Die blinde kolle wat jou geloof lamlê

0
8
geloof

Jy is soms blind vir jou eie foute en kry dan onnodig seer. Dit verhinder dat jy die hartsvreugde ervaar wat God vir jou beplan.

Jy is soms blind vir jou eie foute en kry dan onnodig seer. Dit verhinder dat jy die hartsvreugde ervaar wat God vir jou beplan.

Jy ontken daardie verkeerde gewoontes wat jou vashou

Die farao het keer op keer geweier om die Israeliete te laat trek. Hy het muggies, steekvlieë en pynlike swere verdra, net omdat hy nie wou kopgee nie. Ons is ook baiekeer so. Jy klou verbete vas aan sekere gewoontes en hang-ups oor dinge. Jy maak jouself en ander seer met hierdie “swere”, maar dit erken en laat staan? Daar’s nie ’n manier nie!

OPLOSSING: ’n Gewilligheid om te verander

As jy besef jy wil nie graag verander nie, het jy al halfpad gewen, want nie almal sal dit erken nie. Wees geduldig, want dit gaan tyd en werk neem. Jy sal nie binne ’n dag van jou slegte gewoontes ontslae raak nie. Dis goed om jou swak plekke raak te sien, maar dit beteken niks as jy nie bereid is om iets daaraan te doen nie. “Ek sal probeer verander” moenie deel van jou woordeskat wees nie. Sê eerder: “Ek kan en sál verander!”

Jy is bitter omdat jy seergemaak is

Iemand het jou diep seergemaak en nou loop jy met ’n wrok in jou hart rond. Jy glo jy het die volste reg om so te voel. Of jý het miskien in die verlede iets gedoen waarvoor jy jouself nie kan vergewe nie. Maar pasop, bitterheid is soos radioaktiewe materiaal – dit kan jou bietjie vir bietjie van binne af opvreet. En uiteindelik jou hele lewe oorneem.

OPLOSSING: Jy moet kan vergewe

Jy dink moontlik as jy iemand vergewe, praat jy die persoon se dade goed en het sy nou skotvry daarvan afgekom. As jy baie diep seergemaak is, kan dit vir jou onmoontlik voel om te vergewe. Maar hoe langer jy daardie wrok bly koester, hoe meer sal dit jou seermaak. Vergifnis is nie ’n kitsdaad nie, dit neem tyd. Dis ’n proses eerder as ’n gebeurtenis.

Identifiseer betyds daardie dinge wat so aan jou vreet sodat die proses kan begin.

Jy jok vir jouself oor jou foute

Ons almal doen dit. Wie is dan nou eerlik en sê sy is oorgewig omdat sy te veel eet? Of sy is te lui om elke dag Bybel te lees? Al jok jy nie oop en bloot oor jou foute nie, sorg jy dat jy so besig bly dat daar nie tyd is om oor jou tekortkominge te tob nie. Dis baie gerieflik om te sê jy het nie nou tyd nie, jy sal eendag begin werk aan jou humeur.

OPLOSSING: Wees gehoorsaam en werk daaraan

Dit help nie om net te weet wat die regte dinge is om te doen nie, jy moet dit dóén. As jy gewillig is, sal jy agterkom waaraan jy kan werk en hoe jy kan verbeter. Haal die blinde kolle uit jou lewe uit. Wees ’n slag 100% eerlik met jouself. Die waarheid sal jou vrymaak om die vervullende lewe te hê waarna jy smag.

Vertaal en verwerk uit Blind Spots Blocking God’s Work in You, deur Steve Arterburn.