Die geheim van gesondheid en geluk

615

Die gesegde “’n gesonde liggaam huisves ’n gesonde gees” is gedeeltelik waar. Dit wat binne-in jou omgaan, beïnvloed die uiterlike. As jy goed voel, gaan jy ook goed lyk.

As jy jou liggaam afskeep, kan jy nie net vet word nie, maar ook siek, en dit verhoed dat jy jou lewe voluit leef. Die meeste mense werk sonder ophou om ’n droom te kan leef, maar as jy jou gesondheid verloor, ontaard jou lewe in ’n nagmerrie.

Daar hoef nie pyn by die gain te wees nie

Om optimaal te funksioneer en voluit te leef, moet jy fisies en emosioneel gesond wees. Om betekenisvol en doelgerig te leef, is ’n gesonde leefstyl die noodsaaklike fondasie waarop jy jou lewe moet bou. As ’n mens innerlik goed voel en uiterlik goed lyk, bevorder dit jou selfbeeld, en ’n gesonde selfbeeld lei tot menseverhoudings wat werk.

Waarom voel mense negatief oor oefening? Die eenvoudige rede is dat oefening in skole dikwels as ’n metode van “straf” gebruik word: “Julle luister nie na my nie, so, nou moet julle drie maal om die veld hardloop.”

Ons straf ons kinders met dit wat ons wil hê hulle lief voor moet wees. Ons ken die Engelse gesegde, “no pain, no gain”. Dit is wat baie mense oor oefening glo. Maar dis ’n leuen wat aan ons verkoop word. Dit maak nie sin om te sê dat pyn voordeel inhou nie. Ons moet eerder sê: Ek geniet die voordele wat met ’n gesonde liggaam gepaardgaan!

Dit gaan nie oor hoevéél nie, maar hoe góéd

Jy hoef nie by ’n gimnasium aan te sluit en duur oefenklere te koop as jy wil oefen nie. Dit is nie ’n voorvereiste om aktief te wees nie. Omdat ek dikwels reis en daar nie elke dag tyd is om na ’n gimnasium toe te gaan nie, het ons besluit om ’n paar apparate aan te koop, en ons gym is sommer in die agterplaas. Vir ons as gesin is dit ’n fees en dit is vinnig – ons stap net uit by die agterdeur.

Natuurlik is onsekerheid en vrees die rede waarom baie mense nie aktief is nie. Hulle weet dalk ook nie hoe nie! Daar is vandag egter duisende YouTube-video’s wat maklike oefeninge demonstreer. Daardie verskoning dra dus nie meer gewig nie. Enigiemand wat wil, kan!

Ek en my seun het twee jaar gelede begin om elke aand ’n paar opstote te doen. Ek het begin met net vyf. Die voorwaarde was egter dat dit vyf puik opstote moes wees! Die geheim is dat dit nie moet gaan oor hoeveel jy kan doen nie, maar eerder hoe goed jy dit doen.

Jy wen as jy aanhou probeer, leer en groei

Die reël is dat jy moet stop terwyl jy nog nie eens sweet nie. Jy moet die oefening “wen”, anders gaan jy verskonings uitdink om op te hou. Begin dus net met ’n paar herhalings. Ek het na twee weke opgeskuif na ses opstote, en mettertyd al hoe meer. Ek is gesond al oefen ek nie elke dag in ’n gimnasium nie.

Die gewoonte om een klein dingetjie elke dag te doen, en om dit uitstekend te doen, het my hele lewe verander. Om suksesvol te wees beteken nie noodwendig dat jy groot dinge moet doen nie.

Moenie eendag terugkyk met spyt nie. Wees eerder trots omdat jy die “ongemak” van klein dissipline gekies het.

Jannie Putter, Leierskaps- en persoonlike ontwikkeling en sportsielkunde

Kliek hier vir meer videos en artikels deur Jannie.