Die geskenk van genade

0
514
Liesel Krause-Wiid

Ons voel maklik ons is nie goed genoeg nie en dat ons meer kan doen. Tog het ons nie ’n selfdoen-godsdiens nie, want alles gaan oor genade.

’n Ruk gelede sit ’n jong vrou voor my. Haar oë is vol trane, want sy voel sy doen nie genoeg vir God nie. Haar een vriendin doen sendingwerk en ’n ander een het ’n omgeegroepie by die skool begin, wat baie geseënd is. Al wat sy doen, is om agter haar twee- en driejarige kindertjies aan te hardloop.

Hy is lief vir jou, of jy uitblink of nie

Ek kon met vrymoedigheid sê dat sy presies is waar God haar nou wil hê. Die gesin is jou eerste sendingveld. In elk geval vra God nie van ons om groot dinge vir Hom te doen nie. Hy vra net dat ons in ’n liefdevolle verhouding met Hom moet staan.

Sommige mense dink dat elke goeie daad jou nader aan die hemel bring, amper soos om trappie vir trappie op ’n leer te klim. Party begin selfs neersien op ander en dink hulle is darem al ’n bietjie hoër op met die leer. Nogtans kan ons niks doen om onsself te red nie. Die redding is reeds vir ons gedoen aan die kruis. Ons moet dit net glo.

Philip Yancey het gesê dat niks wat ek gedoen het, tans doen of nog in die toekoms gaan doen, kan maak dat God meer of minder van my hou nie. Hy het my in elk geval lief!

Volg in Sy voetspore met ’n dankbare hart

Martin Luther was ’n regstudent. Eendag het hy in ’n haelstorm beland en ’n belofte aan God gemaak om Hom voltyds te volg as Hy sy lewe spaar. Luther het sy woord gestand gedoen en probeer om ’n heilige lewe te lei, maar hy kon dit nie regkry nie. Hoe meer hy heilig probeer leef het, hoe meer het hy van sy sondes bewus geword.

Toe begin hy om ure lank elke dag sy sondes te bely. Hy het ook dae aanmekaar gevas. Dit het so erg geraak dat sy kollegas hom later gedwing het om te eet. Ten spyte van sy toewyding kon Luther nie vrede in sy hart kry nie – totdat hy Romeine 1:17 gelees het. Hy het van voor af besef dat ons uit genade vrygespreek word as ons glo.

Natuurlik beteken dit nie dat ons nou maar kan leef soos ons wil nie, want dan maak ons genade goedkoop. Uit dankbaarheid moet ons daarna streef om in Sy voetspore te volg.

Ons doen goeie dade omdat ons gered is, nie sodat ons gered moet word nie. Daar is ’n groot verskil. Om uit genade te leef beteken dat jou lewe totaal verander. As ons besef wat ons as ’n gratis geskenk ontvang het, kan ons nie anders as om in dankbaarheid te leef nie.

Genade is al klaar joune, vat dit

Daar word vertel van ’n seuntjie wat die Washington-monument in Amerika vir die eerste keer besoek het. Hy het vir die wag gesê: “Ek wil graag die monument koop.” Die wag het afgebuk en gevra: “Hoeveel geld het jy?” Die seun haal toe 25 sent uit sy sak. “Dit is nie genoeg nie,” antwoord die wag. “Ek het gedink jy gaan dit sê,” antwoord die seuntjie. Toe krap hy weer in sy sak en haal nog nege sent uit.

Toe kyk die wag na die seuntjie en sê: “Daar is drie dinge wat jy moet verstaan: 34 sent is nie genoeg nie. Om die waarheid te sê, 34 miljoen dollar is nie genoeg om hierdie monument te koop nie. Die monument is nie te koop nie; en laastens, as jy ’n Amerikaner is, behoort die monument reeds aan jou.”

Dit is net so waar van genade. Ons kan dit nie verdien of koop nie, maar ons kan weet as ons aan God behoort, is genade ons s’n. Dis verniet, en daarom is dit so onbeskryflik.

Om te glo gaan oor meer as net ’n klomp moets en moenies. Dit gaan oor ’n intieme verhouding met die Vader. Dis om Sy genadegeskenk vir jou te aanvaar, want Hy het ’n groter en beter plan in gedagte vir jou! En dis gratis.

Kliek hier vir meer videos en artikels van Liesel.