Die dokter wou my laat aborteer

0
54
aborteer.jpg

Die dokter weet die beste ... gelukkig het Cara Barnard se ma nie na háár dokter se raad geluister nie.

Liewe Dokter
Ek wonder of jy nog kan onthou? Dis nou al meer as 17 jaar gelede, maar dit was die beste dag in my lewe, al was ek toe nog nie gebore nie. Jy wou dit sommer nog dieselfde dag doen, want “hoe eerder, hoe beter”. Dis net ’n “blob”, het jy vir my ma gesê, ’n aborsie is glad nie so erg nie…

Dit was my ma se tweede swangerskap, en al was sy dalk beter voorbereid op wat vir haar gewag het, was daar sommer vroeg al ’n geweldige uitdaging. Toe sy sewe weke swanger was met my, het sy Duitse masels opgedoen. Jy het verduidelik dat dit ernstige komplikasies kan veroorsaak soos doofheid, blindheid, hartprobleme, verstandelike gestremdheid…die lys was baie lank. Daarom wou jy hê my ma-hulle moes sommer daardie middag al die dokumente vir ’n wettige aborsie onderteken.

My ouers het daarteen besluit. Hulle het geglo God het ’n lewe geskep, nie ’n “blob” nie. My ma het ook vasgehou aan die teks wat sê ons sal nooit bo ons vermoëns beproef word nie. Wat die komplikasies ook al sou wees, sy het geglo dat sy die krag, insig en wysheid sou kry om dit te hanteer.

Daar was wel ’n paar benoude oomblikke tydens my ma se swangerskap, en boonop het sy op sewe maande waterpokkies gekry. Die geboorte was traumaties. Ek is “dood” gebore omdat my naelstring gedisintegreer het. Die pediater moes my resussiteer. Op vier weke het ek hartversaking gehad en ’n noodoperasie het gevolg. Maar die wonderwerke in my lewe loop soos ’n goue draad deur al die beproewinge. Ek het volkome herstel!

cara.jpgOngelukkig het die trauma wel ’n paar “merke” gelos. Ek het 95 persent gehoorverlies in albei my ore, en daar is oral littekens op my oë se retinas. Op my makula (geelvlek) is daar egter geen littekens nie. As daar was, sou ek blind gewees het. Weereens ’n wonderwerk.

Alles was nie altyd maklik nie, en daar was kere dat ek gewonder het hoekom dit met my moes gebeur het. Hoekom is ek gehoorgestremd? Maar ek het geleer om vrede daarmee te maak; daar is ’n rede vir alles, al weet ek nie wat die rede is nie. Daar het wel al iets gebeur wat alles die moeite werd maak. Een van my pa se kollegas het die storie van my ma se moeilike swangerskap gehoor, en alles wat daarna gebeur het. Dit het hom so aangeraak dat hy besluit het om sy lewe vir die Here te gee. God het my reeds gebruik om iemand se lewe te verander, en dit is vir my baie kosbaar.

My gesin (ons is drie dogters) behandel my so normaal moontlik. Natuurlik is hulle soms meer beskermend, soos wanneer ek swem en nie my gehoorapparate kan dra nie. Hulle is ook versigtig om my nie te laat skrik nie, want ek kan byvoorbeeld nie hoor as iemand by my kamer inkom nie. Verder praat hulle hard en duidelik en maak oogkontak sodat ek hulle lippe kan sien – met my gehoorapparate het ek ongeveer 40 tot 50 persent gehoor. My ma het besluit om my te leer hoor en praat en ek is nog altyd in ’n hoofstroomskool.

Verlede jaar was ek selfs vir twee weke saam met my skool oorsee. My ma was baie bekommerd, maar ek het haar verseker ek sal reg wees. Sy is dan die een wat my voor elke uitdaging herinner: “Kyk terug, die Here sal jou mos nie nou in die steek laat nie!” Dis juis na daardie ervaring dat die reisgogga my behoorlik gebyt het – ek wil nog die wêreld vol reis. My pa reis ook baie en ons is nogal ’n bedrywige gesin. Naweke gaan ons plaas toe en hou piekniek, vang vis en kuier om die kampvuur. Ek droom daarvan om eendag my eie, avontuurlustige gesin te hê.

Intussen sorg ek dat my skoolwerk aandag kry en geniet dit baie om ballet te doen. Ek dans al van kleins af en het baie goed gevaar in die eksamens wat ek tot dusver gedans het. Ek is mal daaroor!

Al hierdie wonderlike dinge sou nooit gebeur het as my ma-hulle na jou geluister het nie, Dokter. Ek is nie kwaad vir jou nie, ek is seker jy was oortuig dat dit die beste ding was om te doen, maar ek het geleer dat geen mens die reg het om oor lewe en dood te besluit nie. God het ’n doel met elke lewe wat Hy skep. Ek is so dankbaar teenoor my ouers wat so dapper was. En ook teenoor die pediater wat my by geboorte gered het en die pediatriese kardioloog wat my hartprobleem reggestel het. Hierdie mense was die instrumente wat meegehelp het dat ek vandag met hoofletters lewe!

Liefde
Cara