Die brander breek deur die muurtjie

In die kusweg van die dorpie waardeur ek soms ry oppad werk toe maak die pad ‘n draai langs die see verby. Daar is ‘n klein muurtjie wat die see en die pad skei.

Gewoonlik lyk die water bedrieglik laag met sagte klein branders, maar keer op keer is die pad nat en die muurtjie stukkend. Het die gety gekom en sy eie pad gemaak.

Dis lentetyd. Kinders lag vrolik en pluk blomme. Die Kaap is koud maar dit keer die dogtertjies nie om steeds blommerokke te dra nie. Dis die grootmense wat swaarmoedig sug. Nog ‘n lente. Wat stilweg verlang na die tyd toe hulle ook opgewonde was oor lente. Dis alom bekend dat depressie en selfmoord die hoogtes inskiet juis in die lentetyd.

In die boek Eksodus raak God moeg vir sy volk. Moses pleit dat die Here hulle asseblief nie moet los nie. Dat hulle nêrens heen trek as God nie saamtrek nie.

Wanneer die opdraendes steil word en ons kragte min raak kry ek opnuut die bekende vers: “Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur My Gees.”
Ek sien die verpletterde strandmuurtjie raak en ek beleef iets van God wat keer op keer deurbreek. ‘n Pad maak teen die verwagting in.

Soms is ons ook maar nes die Israeliete. Verlore, hardkoppig, eiesinnig en tog so afhanklik. Is lentetyd ‘n nuwe begin maar net as ons God se hand vat.

Dis Hy wat ons ore kan oopmaak om die voëltjies te hoor, ons oë kan oopmaak om die nuwe groen blaartjies raak te sien en in ons hart vrede en vreugde kan plant. By Hom is geen muur te hoog nie en geen uitdaging te groot nie. Ons mag maar lente vier.