Die geheim om jou produk te bemark

0
450
Beyers_Truter.jpg

Daar is een goue reël wanneer jy jou produk bemark. Beyers Truter, die Pinotage-koning, deel die geheim.

Beyers Truter, eienaar en wynmaker van Beyerskloof, is wêreldwyd bekend as die Pinotage-koning. Hy het al verskeie toekennings ontvang. Hier vertel hy meer oor sy inspirasie en motivering.

Die een prestasie wat vir my uitstaan, is…

… dat my kinders saam met my in die onderneming is. My seun se wyne verkoop baie goed. Ook dat die Red Leaf-restaurant, waar my dogter by die bestuur betrokke is, goed vaar. Ek streef nog daarna om die ideale wyn te maak. As ’n wynmaker sê: “Dit was my grootste prestasie”, los hy nie ’n speling om beter wyn te maak nie.

Ek is direk by die wynmaakproses betrokke omdat…

… jy eerstehandse kennis moet hê as jy ’n produk wil bemark. As jy vir mense vertel hoe dit smaak, moet jy die wyn mos self geproe het. My seun is bedags in die kelder en ek is snags die nag wynmaker. Hulle werk tot so twaalfuur in die nag, dan werk ek van tweeuur af tot vieruur of partykeer sesuur.

Ons het fetale-alkoholsindroom as ons sosialeverantwoordelikheidprojek gekies…

… omdat ek al die lekkertes van wyn geniet het, maar ek het besef dat die “te” in wyn nie reg is nie. Daar is tussen 6 en 8 miljoen mense wat fetale-alkoholsindroom het. Ek voel kinders moet gebore word met ’n droom. Ouers moenie deur te drink besluit dat die kind lewenslank van ander afhanklik sal wees nie. Fetale-alkoholsindroom is heeltemal voorkombaar, maar dis nie omkeerbaar nie.

My grootste inspirasie in my professionele lewe…

… is my kollegas. Dat ek in die oggend kan opstaan en weet dis nie ’n one-man show nie. Daar is ander ouens wat saam met my aan hierdie wa trek, van die plaaswerkers af tot die manne in die kelder en dié wat die ekonomiese gedeelte behartig. En ons is almal vriende.

Vir ’n gevierde wynmaker is die plaaslike bedryf opwindend as…

… ek by ’n wynproe aankom en die jong wynmakers en jong landboukundiges daar sien. Dan praat ek nie net van wit nie, ek praat van wit, bruin en swart. Ek sien hulle passie en ook die kennis wat hulle het. Dis dan dat ek weet die Suid-Afrikaanse wynbedryf is kerngesond. Ek is besig om ’n kelder in Angola te vestig, maar my passie bly ons eie land.

Ek bly gemotiveerd in moeilike tye deur aan die Here vas te hou…

… want Hy is my anker. As dit nie daarvoor was nie, dan weet ek nie hoe ek deur moeilike tye sou kom nie. Maar daar is ook ’n gesegde van Louis L’Amour: “Trail dust is thicker than blood.” Die stof van al die paaie wat ek geloop het en die stof hier van Beyerskloof is baie belangrik. Veral met my vrou, Esmé, se dood het dit vir my baie beteken.

Die voordeel van boer én wynmaker wees is…

… dat kennis daarvan essensieel is. Jy behoort eintlik elke stok by die naam te ken. In daardie hektaar moet jy weet daar gaan die trekkers vasval. Jy moet kan praat oor die praktyke in die wingerd. As jy self kan snoei of saam met jou mense tot vyfuur kan buk, is dit ’n ongelooflike voorreg. Die wynmaker moet sy druiwe goed ken om wyn te kan maak.