Die wyse donkie, trap uitdagings plat

80
Jaco Strydom
Jaco Strydom

Een van my gunstelingverhale gaan oor ’n baie slim donkie. Sy hele lewe lank moes hy ’n donkiekar sleep. Laat een nag val hy in ’n baie diep gat. Sy eienaar en die ander mense op die wa was woedend.

Ná ’n groot gesukkel om die donkie uit die gat te kry, gee hulle moed op.

“Kom ons gooi die gat met die donkie in toe, dan slaan ons twee vlieë met een klap,” sê die eienaar, “dis in elk geval tyd vir ’n nuwe donkie”.

Die donkie was baie hartseer toe hy die woorde van sy eienaar hoor. Sy lewe lank werk hy hom dood en nou wil hulle hom lewendig begrawe. Maar toe, net voor hy finaal opgee, maak hy ’n blink plan.

Elke keer wat die mense ’n graaf sand of klippe op hom gooi, wikkel hy sy lyf en skud sy kop sodat dit van hom af val, en trap dit dan vas onder sy voete.

Die mense was so besig om grond en klippe te gooi dat hulle nie agtergekom het dat die gat al vlakker word nie. Voor hulle kon keer spring die donkie uit die gat en hardloop die donker in. Vir die eerste keer was hy vry. Die storie van die slim donkie, laat my dink aan Maya Angelou se gedig:

You may write me down in history With your bitter, twisted lies, You may trod me in the very dirt But still, like dust, I’ll rise.

Dwarsdeur die eeue fassineer hierdie soort stories ons.

Verhale van mense wat bo hulle omstandighede kon uitstyg. Dikwels nie net “ten spyte van” die moeilikheid wat oor hulle pad gekom het nie, maar dikwels “as gevolg daarvan”.

Die heel eerste ding wat die Bybel ons oor God vertel, is dat Hy kreatief besig is. Hy maak iets uit niks, lig uit duisternis, iets goeds uit ’n klomp chaos.

Die heel eerste ding wat ons oor onsself in die Bybel leer, is dat ons na God se beeld geskape is en dan, soos die Bybelse verhaal ontvou, ontdek ons dat God deur die eeue mense kies om presies dít te doen.

Dis juis wat die Bybelse helde gedoen het met die moeilikheid wat na hulle kant toe gekom het, wat maak dat ons hulle name onthou.

Dawid word onthou vir die feit dat hy ’n reus oorwin het, Jona omdat ’n vis hom ingesluk het, Noag omdat hy ’n vloed getrotseer het, Stefanus omdat hy met klippe gegooi is.

In die woorde van Nikki Rowe: “The real heroes are those who rebuild their lives using adversity as a stepping stone to greatness in the midst of the chaos life has thrown at them.”

Die beste voorbeeld is egter Jesus wat die kruis, ’n martelinstrument, gebruik om sy boodskap van liefde en nuwe lewe die wêreld in te stuur.

Ons getuienis maak dikwels die meeste saak, wanneer moeilikheid oor ons pad kom.


JACO STRYDOM
is ’n predikant in Pretoria, blogger en leier van die Echo-gemeenskap.

E-boek: Confessions oor kerkwees
“Dit sal jou uitdaag, roer en diep aan die dink sit” – Staphan Joubert
Koop aanlyn op Voelgoedboeke, kliek HIER.
R94 R119