het gedink duur rome gaan jou mooier maak, maar toe is dit al die tyd jou glimlag!

Lees meer: Lyk só pragtig op enige foto!