Die clichés van die liefde

0
157
huwelik.jpg

Liefde is die een taal wat deurtrek is van clichés. Maar is dit net mooi woorde of is dit die waarheid? Ons het lesers, kenners en ’n bekende of twee gevra of hulle saamstem met van hierdie gesegdes.

“Liefde met die eerste oogopslag”, “die man van haar drome”, “die pad na ’n man se hart is deur sy maag”. Dit is alles liefdesidiome wat ons links en regs gebruik sonder om oor die betekenis te dink. Watter van hierdie bevat enige waarheid en watter moet jy liewer ignoreer?

Sê elke dag ek het jou lief

“Dis ’n moeilike een,” sê Annelize Venter van Pretoria. “Vir baie mense is woorde baie belangrik. Ek het egter mettertyd geleer dat wanneer woorde soos ‘ek is lief vir jou’ te veel gebruik word, dit ’n gewoonte word en die betekenis daarvan verlore gaan. Party mense se dade beteken baie meer as hulle woorde. ’n Man kan ook sy liefde wys deur die manier waarop hy na jou kyk en goed wat hy vir jou doen.”

Jou man moet ook jou beste vriend wees

John Gray, skrywer van Men are from Mars, Women are from Venus, stem gedeeltelik saam: “Ek het nie ’n probleem daarmee as ’n egpaar beste vriende is nie, maar dit is belangrik dat jy steeds ander vriende ook moet hê. Jy het veral vriendinne nodig – ’n man kan maar net nie so lekker babbel soos ’n vrou nie. Iemand by wie jy raad kan kry en jou hart kan uitpraat as dinge te veel word.”

Absence makes the heart grow fonder

Lisa Koen van Welkom: “’n Paar jaar gelede het my man kontrakwerk in Koeweit gaan doen. Die salaris was uitstekend. Aan die begin was sy afwesigheid draaglik, maar na drie jaar was die gemis te veel. Ons het besluit ons huwelik en gesin is belangriker as geld. Nou is hy terug in die land en het ons baie minder geld, maar ten minste is hy daar om sy dogters langs die netbalveld te ondersteun.”

Jy kan leer om vir iemand lief te wees

Susan de Wet van Jeffreysbaai: “Dit is seker moontlik om mettertyd te leer om iemand lief te kry, maar vir my voel dit of jy tevrede is met tweede beste. Ek sal definitief nie met iemand trou voor ek nie lief is vir hom nie. Dit hoef nie liefde met die eerste oogopslag te wees nie, maar ek moet iemand met my hart en siel liefhê voor ek selfs in ’n vaste verhouding met hom kan gaan.”

Moet nooit kwaad gaan slaap nie

Huweliksberader Anja Fouché: “Dis nie goed om kwaad te gaan slaap nie, maar dit beteken nie julle moet elke probleem oplos voor jou kop die kussing raak nie. Selfs al is daar dinge waaroor julle nog vassit, behoort mense wat lief is vir mekaar, dit eenkant te kan sit tot julle tyd daarvoor het. Die meeste van ons is nie goed daarmee om emosionele onderwerpe laat in die aand te bespreek as ons moeg is nie.”

Kinders sal julle nader aan mekaar bring

Naomi Greyling van Belville: “Ek dink ons besluit om kinders aan te neem was wat ons uiteindelik laat skei het. Ons kon nie kinders hê nie. Ek het gedink kinders sal ons nader aan mekaar bring. Ek was verkeerd: die druk van ’n moeilike huwelik, spanningsvolle werk en die versorging van twee kinders is soms net te veel. Twee jaar nadat ons die kinders aangeneem het, is ons geskei. Vandag maak ek die tweeling alleen groot.”

Die liefde oorwin alles

Kliniese sielkundige Sandra Barnard: “Dit is ongelukkig nie die waarheid nie. Liefde is natuurlik ’n groot deel van enige verhouding, maar gedeelde waardes en ’n besluit om ’n huwelik te laat werk is onontbeerlik. As die gesinne van herkoms baie verskil, is liefde soms nie genoeg nie. Liefde oorwin nie mishandeling en verslawing nie. As julle verhouding so disfunksioneel raak, is dit nodig om so gou moontlik daaruit te kom. Niemand hoef in so ’n verhouding te bly nie.”

Na sewe jaar begin almal jeukerig raak

Anel Alexander: “My skoonpa sê altyd een van die duiwel se grootste wapens is ontevredenheid. Met my en James was dit ook so: Toe ons nog uitgegaan het, wou ons net trou. Toe ons trou, wou ons net ’n plekkie van ons eie hê; toe ons ’n plekkie huur, toe wil ons ’n huis koop. Ek dink nie dis verkeerd om drome te hê nie, solank jy en jou man saam droom en saam jeukerig raak.”
Daar het jy dit: Woorde is kosbaar, woorde is spesiaal, maar soms is woorde net woorde, veral as dit te veel gebruik word. Moet jou nie te veel aan clichés steur nie en tel jou woorde een vir een.

Verwerk en vertaal uit ’n artikel van Stacey Colino.

FORUM:
Met al hoe minder mense wat genoeg weggesit het om te kan aftree, gebeur dit al hoe meer dat ouers by hulle kinders intrek. Dink jy dis ’n goeie idee of kan dit julle huwelik benadeel as ’n bejaarde ouer by julle kom inwoon? Kliek hier en deel jou gedagtes en ondervinding.