Die dieet wat jou jonk maak

0
42
dieet_wat_jonk_maak.jpg

Kosmetiese dokters onthul: Die geheim van ewige jeug kom dalk uit jou yskas. Vind nou uit wat jy kan doen om die wysters van Vader Tyd terug te draai.

Lees die volgende sewe vrae en merk telkens die antwoord wat die beste by jou pas. Stel vas of jou dieet jou jonk hou of voortydig oud laat lyk en volg ons maklike wenke sodat jy langer mooi kan bly.

Vir ontbyt eet ek
A koffie en beskuit
B niks
C mikrogolfhawermoutpap
D ’n volgraanbroodjie met grondboontjiebotter

Na my oefensessie gryp ek na
A yskoffie met room
B ’n sjokoladeryskoekie
C ’n vrug
D ’n handjievol droëvrugte en neute

Vir middagete bestel ek
A kaasburger en skyfies
B groentepasta
C slaai met ham, kaas en slaaisous
D vegetariese pizza

Na ’n swaar middagete
A eet ek na hartelus, my dieetvoornemens is reeds na die maan
B eet ek nie weer nie
C eet ek nie aandete nie, maar krap laataand in die lekkergoedkas
D eet ek ’n klein, ligte aandete

Ek is lus vir ’n soetigheidjie en bevredig die behoefte met
A ’n sjokoladestafie
B ’n supermark-tiramisu in ’n enkel porsie
C aarbeie in donkersjokolade gedoop
D ’n vrug, nie soetgoed nie

Die melk in my yskas is
A volroommelk
B 2% melk
C afgeroomde melk
D soja- of rysmelk

My dieet bestaan meestal uit
A restaurantkos
B ’n mikrogolfete
C tofu, wit vleis, neute
D vars groente en gestoomde vis

Ek drink graag
A gaskoeldrank
B sportdrankies
C water
D groentee

Meestal A’s As jy sukkel met ’n puisie hier en daar, sakke onder jou oë en plooie wat opvallender raak, kort jou kombuiskaste ’n mooimaaksessie. Alles wat ’n mens eet, word in jou liggaam afgebreek tot suiker (glukose). Glukose beskadig die kollageen en elastien, wat veroorsaak dat jou vel verdun en inflammasie kry. Stabiliseer jou bloedsuiker deur gereeld aan klein porsies vrugte of groente te peusel. Kos vol kunsmatige kleur-, geur- en preserveermiddels irriteer jou vel en lei tot velaandoenings.

Meestal B’s Jou vel het lus vir ’n mooilyk-eetplan. Moenie ontbyt oorslaan nie en sluit proteïene in, soos grondboontjiebotter of Griekse jogurt. Jou hare, vel en naels is immers uit proteïene saamgestel en sal sodoende versterk word. Suiwel word al hoe meer met allergieë in verband gebring en saam met stysel kan dit moontlik ook veroorsaak dat jou vel te veel olie produseer. Gebruik minder suiwel en eerder plaasvervangers soos rysmelk.

Meestal C’s Pasop vir kwaaddoeners wat gekamoefleer is asof dit gesond is, soos tamatiesous of sojasous (by soesji). Slaai- en tamatiesous, asook appels, bevat baie vrugtesuiker (fruktose), wat jou vel van binne aftakel. Volgens die Hollywood-dermatoloog dr. Jessica Wu, bevat twee appels dieselfde hoeveelheid fruktose as ’n blikkie gaskoeldrank! Laefruktosevrugte soos aarbeie is beter. Gepekelde en gegiste kossoorte soos tofu, sojasous en bier kan rooi velirritasies veroorsaak.

Meestal D’s Jy het goeie instinkte. Die kos wat jou maer hou, is dikwels die kos wat jou mooi hou. Spasieer etes drie of vier uur uitmekaar sodat jy nie erge hongerpyne kry nie – ’n stabiele bloedsuikervlak beskerm kollageenproduksie. ’n Mens het nie inspuitings en duur velrome nodig om goed te lyk nie. As jy nie reg eet nie, sal die beste estetiese behandelings nie veel beteken nie.

Gee jou skoonheidsdieet ’n hupstoot met velvoedingstowwe

  • Elizabeth Arden Skin Illuminating Emulsion (R545 by uitgesoekte kettingwinkels) bevat bitterlemoenekstrak om jou velkleur eweredig te hou.
  • Garnier Skin Naturals Pure Active Exfoliating Gel (R69,95 by kettingwinkels landswyd) gebruik pomelo om jou porieë van onsuiwerhede te reinig.
  • Payot Paris My Payot Mask (R295 by uitgesoekte salonne) verhelder ’n vaal gelaatskleur met die ‘supervrugte’ goji- en acai-bessies.
  • Ren Bio Retinoid Anti-Ageing Concentrate (R679 beskikbaar by Woolworths, Foschini en Stuttafords) het dramatiese verjongingseffekte sonder die irritasie wat retinol gewoonlik veroorsaak. Dit bevat ook omega 7-vetsure afkomstig van makadamia-olie.
     

BRON: Feed your Face, dr. Jessica Wu