Die foute wat getroudes maak

414

Wanneer jy dolverlief voor die kansel staan, glo jy nie dat julle ook foute sal maak nie. As dit wel gebeur, erken dit en leer daaruit.

Dr. David Hawkins, skrywer van 9 Critical Mistakes Most Couples Make, glo dat heelwat huweliksprobleme opgelos en uitgeskakel kan word. Dis belangrik dat paartjies die ernstige verhoudingsfoute wat hulle maak, kan herken en regstel.

Hoe kan julle van hierdie negatiewe patroon wegbreek? ’n Mens kan net dít verander wat jy bereid is om te erken.

Julle moet dus kan raaksien wat nie werk nie en bereid wees om aan te pas. Onthou, dit gaan dalk van julle vra om dinge te doen waarvoor julle nooit voorheen kans gesien het nie.

Wees geduldig. Ware verandering vind nie oornag plaas nie.

Julle sal weer en weer na die foute moet kyk en gedurig daaraan moet werk. Leer om die gevaartekens raak te sien en probeer doelbewus om nie weer in daardie strik te trap nie.

Om foute te maak is nie ’n fout nie. Die grootste fout sal wees om nie daaruit te leer nie!

Julle vertel vir mekaar wat om te doen

Dit kan onbewustelik begin. Later raak dit ’n gewoonte om in spesifieke omstandighede aan mekaar voor te skryf wat om te doen.

Miskien is jy baie beskermend oor die baba. Wanneer jy haar by jou man los, sal jy hom in detail vertel presies wat hy moet doen. Dit maak dit vir hom moeilik om na haar te kyk en hy sal dit later nie meer wil doen nie.

Hy vertel dalk vir jou hoe jy jou kombuiskaste moet organiseer, tot jou groot irritasie.

Jy kan nie van jou maat verwag om te verander net om jou te pas nie. Uiteindelik moet julle mekaar se verskille respekteer.

Tydens ’n rusie raak julle persoonlik

Dit gaan gewoonlik goed totdat een daardie “warm” onderwerp aanraak. Dadelik is die een op die aanval en die ander op die verdediging.

En dit raak persoonlik met verwyte en beswadderings wat heen en weer vlieg.

Het skerp, venynige taal die algemene manier geword waarop julle met mekaar praat? Die rede hiervoor is dalk omdat jy seergekry het in die verhouding of afgeskeep voel.

Dit is belangrik om die konflik op te los vóór julle in daardie verwoestende spiraal van beskuldigings beland. Probeer om die probleem, eerder as die persoon aan te vat. Maar maak eers seker dat julle weet wat die werklike probleem is.

Jy behoort so op jou maat se behoeftes ingestel te wees dat jy sal weet wanneer hy bemoediging of simpatie nodig het.

Julle leef soos vreemdelinge

Getroudes voel dikwels soos vreemdelinge vir mekaar, al deel hulle dieselfde huis. As hulle wel gesels, is dit oor praktiese dag-totdaggoed soos die melk wat op is.

Daar is baie keer ’n vrees vir intimiteit en ’n gebrek aan nabyheid. Julle moet leer hoe om warmte in die verhouding te bring, want almal het ’n ingeboude behoefte aan intimiteit. Dis daar geplaas deur niemand anders as God self nie!

Tog het ons ook ’n vrees om onsself bloot te stel, omdat ons glo dat ons perfek moet wees.

Die enigste manier om werklik julle verhouding te verander is om jou gesindheid te verander. Moenie vir jou maat wag nie. Soms moet jý daardie eerste stap neem en jou maat vertel wat jou behoefte is.

Albei van julle behoort ’n persoonlike plan te hê hoe om weer energie en opwinding in die verhouding te blaas.