Die biddende vlieg

ʼn Geruime tyd terug sit ek en Karina en gesels.  Ons praat oor die lewe en waar ons onsself in die toekoms sien.

Ons gesprek draai toe na hoe kort die lewe is en hoe jy nie regtig te ver vooruit moet beplan nie en elke dag moet vat soos dit kom. Die Here sê tog in Spreuke 19:21 ’n mens kan baie planne hê, maar dit wat die Here besluit, sal gebeur.

Ons gesels oor my broer wat in ʼn motorongeluk was en dat ek deur die loop van elke dag myself kry bid dat die Here hom sal genees en Damian net weer sal kan praat.

Karina het vir ʼn oomblik stil gebly vir my gekyk, en toe kom haar woorde: “Dink jy nie God raak geïrriteerd as mense dieselfde ding oor en oor vra en bid nie? Dink jy nie mens moet eerder dankie sê dat dit waarvoor jy bid reeds gebeur het en dat jy eerder moet lewe spreek oor dit wat jy vra nie?”

Ek het vir ʼn oomblik daaroor gedink, maar nie weer nie, tot twee weke later.

Twee weke later is ek op pad Welkom toe om vir my ma te gaan kuier wat toe na Damian omgesien het. Ek stop by die vulstasie net voor Kroonstad om water te koop en bietjie bene te rek. Oomblikke na my vertrek gewaar ek ʼn vlieg in die motor, hy moes seker ingevlieg het toe ek gestop het en die deure oop was. Ek rol die ruite af sodat hy kan uitvlieg. Ek rol die ruite toe weer op, ja jy het reg geraai, die vlieg is nog steeds in die motor. Ek rol die ruite af en op, af en op. Teen die agtste probeerslag gee ek op en besluit díe Kroonstad vlieg sal nou maar ʼn Welkom vlieg word. Ek het maar net gehoop sy tassies is gepak.

Ek en Pietie ry toe verder.  Ja, ek het vir hom ʼn naam gegee. Ons sou immers die volgende honderd en twintig kilometer saam spandeer, ons kon maar net sowel mekaar op eerste name noem.

Pietie was nie jou gewone reismaat nie. Sy vlerke het nooit ophou beweeg nie en die afgryslikste geluid gemaak.  Pietie het ook natuurlik my lyf onweerstaanbaar gevind…

Hy irriteer my die hele pad.  Land knaend op my hande, arms en bene, vlieg teen die ruit vas en vertoef vir ʼn wyle daar. Net voor ek vergeet hy ry nog saam, kom land hy vinnig op my gesig om seker te maak ek is nog wakker en my reflekse te toets.

Iewers op ʼn verlate stukkie pad, net voor Welkom, kan ek dit net nie meer uithou nie.  Ek stop, maak al die deure oop en daar vlieg Pietie toe weg, sonder om eers te groet.

Terug in my motor onthou ek skielik die gesprek met Karina.  Dit moet seker irriterend wees as ons vir God dieselfde ding oor en oor vra? Amper so irriterend soos Pietie wat met sy vlerkies die grootste geraas gemaak het en elke nou en dan iewers op my kom sit het net om seker te maak ek onthou nog hy is daar. Ek het van hom geweet die eerste keer toe hy kennis gemaak het, ek het hom gehoor, dit was nie nodig om my konstant te herinner dat hy daar is nie.

Net so het God ook ons smeekgebede die eerste, tweede, derde, vierde keer gehoor. Is dit nie ons verantwoordelikheid om te glo en te vertrou dat God ons gebede sal antwoord nie?

God antwoord altyd ons gebede, nie altyd dadelik nie, maar wanneer dit Sy tyd is en ook nie altyd op die manier wat ons graag sou wou hê nie.  Hy antwoord deur vir ons te gee presies wat Hy vir ons beplan.

Ons as mens het soms so min geloof in God dat ons aanhoudend dieselfde ding oor en oor in gebed vra, nie omdat ons in God twyfel nie, maar omdat ons in ons eie geloof twyfel.

 

Vorige artikelHoe groot is jou vliegtuig
Volgende artikel#NetMATRIEKS-bootreis 2019
Blogger - Bianca Corbett
Bianca Corbett is grondslag fase juffrou in Pretoria. Sy het haar graad in sielkunde in 2010 aan die Universiteit van Pretoria voltooi en in 2017 haar PGCE by Unisa voltooi. Bianca hardloop tans vier groepe op Facebook. Dandelion Prayers wat sy vir haar broer begin het wat in 2017 in 'n motorongeluk was en' n traumatiese brein besering op gedoen het. Sy het ook drie ander groepe "For the love of hiking" wat staproetes doen om geld in te samel vir verskeie liefdadigheids organisasies "For the love of being alive" wat sy saam 'n groep vriendinne begin het waar hulle, oor hulle droomlyste blog. ThreeOh wat 'n groep is waar sy haar passie uit leef, deur fotografie, kunsflyt en blog.