Die einde van seisoen uitverkoping

Daar is min dinge wat enige vrou so opgewonde maak soos ’n 75% afslag teken op die venster van ’n winkel.

Ewe skielik dink jy nie twee maal om daardie rokkie of paar skoene wat jy so lankal begeer in die mandjie te gooi nie… Die winkeltrollie se wiele sing net so hard soos jou opgewonde hartjie soos jy dit deur die paadjies van die winkel stoot.

Wat ons telkemale vergeet, is dat die winkel nie ’n uitverkoping hou omdat hulle jou ’n guns wil doen nie. ’n Uitverkoping is ’n besigheidsbesluit, soms moet ’n winkel van voorraad ontslae raak wat nie vir hulle winsgewend is nie. Wintersklere gaan definitief nie in die somer verkoop nie. Seisoene verander, modes verander en voorraad wat nie verkoop nie, staan bekend as “dead stock”, dit het geen besigheidsbelang nie.

Soms wonder ek hoe veel te meer ons lewens “winsgewend” kan wees as ons net bereid is om van al die kleinighede ontslae te raak wat ons weerhou om vorentoe te beweeg. Daardie dooie voorraad wat lekkerlik ons ontneem van al ons energie en ons weerhou om in elke area van ons lewens te floreer.

Die laaste paar maande was waarlik vir my ’n seisoen van introspeksie. Wat weerhou my, Here? Lei my Heilige Gees! Dit is so wonderlik dat God getrou is en deur Sy Gees dinge aan ons openbaar sodra ons Hom vra.

Wat weerhou jou? Is dit daardie gemaksone in jou werk wat jou weerhou om braaf te wees, uit te stap en die beste weergawe van jouself te word? Is dit vrees vir die onbekende of vrees vir teleurstelling? Is dit ’n houding van hipersensitiwiteit omdat wonde van die verlede nooit genees is nie? Het jy al daaraan gedink om jouself en nie net ander te vergewe nie? Is jy dalk net bang vir alleen wees?

Elke huis het sy kruis en soms gaar ons soveel negatiewe denke en emosies op dat ons lewens nooit vorentoe kan beweeg nie.

Vandag daag ek jou uit, doen ’n voorraadopname van dit wat in jou lewe belê is, besluit om dit wat reeds uit seisoen is agter te laat, dit wat nie winsgewend is nie op uitverkoping te plaas. Jy is dit werd! Wat is meer verfrissend en gee mens weer ’n huppel in jou stap soos ’n “Spring clean”?

Filippense 3:13 “Ek verbeel my nie dat ek al alles het nie, maar een ding doen ek: Ek maak my LOS van wat agter is en STREK my uit na wat voor my is…”