Die goue reëls vir ’n sonbruin vel

0
12
sonbruin.png

Groet jou bleek kantoorgelaat en maak seker jy is sonbruin voor jou eerste dag langs die swembad.

Die meeste van ons lyk dadelik jonger en mooier as ons vel daardie gesonde, sonbruin gloed het. Moenie protesteer dat selfverbruiningsroom snaaks ruik en strepe maak nie. Die nuwe sonbruinrome en bykomstighede haal die dinkwerk en spyt-wees uit sonlose verbruining. Volg die stappe in hierdie maklike gids en jy sal hierdie sonskynseisoen slanker en sexier lyk met jou goue lyf.

1 Jy moet eers jou vel goed voorberei

Skilfer eers jou gesig en lyf deeglik af. Selfverbruiningsroom klóú aan droë vel. Jou wenkbroue, haarlyn, nek, binnearms, elmboë, knieë en hakskene absorbeer sonbruinroom soos ’n spons. Werk versigtig met verbruiner rondom en op hierdie areas.

xen_tan.pngSmeer ’n bietjie lyfroom aan jou nek en binnearms en baie aan jou elmboë, knieë en hakskene voor jou verbruiningsessie. Hierdie dele van jou lyf sal sodoende nie soveel verbruiningsroom absorbeer nie en sal nie te donker verkleur nie.

Trek nou die Skinny Tan Application Mitt (R129,95), beskikbaar by Wellness Warehouse of www.skinnytan.co.za, aan. Die handskoen hou jou hande skoon en maak dit maklik om verbruiningsprodukte aan te wend vir ’n egalige afwerking.

2 Die regte formule selfverbruiner om aan te wend

Noudat jou vel sonder vlokkies en deeglik bevogtig is, kan jy verbruiningsroom, mousse of sproei gebruik.

Room neem die langste om droog te word. Jy moet gewoonlik twee uur wag voor jy weer klere aantrek. Mousse en sproei word vinnig droog. Voor jy ’n sproeiformule koop, moet jy seker maak dat jy dit nie hoef in te smeer nie, anders spaar jy nie regtig tyd nie.caribenatan.png

Die risiko met mousse en sproei is dat jy te veel produk kan aanwend omdat dit nie voel asof jy iets op jou lyf het nie. Wend eerder ’n dag later ’n tweede laag aan as wat jy te gou te donker word.

Baie Suid-Afrikaanse bekendes is gek oor die Caribbean Tan reeks. Die Bronzing Mousse (R85), verkrygbaar by Clicks, Dis-Chem en apteke, voel lekker lig op jou vel.

3 ’n Sonbruin vel kort die regte bykomstighedenuxe.png

’n Titseltjie lyfolie verander ’n eendimensionele bruin vel in ’n karamelkleur lyf met glans. Nuxe Huile Prodigieuse Multi-Use Dry Oil Golden Shimmer (R295), verkrygbaar by uitgesoekte Truworths-winkels, is legendaries.

Rond die voorkoms af met perskekleurige lipglans, helderpienk blosser en goue oogskadu met ’n roombasis. Die geheim is om min grimering aan te tik en dit goed te skakeer. Jou vel moet blosend eerder as opgemaak lyk.bronze_booster.png

En as jy net té versigtig is om self verbruiningsroom op jou gesig te gebruik, is daar steeds ’n uitweg. Physicians Formula Bronze Booster (R229), verkrygbaar by Dis-Chem, het ’n bypassende kwassie waarmee jy jou gesig en nek brons kan poeier.

4 Hoe maak jy as jou selfverbruiner geflop het?

Gebruik ’n nat snesie om jou wysvinger gedraai en doop dit in grimeerverwyderaar. Vee tussen jou vingers af asook jou handpalms om dit minder gevlek te laat lyk. Vee jou naels skoon met naellakverwyderaar. Was slegs jou handpalms direk na jy selfverbruiner gebruik het. As jy jou hande bo-op was, gaan dit lyk of jy wit handskoene aanhet sodra jou lyf verkleur het!

Vee jou wenkbroue, binne-ore, neus, naeltjie en voetsole ook so skoon. Borsel in sirkelbewegings met ’n droë handdoek oor jou lyf om ’n onrealistiese donker kleur ligter te maak en stort ook daagliks in warm water om die kleur gouer af te kry.

Geskryf deur Ryno Mulder