Die geur van onthoukos…

Lamsvleis, geel rys, gebakte aartappels, soet pampoen en groenboontjies… dit is die geur van onthoukos, vanuit my vroegste herinneringe, wat my sommer al by die voorhek van my ouers se kleinhoewe kom verwelkom.

Die geur van ‘n leeftyd se kosbare tye saam, die geur van liefde, omgee en vrede. Dit gee ‘n mens mos sommer daardie hartlike tuis gevoel, daardie welkom my kind, ons huis is jou huis gevoel. Dit is bykans asof tyd vir ‘n oomblik net hier stil kom staan het. Elke ding, net soos ek dit van altyd af kan onthou.

Dan kom stap ek die kombuis binne, om aan te sit rondom die groot hout tafel spesiaal vir ons voorberei. Omring deur my hartsmense, warm glimlagte en die sekerheid wat ‘n mens net in onvoorwaardelike liefde vind. Dan kom vul ‘n ander onthoukos my hart. ‘n Stukkie onthoukos vanuit die Woord..

“Die Here is my herder, ek kom niks kort nie. Hy laat my rus in groen weivelde. Hy bring my by waters waar daar vrede is.. U laat my by ‘n feesmaal aansit, terwyl my teëstanders moet toekyk. U ontvang my soos ‘n eregas, ek word oorlaai met hartlikheid. U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly en ek sal tuis wees in die huis van die Here tot in lengte van dae.”

-Psalms 23:1-2,5-6 AFR 83

So is dit by die Here ook, vir ewig is Hy ons goeie herder, vir altyd is Hy liefde. Die lewe mag ons dalk op vreemde en onbekende paaie neem, maar ons sal altyd tuis wees in Hom. Tye en dinge mag voordurend verander, maar by die Here staan tyd stil, want gister, vandag en tot in alle ewigheid, bly Hy dieselfde. In ‘n gejaagde wêreld, gevul met allerhande onsekerhede, gee die Here aan ons Sy vrede en hou Hy ons styfvas teen Sy bors.

Word vir ‘n oomblik stil en asem daardie lieflike geur van Sy onthoukos in, want Hy is in jou en jy in Hom, daarom weet.. JY IS TUIS!