Die dag toe my lewe werklik begin het

0
75
die-dag-toe-my-lewe-werklik.jpg

Ek gaan sterf, het hy 25 jaar gelede geglo. Maar vir Christo Greyling was dit die begin van ’n nuwe lewe. Vir mense wat as MIV-positief gediagnoseer word, word wanhoop met hoop verdryf omdat sý lewe daarvan getuig.

“Hoe lank?” vra ek met my hart in my keel. “Hoe lank gaan ek nog leef?” “Ek kan nie vir jou sê nie. Dit kan jare wees. Of maande.”

Dis asof die woorde nie werklik by my registreer nie. “Ek is jammer, meneer Greyling, jy is MIV-positief.” MIV-positief? MIV? Soos in vigs? Ek? Kán nie wees nie. Ek is ’n teologiestudent, vigs is iets vaags en ver van my ervaringsveld verwyderd.

Dis die tagtigerjare en daar is nie veel oor vigs bekend nie. Maar ék is nie heeltemal oningelig nie. My broer werk by ’n versekeringsmaatskappy wat dringend begin kennis neem van hierdie nuwe virus wat die wêreld verskrik laat regop sit het. Danksy hóm weet ek dis nie iets wat net met homoseksuele mans gebeur nie, maar ek weett ook baie goed wat mense gaan dink as hulle hiervan sou hoor …

Ek is ’n hemofilie-lyer; my broer ook.

“Jong, wéét jy dis moontlik vir ons om die virus deur ’n bloedoortapping op te doen?” het hy my voorheen al gewaarsku.

Maar natuurlik … wie verwag óóit om sulke nuus te kry?

Ek het nie eers geweet my dokter het my bloed dáárvoor getoets nie. Dit wás vir my vreemd dat hy my ontbied het om die uitslag van my bloedtoets te bespreek. Die toets was tog net roetine, iets wat ek van tyd tot tyd moes laat doen. Nie vir ’n oomblik het ek aan dié skrikwekkende moontlikheid gedink nie. 

“Dis beter om niemand daarvan te vertel nie,” gee die dokter raad. “Nie met die stigma wat daaraan kleef nie.” Ek bars nie in trane uit nie – ek begin net vrae vra. Ek wil dadelik weet wat vir my wag, wat ek aan die saak kan doen om dit reg te stel. Of dan ten minste te verbeter. Die dokter gaan haal vir my inligtingstukke wat my vrae kan beantwoord.

“Hoe lank?” vra ek met my hart in my keel. “Hoe lank gaan ek nog leef?” 

“Ek kan nie vir jou sê nie. Dit kan jare wees. Of maande. Drie maande, ses maande, wie weet? Hou jou maar reg daarvoor dat jy enige tyd kan begin siek word.”

Ek is vervaard daar uit, ek klim in my Volla en vat die pad terug Stellenbosch toe. Maar langs die pad tref dit my skielik – in my ontsteltenis het ek vergeet om die pamflette saam te vat. Ek wil dit hê, ek moet dit hê,  dis my anker daardie. Ek wil weet wat gaan aan, wat om te doen. Ek draai net daar om om dit te gaan haal.

Toe ek by die koshuis kom, sit my huismaats en kaart speel en koffie drink. Alles is so gewoon en tog sal niks weer dieselfde kan wees nie. “Wat sê hy? Wat sê die dokter?” wil hulle weet. ’n Doodgewone vraag – wat nie ’n doodgewone antwoord het nie. Ten spyte van die dokter se waarskuwing om dit geheim te hou, is ek glad nie voorbereid op hierdie vraag nie. “Vertel vir my die beste vigsgrap wat julle al ooit gehoor het,” stel ek voor, net om hulle daarna te skok. “Weet julle wat ís die beste vigsgrap? Dat ék vigs het.” 

Hulle lag nie. “Dis nie iets om ’n grap oor te maak nie,” word ek berispe.

Maar geleidelik, op hierdie tipiese Kaapse reëndag in September, dring die wrede waarheid tot my – en tot hulle – deur. Dit hét gebeur. Ek ís met MIV-positiewe bloed geïnfekteer. Ek gaan vigs kry. En sterf. Ek is 23 jaar oud en my lewe en toekomsdrome is verby.

Daardie dag leer ek hoe amazing ware vriende kan wees. Nooit, ook nie in die dae en maande daarna, verander my pêlle se houding teenoor my nie. Ek is natuurlik hipersensitief vir hulle optrede en hou hulle met valkoë dop. Hoe sien hulle my nou? Maar die ouens is net dáár vir my en tree normaal teenoor my op. “Moet ons nou vir jou ’n aparte koffiebeker uithou?” grap een van die ouens daardie dag in ’n poging om die spanning te verlig. Dit maak nie seer nie, want die manier waarop hy dit vra, neem die steek uit sy woorde.

[pagebreak]

Maar dit is ook presies die tipe ding waarvoor ek bang is.

Ek bel my broer om hom die nuus mee te deel. “Kom dadelik hier na my toe,” nooi hy. Wat ek daardie dag en in die jare daarna sonder my broer se ondersteuning sou gedoen het, weet ek nie.  

