Die dag toe Pietie oorgeslaan is

Hoewel die verhaaltjie wat hier afspeel nie noodwendig die norm is nie en daar werklik diegene is wat met baie opregte harte baie goeie werk onder swaarkry-mense doen, het die verhaaltjie wat volg werklik plaasgevind…

Dit was ‘n gewone Septemberdag so ‘n jaar – dalk twee jaar gelede. Maar aan September is daar niks gewoon nie. Dis die tyd van nuwe lewe … lente-bloeisels … amper eksamen … amper einde van die jaar en amper Kersfees.

En as dit amper Kersfees is daar in Elandspoort se geweste, kom Ooms en Tannies van ver af met die voorneme om later Kersgeskenke te bring. Eers moet hulle name kry, want hulle moet mos darem weet vir wie hulle die Kersgeskenke wil gee.

Dit was juis in die tyd van name insamel dat Tannie Lielie ook haar kwota name kom soek het. Tannie Lielie was egter nie tevrede met net name nie. Nee, hierdie name moes beslis ‘n foto’tjie bykry, want elke gewer van daar doer ver moet mos darem in staat wees om self te besluit watter mooi kinder gesiggie die blye ontvanger van sy spesifieke weldaad moet wees.

Wanneer elke sorgvuldig toegedraaide geskenke met sy gekose ontvanger se foto op by die vragmotor aankom, is dit gewoonlik duidelik dat die gewers nie skaam was oor die grootte en prys nie. Ongelukkig is dit op hierdie punt waar dinge soms lelik skeef loop. Want sien, tussen die foto’s het Pietie s’n gepryk. Net nie so mooi, oulik soos die ander nie. Pietie’tjie se ogie hang so effens, en hy is al so ‘n aksie meer gevorderd in ouderdom as die res. En hy word oorgesien.

Een vir een bly die gewers van doer ver verby sy foto blaai. Kies liewer sy mooie sussie. Of een van sy maatjies. Die maand of twee voor Kersfees warrel verby in die harwar van laaste dinge wat nog gedoen moet word voor die oordadigheid van Kersfees die wêreld tref. Dan breek die groot dag aan, net so ‘n bietjie minder as ‘n week voor Kersfees, wanneer man en muis (en natuurlik al die kinders) uit die omgewing by ‘n plaaslike sopkombuis saamtrek om te kyk watter geskenke elke kind kry.

So met die opgewondenheid van alles wat moet gebeur, word die Bybel en die rede waarom alles gaan so half per ongeluk een kant toe geskuif, maar dis darem seker nie die ergste nie. Anderdag is daar mos weer tyd om daaraan aandag te gee. Die geskenke word uitgedeel.

Pietie se sussie se naam word uitgeroep. Haar pragtige foto’tjie pryk op ‘n reuse groot geskenkpakkie wat sy stralend by Tannie Lielie ontvang, terwyl videograaf en fotograaf en al wat ander graaf is fluks op hulle pos staan en seker maak dat die oomblik verewig word sodat die wêreld daar buite later op sosiale media kan duimpies en hartjies klik. ‘n Volgende gesiggie word geroep. Weer is al die grawe op hulle pos om die oomblik te verewig.

Dan weer ‘n stralende gesiggie. Pietie bly sit. Hoopvol. Die hoop beskaam immers nie. Of dalk doen dit? Uiteindelik is daar net ‘n paar geskenke oor, maar die gelukkige ontvangers skitter in hulle afwesigheid. Hulle geskenke word weer teruggeplaas in die vragmotor om terug te keer na waar dit vandaan gekom het. Pietie sit een kant, trane vlak in sy oë.

‘Kan ons nie maar een van die afwesiges se geskenk vir Pietie gee nie? Kosie is darem mos net so oud soos Pietie.’

Maar die bekommerde omstander se praktiese oplossing vir Pietie se dilemma word half hardhandig in die wind geslaan: ‘Onder geen omstandighede nie. Elke geskenk is bedoel vir die foto buite op sy toedraaisel en vir niemand anders nie. Buitendien. Julle het mos geweet daar’s nie vir Pietie iets nie. Waarom het julle hom nie by sy huis laat bly nie?’