Die brein agter Procydin

0
719
Johan_Lottering.jpg

Johan Lottering het 15 jaar gelede besigheidsbesluite geneem wat vandag nog werk. Een daarvan is om ʼn oortrokke bankrekening te vermy …

Ek het Procydin ontwikkel omdat … ek my skoonma, wat op vyf en dertig al artritis gekry het, wou help. Die eerste stap was om die rou bestanddele aan te koop. Met internetnavorsing het ek ʼn maatskappy in die VSA gevind wat dit aan my kon verskaf. Aangesien ek ʼn gekwalifiseerde apteker is, kon ek die formule self ontwikkel. Sy het baie goeie resultate gekry nadat sy dit begin gebruik het.

Ons vervaardig die produkte … op ons perseel naby Port-Elizabeth, waar daar so 26 mense in die fabriek werk. Maar ek voer nog steeds die grondstowwe in van die buiteland. België en Indië is ons grootste verskaffers. Dan gaan ek gereeld na die jaarlikse farmaseutiese skou toe om op hoogte te bly van nuwe navorsing en produkte. Sodoende bly Procydin een van die top tien aanvullings in die land.

Die beste manier om jou voet in die deur te kry is om … in jou produk te glo. Ek het letterlik Procydin-kapsules in ’n koelsak gesit en by apteke ingestap om hulle meer te vertel daarvan. Dit het natuurlik in my guns getel dat ek self ’n apteker is. Sodoende kon ek uitwei oor die resultate wat mense kan verwag wanneer hulle dit drink.

Jy kan slegs nuwe kliënte werf en kontrakte sluit … wanneer jy geloofwaardig is. ’n Entrepreneur moet onthou daar is geen one size fits all besigheidsmodel nie. Jy kan net lojaliteit kweek as jy jou produk ken, daarin glo en eerlik is met jou kliënte. Dan sal hulle oop wees vir oortuiging. Moet nooit beloftes maak wat jy (of jou produk) nie kan nakom nie.

My personeel word beoordeel op … prestasie. Ek gee nie noodwendig vir almal bonusse nie, maar as hulle gesindheid positief is en hulle doen meer as wat verwag word, vergoed ek hulle. Die grootse gros mense werk al vir agt tot tien jaar by my. Ek kan eerlik sê dat my personeel my grootste bate is. My beleid is deurgaans, doen aan ander wat jy graag aan jouself gedoen wil hê.

Die internet is belangrik vir besigheidseienaars, want … dit speel toenemend ’n belangrike rol in hoe mense koop. Die wêreld is besig om te verander, ook in Suid-Afrika. Maak dus seker jou onderneming het ’n goeie webtuiste en ’n Facebook-blad. Dit help met die bewusmaking van jou produk, sowel as om inligting meer toeganklik vir potensiële kliënte te maak.