Die een dieet wat régtig werk

0
113
Nicole_Flint.jpg

Al het ons almal al ’n kitsdieet probeer, glo Nicole Flint, gewese Mej. Suid-Afrika, slegs aan een eetprogram.

As tiener was ek nie oorgewig nie; nogtans het ek met allerhande diëte geëksperimenteer. Op skool is daar baie druk op jou om goed te lyk. ’n Mens moet aanvaar tienermeisies gaan die een of ander tyd soek na vinnige maniere om gewig te verloor. Ek kon egter nie by enigeen van hulle bly nie, ek is te lief vir kos! In plaas daarvan het ek myself begin leer om gesond te eet deur byvoorbeeld hawermoutpap sonder suiker of botter te eet. Ek drink ook nie suiker in my koffie nie. Jy maak jou liggaam gewoond aan sulke klein dingetjies, eerder as om groot veranderings te probeer maak en daarin te misluk.

Dis vir my ongelooflik om te sien hoe ’n kragtige uitwerking diëte op mense het. Ek het Exclusive Books besoek omtrent ’n week nadat Tim Noakes se The Real Meal Revolution vrygestel is. In die 15 minute wat ek daar was, het talle mense oor die boek kom navraag doen en dit gekoop. In daardie stadium het ek self nie eers geweet wat dit behels nie. Ek sien dus hoeveel vroue die begeerte het om maer te wees, en hoe vinnig ’n nuwe dieet of eetplan na dié uitweg klink.

Ons ken natuurlik almal daardie kitsdiëte – goed soos om slegs pomelo’s te eet of om dae lank te detoks. Sulke diëte werk vir miskien een uit tien mense. Die ergste is mense wéét hierdie diëte gooi net jou metabolisme omver en jy sit weer al die gewig aan daarna. Tog swig ons keer op keer daarvoor. Ons laat toe dat die media en die samelewing ons intimideer om op ’n sekere manier te lyk en op te tree. Ons omhels nie onsself vir wie ons is nie.

Die een dieet waaraan ek vas glo, is Weigh-Less. My ma het tydens my jaar as Mej. SA in 2010 baie gewig aangesit weens stres. Die volgende jaar het sy besluit om halt te roep en Weigh-Less se eetprogram aangepak. Sy het amper 20 kg in ses maande verloor – sonder om eers gereeld te oefen. Dié program word pasgemaak volgens elke persoon se behoefte. Dit skakel ook geen kosse of voedselgroepe soos stysel uit nie. In die begin was dit nogal tydrowend vir haar om die porsies af te weeg, maar jy kom gou in die roetine. Later hoef jy nie eers meer die skaaltjie te gebruik nie. Ons hele gesin het naderhand saam met haar die eetprogram gevolg! Dit was deur en deur die moeite werd.