Die engele voor Gerhard Steyn

0
429
gerhard.png

Ons gaan almal een of ander tyd deur ’n geestelike worsteling. Gerhard Steyn onthou hoe hy gevra het “Here waar is U?”

Gerhard Steyn is nie net een van ons land se gewildste sangers nie; hy hou ook deesdae sy lyf akteur. In die fliek Forsaken, wat in April in teaters begin draai, worstel sy karakter met die vraag waaroor ons almal die een of ander tyd wonder: “Wáár is God as jy Hom nodig het?” Gerhard het self ook al hiermee geworstel… en in ’n oomblik van helderheid ’n verrassende antwoord gekry.

Trauma kan jou geloof heeltemal laat ontspoor of jou opnuut op koers bring. Was jy al in ’n situasie waar jou geloof tot die uiterste beproef is?

Ons hoor altyd van ander mense wat deur die misdaad in ons land geraak word, maar as dit nog nie met jou gebeur het nie, raak jy op jou gemak. Laks. Dalk té ontspanne. Dit is wat my ’n paar jaar gelede oorgekom het.

Ek het pas in ’n splinternuwe huis aan die Oos-Rand ingetrek. Na ’n lekker aand van braai en kuier saam met vriende, was ek doodmoeg en het sommer net op die bed neergeval, sonder om te kyk of die deure gesluit en die vensters toe was. Dit was in elk geval te warm op dié snikhete somersnag om alles toe te maak. Die oop skuifdeur in my kamer wat op die balkon uitloop, het ’n bietjie lafenis gebring.

My ooglede het skaars toegeval toe ek kon aanvoel dat daar iewers in die kamer ’n lig aan was. Ek kon nie uitpluis waar dit vandaan kom nie. Ek het mos die TV en al die ligte afgeskakel?

Daar was net een manier om uit te vind. Al was ek doodmoeg, ek het geweet ek sou moes opstaan en gaan seker maak… maar net toe ek op my sy wou draai om regop te kom, voel ek dit. Daar was ’n rewolwer teen my kop! Ek kon voel hoe die koue loop teen my vel druk. Ek was die slagoffer van ’n gewapende roof.

In ’n oogwink word jy verlam deur skok en vrees… en dan begin jou brein oortyd werk en die realiteit skop in. Hoe? Wie? Waar? Hoekom? Dit tref my soos ’n skoot koue water in die gesig. Die twee rowers wat hier in my kamer is, het waarskynlik heelaand op die balkon geskuil en hulle kans afgewag om by die oop skuifdeur in te glip! Die deur wat ek eers nou-nou wou toemaak…

“Don’t fight,” sis die rewolwer-man in ’n waarskuwende toon. “If you fight, you won’t survive this.” Ek kan hoor hy bedoel elke woord. My eerste reaksie is om op te spring, maar die vuurwapen teen my kop hou my teë. Honderde vrae en opsies hardloop deur my gedagtes. Moet ek myself probeer verdedig? Moet ek my aanvallers probeer oorrompel? Ek oorweeg albei.

Of dalk kan ek die twee om hulle nekke gryp en ons al drie van die balkon afgooi, binne-in die swembad op die grondvloer? Gelukkig hou ek kop en besef dit gaan nie nóú oor manhaftig wees nie. Dit gaan daaroor om die regte besluit te neem. In hiérdie geval, met twee gewapende mans wat my lewe bedreig, was dit beter om saam te werk as om my braaf te probeer hou.

Soos jou karakter in Forsaken, is jy ook uitgesproke oor jou geloof. Tog, wanneer slegte dinge gebeur, twyfel ons. Was dit ook daardie aand die geval?

Ek onthou dat ek begin bid het: “Here, as daar enigiets in my lewe is wat nie reg is vandag nie, maak ek dit hiér en nóú reg. Beskerm my, Vader. En vergewe hierdie mense, want hulle weet nie wat hulle doen nie.”

Die twee inbrekers was arrogant. Sonder enige respek. Alles is oopgeruk en uitgegooi. Die een het my kom vra vir ’n das, maar ek dra nie dasse nie en moes mooi dink of ek hoegenaamd nog ’n das besit en waar dit gebêre sou wees. Ek het “ge-um” en “ge-aa” en toe gesê: “Ek dink dit hang in daai kas.” Ek kon sien hoe kwaad hy word. Hy het gedink ek hou hom vir die gek.

Toe hy uiteindelik ’n paar dasse in die hande kry, is my arms en bene hardhandig vasgebind. Styf en seer. ’n Duvet is oor my kop getrek, maar ek het dit met ’n swaaibeweging van my lyf afgegooi. Ek wou sién wat hulle doen. Ek wou vir hulle wys ek is nie bang nie. Ek wéét mos waar my krag vandaan kom. Wonder bo wonder het hulle laat my begaan.

Die twee het na hartelus voortgesteel, al het hulle op ’n afstand gebly. Op en af met die trappe. Deure wat oop en toe klap. Een van die rowers het hoorbaar opgewonde geraak toe hy die swart BMW M6 in die garage sien. My droommotor. Die een waarvoor ek baie lank en baie hard gewerk het. Dis ironies hoe misdadigers nie net jou goed steel nie, maar ook jou drome. My duur klanksisteem waarvoor ek ook stuk-stuk gespaar en stelselmatig opgebou het, word in ’n oogwink weggedra.

Waar is U, Here? My arms, wat agter my rug vasgebind is, het nou ondraaglik seer begin word. Ek het ’n paar jaar tevore ’n skouerbesering opgedoen, en nou kon ek weer voel hoe die pyn deur my lyf klop. Dit was asof my liggaam se raamwerk in ’n ander vorm ingedwing word.