“Wat nou van Pa-hulle?” wonder ons saam toe die ergste storm uitgewoed is. Moet ek hulle vertel? Maar nee, ek kan dit nie doen nie. Ek kan nie my ouers oor die telefoon met hierdie nuus skok nie.

Glo my, al die teologiese opleiding in die wêreld kan ’n mens nie voorberei vir die oomblik wanneer jy met jou eie verganklikheid gekonfronteer word nie. Die vrae maal deur my kop. Waarom moes ék vigs kry? Wie sal my nou as predikant wil hê? ’n Predikant met vigs? Dis tog ondenkbaar. Wat van my toekoms? Wat van Liesel? Wat gaan van ons verhouding word?

 “Ek sal verstaan as jy nie meer met die verhouding wil voortgaan nie,” verduidelik ek ’n paar weke later vir Liesel. Maar hiervan wil sy nie hoor nie. “Ek was vir jou lief voordat jy gediagnoseer is. ’n Virus gaan niks daaraan verander nie.” Waar ek dalk nog huiwer, maak sy dit vir my makliker. “Hei! Jy’t my nog nie gevra om met jou te trou nie!” herinner sy my. Ons besluit om dit te waag, al weet ons nie hoe lank dit sal wees nie.

Maar wat van ons ouers? Moet ons hulle vertel wat werklik aangaan? “Miskien moet jy maar vir Pa vertel,” stel my broer voor. “En hom vra om dit vir Ma stil te hou.”

My arme pa is behoorlik ge-rattle toe hy daarvan hoor. Die nuus is te groot, te erg, te ontstellend om vir homself te hou. Sommer gou vertel hy my ma ook daarvan.

“Jy móét jou aanstaande skoonouers vertel,” gee my pa raad. Maar daarvoor sien ek nie kans nie. “Oom, Tannie, ek is MIV-positief en ek wil graag met julle dogter trou.” Nee! Dít kan ek nie doen nie.

“Dan kan ek julle nie trou nie,” laat hoor my pa. Maar Liesel wil nie kopgee nie; hierdie wonderlike vrou is vasbeslote om met my te trou. Eers maande na ons troue sou ons so ver kom om Liesel se ouers te vertel. Ons hou saam vakansie en probeer hulle voorberei op wat wag. Wanneer vigs ter sprake kom, voer ons hulle so subtiel moontlik met die regte inligting. Totdat ons uiteindelik die geheim met hulle deel. Natuurlik is dit vir hulle ’n geweldige skok, maar ook hier ervaar ek geen verwerping nie.

Ons trou op ’n Paassondag, my verjaarsdag. Paassondag, die dag van die Opstanding wat oorwinning en ’n nuwe begin simboliseer. Vir my is dit baie spesiaal – ’n wonderdag, ’n dag vol belofte en hoop.

[pagebreak]

Ons is omring deur vriende en familie. My pêlle is ook daar, my vorige huismaats. Hulle weet van my, maar hulle is daar om saam met ons fees te vier, saam met ons te hoop …

Dis ook waaroor my toespraak gaan – oor die hoop vir die toekoms. Ons begin ons lewe as man en vrou soos enige ander jong paartjie, behalwe vir die wete oor my status wat altyd deel van my lewe is. En natuurlik weet ons daar sal nooit vir ons kinders kan wees nie.

In my begin daar ’n brandende begeerte ontstaan. “Ek wil ’n verskil maak voordat ek sterf,” probeer ek vir Liesel verduidelik. “Ek wil oor vigs praat, ander help wat daaronder gebuk gaan, die vooroordeel beveg wat daar bestaan teenoor mense wat MIV-positief is. En ’n getuie wees.”

Daar kom ’n insinking in my gesondheid en ek sien die eerste waarskuwingstekens van vigs aan my liggaam.

En ek skrik.

Dit sal nie meer lank wees nie, besef ek, my siekte haal my in.

Dis Liesel wat nog vasskop. “Dit óópmaak? Vir almal vertel? Néé!” sê sy. “Ek sien nie kans daarvoor nie, ek wil nie op die voorblad van die koerant wees nie, dankie.”

Maar ek onthou wat ek reg aan die begin gebid het, die begeerte wat toe al by my opgekom het. “Gebruik my,” het ek toe gevra. “Hoe U dit gaan doen met my wat MIV positief is, sal net U weet!”

Ek kan nie langer stilbly nie. My tyd raak min.  En hoe meer mense ek in die geheim daarvan vertel, hoe groter is die kans dat dit sal uitlek. Ek bespreek dit eers met my kollega. “Jong, wat dink jy gaan gebeur as jy jou MIV-status bekendmaak?” vra hy.

Ons kan raai dat daar media-reaksie sal wees. Daarom nooi ons die pers om die oggenddiens in Windhoek-Wes-gemeente by te woon. Nog nooit voorheen was ek so bang voor ’n preek nie, maar ek moet eenvoudig my visie navolg voor dit te laat is. In my preek verwys ek na die waaroms van die lewe en beklemtoon ek dat daar altyd ’n “daarom” as antwoord is. Vandag nog kyk ek anders na die pyn waardeur ons hier op aarde gaan, weet ek dat dit nie verniet is nie.  

