Die feite vertel ‘n ander storie

0
71
gautrain.png

Statistieke wat vandag bekend gemaak is, toon dat die Gautrein meer betyds is as selfs die moltreine in Brittanje. Ongeveer 98.6% van Gautrein se treine arriveer en vertrek binne die geskeduleerde tyd van 3 minute. In Brittanje is 91.3% van die Britse treine betyds.

ʼn Mens kan seker ander argumente ook inbring en sê dat Brittanje ʼn veel groter treinstelsel het, en dat dit dan dalk moeiliker is om die treine betyds te laat wees. Dit is seker waar, maar ons Gautrein is nogtans ʼn merkwaardige prestasie. Ek wonder wat sou die resultaat gewees het as  ʼn mens voor die tyd ʼn opname onder Suid-Afrikaners gemaak het en hulle gevra het wat hulle dink wie se treine is die betroubaarste: die Gautrein of die Britte se moltreinstelsels. Mense raak so maklik negatief oor hul eie en dink dat ander mense en ander lande dit beter het. Ander mense se werk is lekkerder en beter; ander mense het beter lewensmaats; ander mense het beter omstandighede waarbinne hulle leef. Ander lande se treine is meer betyds. Intussen sit onsself met ʼn witbrood onder die arm.

Dit is nogal ʼn kuns om tevrede te wees met jou eie omstandighede – meer nog, om gelukkig en dankbaar te wes oor jou omstandighede. Paulus sê vir Timoteus: As ons dan kos en klere het, moet ons daarmee tevrede wees (1 Tim 6:8). As jy gelukkig wil wees, wees tevrede met wat jy het!