“Can you please untie me,” vra ek mooi. Ek wou sterf van die pyn. Here, help my! Ek het nie dadelik besef hoe ongewoon die rower se antwoord was nie. “No, I’m too scared,” sê hy, op ’n afstand. Naderhand, uit pure moedeloosheid, bid ek driftiger: “Here, ek sal seker nie vanaand weet hoekom hierdie ding gebeur nie, maar ek wil net vir U vra: Is U by my?” En toe voeg ek kwaad en teleurgesteld by: “Vader, ek ervaar U dan nie hier nie. Waar is U engele? Hoekom voel ek hulle nie by my nie? WAAR IS U?”

Wat was vir jou die keerpunt, die oomblik toe jy, soos jou fliekkarakter, skielik besef het: “Hy’s tóg daar as ons Hom nodig het?”

Ek sal dit nooit vergeet nie. Die Here het my vlaag van hoekoms en waaroms stil in my binneste kom antwoord met net een woord: “Kyk.” En toe kýk ek. Vir een vlietende oomblik het Hy die onmoontlike laat gebeur. My geestesoë is oopgemaak en ek kon die situasie vanuit ’n hemelse perspektief sien. Die Here het my iets laat aanskou wat ek nie in my wildste drome sou verwag het nie.

Ek het die vae vorms van groot hemelwesens van agter af gesien… engele… en hulle was nie by mý nie, hulle was by die rowers! Hulle het voor die rowers gestaan soos ’n onsigbare, ondeurdringbare skans waardeur my aanvallers nie kon of wóú breek nie. Hulle teenwoordigheid in die vertrek het gekeer dat die rowers my iets aandoen.

Skielik het ek besef wat hier aan die gang was. God wéét wat besig is om te gebeur, en Hy is hiér. Hy beskerm my. Niemand kan ’n vinger teen my lig as dit buite Sy wil is nie. Hy het die laaste sê.

Skielik het die rower se woorde, “ek is bang”, sin gemaak. Ek het ook verstaan hoekom nie een van hulle weer naby my gekom het nie. In die drie en ’n half uur wat hulle alles in die huis omgekeer het, was hulle nie een keer nader as vyf treë van my af nie… want God se engele het dit verhoed! Dit was ’n ongelooflike gewaarwording: God is wérklik in beheer van elke situasie.

Die rowers is uiteindelik daar weg met my motor en derduisende rande se goed, maar my geloof was onaangeraak. Dit het nie gekwyn as gevolg van die inbraak nie, dit het gegroei!

Jou fliekkarakter vind uiteindelik vrede. Hoe het jý vrede gevind na die aanval, en hoe het dit jou as mens geraak?

Ek vra steeds vrae en ek word steeds kwaad. Misdaad is sinneloos, soos ek opnuut besef het by ’n begrafnis wat ek ’n ruk gelede bygewoon het. As reël sing ek nooit op begrafnisse nie, maar hierdie keer was anders. Ek het dwarsdeur die singery swaar gesluk aan my trane. Twee bejaarde mense is oorrompel, vasgebind en herhaaldelik met skroewedraaiers gesteek. Hulle was magteloos. Toe die oom se dogter hom boonop bel, onbewus van wat besig was om met haar pa te gebeur, het een van die aanvallers sy selfoon opgetel en haar uitgelag. Dit was demonies. Onmenslik. Hierdie twee mense se lot was veel erger as my eie.

Die begrafnis het my opnuut herinner aan wat dit geverg het om self geestelik en emosioneel gesond te word. Maande lank was ek oortuig ek is oukei. Dit was amper asof ek vergeet het wat daardie aand gebeur het. Ek het bykans nooit daaroor gedink of gepraat nie.

Om heeltemal gesond te word, moes ek leer om oor my trauma te praat; rasioneel daaroor te dink. Hoe meer ek dit gedoen het, hoe minder het die angsaanvalle geword. Later het dit heeltemal verdwyn. Ek moes ook my aanvallers vergewe en vryspreek – ’n doelbewuste keuse. Dít was die deurslaggewende faktor om vrede in my gemoed te kry.

Vandag vra ek steeds, net soos almal: Wanneer hou dit op en wat kan ons omtrent misdaad doen? Maar ek het ook ’n paar vrae van my eie bygevoeg: Moet ons regtig net stilsit en niks doen nie? Gaan dit regtig help om optogte te hou en plakkate rond te swaai? Ons het nie pangas en kieries nie, so, gaan ons gholfstokke en krieketkolwe in die lug steek? Is daar enige sin daarin om een keer per jaar ’n braai by die Voortrekkermonument te hou sodat ons oor ’n paar skaaptjops en bier kan “herenig” as ’n volk? Moet ons geloof nie eerder in aksie begin oorgaan nie?

Ek voel as Christene sit ons maklik en wag vir God om iets te doen, terwyl Hy eintlik wag dat óns die inisiatief moet neem. Wat ons nodig het, is ’n verandering in ons eie harte en gesindheid, asook in dié van die misdadigers. Ek het onderneem om vir hulle te bid. Ek bid selfs vir die twee inbrekers by my huis – dat hulle paaie nie verniet met myne gekruis het nie. Dat God hulle self sal aanraak en nuut maak.

’n Vriend van my se ma het juis ’n slagspreuk in haar kantoor opgeplak: “Ek is die ander een.” Dié woorde het my lank laat kopkrap, totdat hy dit aan my verduidelik het: Baie mense word geroep om God se wil te doen, maar min is bereidwillig – en dan kies Hy iemand anders. Daarom sê ek deesdae: “Nou maar goed, ék sal die ander een wees.” Wie gaan saam met my staan?