Na my preek daardie dag vertel ek vir my gemeente dat hulle predikant MIV-positief is. Wat ek verwag het, gebeur nie. Niemand storm by die kerk uit nie, niemand is veroordelend teenoor my nie. Daar is eerder deernis vir my, die trane vloei. Ek is diep dankbaar vir die positiewe manier waarop hierdie skoknuus aangehoor word, maar tog is daar iets wat my pla. “Dominee,” probeer een van die gemeentelede my na kerk welmenend troos, “met jou het ons simpatie. Jy is onskuldig. Maar daardie ánder mense – hulle het daarvoor gesoek.”

[pagebreak]

Net daar drop die pennie vir my – dis nié die boodskap wat moet uitgaan nie. Dikwels daarna sou ek dit teëkom, die vooroordeel wat daar bestaan teenoor mense wat vigs opdoen. Wanneer dit bekend word hoe ék dit opgedoen het, sou daar vir mý kwytskelding wees, want ek “was mos onskuldig”. Anders as “daardie ander mense”, dié wat daarna gesoek het en dit verdien het.

Ek besef presies hoe verkeerd hierdie houding is en dat daardie onderskeid nie getref behoort te word nie. Daarom vertel ek deesdae nie meer hoe ek aan MIV blootgestel is nie.

Daardie dag in Windhoek-Wes slaan ons lewens ’n nuwe rigting in. Eers was dit die “I have HOPE”-program wat ons landwyd kon aanbied. Daarna was ons by verskeie organisasies betrokke waardeur ons kerkleiers se harte en hande probeer verander het om betrokke te raak by werk ten opsigte van vigs. En toe gaan die deure by World Vision oop sodat ons wêreldwyd ons boodskap van hoop kan uitdra.

“Jy bereik in ’n paar jaar meer mense as wat ek in my hele bediening reggekry het,” het my pa eenkeer opgemerk. My MIV-status maak inderdaad  vir my deure oop om baie moedelose mense te bereik en hulle te verseker dat jou lewe nog nie verby is wanneer jy dáárdie tyding kry nie.

Ja, natuurlik hou die diagnose sekere verantwoordelikhede in. Geen mens mag roekeloos met die lewe omgaan nie, nog minder iemand wat met dié virus in sy bloed leef. MIV en vigs is ’n werklikheid, ook onder “ons” mense. Tog kan ’n mens so na as moontlik aan normaal daarmee saamleef. My eie lewe getuig immers van talle wonderwerke.

Ons was tevrede daarmee dat ons nooit ons eie kinders sou hê nie, ons het dit van die begin af so aanvaar. Maar toe wag daar ’n wonderlike verrassing op ons. 

Ons ontmoet ’n Amerikaanse egpaar wat dieselfde probleem as ons het, maar tog daarin geslaag het om twee gesonde kinders in die wêreld te bring.

“Dit ís moontlik,” word ons verseker toe ons begin navraag doen. En in ons ontspring daar ’n vlammetjie van hoop, ’n vlammetjie wat nie gedoof wil word nie. Voordat ons verder kan gaan, moet ek antiretrovirale middels drink totdat die virus feitlik onnaspeurlik in my bloed sal wees. Ek huiwer, dié behandeling het voorheen newe-effekte gehad wat my siek gemaak het. So staan ek eendag met die hand vol pille in die kombuis. “Moet ek nou die pille drink?” wil ek by Liesel weet.

Maar ons besluit is geneem – ons gaan probeer.

Die eerste drie maande nadat Liesel swanger geraak het, is seker van die langstes in my lewe. Daardie eerste hartkloppie, die wete van die baba wat aan die kom is, was een van die mees emosionele ervarings wat ek ooit gehad het.

[pagebreak]

Liesel verwag ’n baba! Ons baba. Dis wonderlik! Dis fantasties! Maar die spanning en onsekerheid vreet ons op. Het ek haar geïnfekteer? En wat van die baba? Ons wéét eenvoudig nie.

En toe, soos ons vertrou het, kry ons die goeie nuus. Liesel is MIV-negatief. Ons is só verlig, só dankbaar. Uiteindelik kan ons ons ouers vertel. “Pa! Ma! Sit julle? Julle gaan ouma en ouma word. Ons verwag ’n baba!” Die vrae reën op ons. Eers toe ons hulle gerusgestel het, breek die vreugde deur.

Vandat ek gediagnoseer is, was daar al talle wonderwerke, maar die wonderwerk van ons gesonde dogtertjie se geboorte was seker die grootste daarvan. En dit was nie die laaste keer dat so iets sou gebeur nie. Twee jaar later is haar sussie ook MIV-negatief gebore.

Ek kyk terug oor my lewe tot dusver en die dankbaarheid vir wat ek ten spyte van my siekte kon bereik, spoel oor my.