Die groenoogmonster

0
69
Liesel Krause-Wiid

Dink net hoe vervelig die lewe sou gewees het as ons almal dieselfde was! Gelukkig verskil jy en jou vriendin. Julle elkeen is uniek en wonderlik geskape. Bid dan dat jaloesie nie kosbare vriendskappe verongeluk nie

Geloofkenner: Liesel Krause-Wiid

Dink net hoe vervelig die lewe sou gewees het as ons almal dieselfde was! Gelukkig verskil jy en jou vriendin. Julle elkeen is uniek en wonderlik geskape. Bid dan dat jaloesie nie kosbare vriendskappe verongeluk nie.

Nie eers ’n identiese tweeling het dieselfde vingerafdrukke nie. Elke mens is besonders en uniek gemaak. Waarom sal jy jou dan met jou vriendin wil vergelyk? Julle sterk en swak punte verskil. Sy sal nooit jy wees nie en jy sal nooit soos sy kan wees nie. Fokus daarom op dit wat jy goed kan doen. Dit is hoe jy gemaak is. Wanneer jy jaloers is op jou vriendin oor dit wat sy het en jy nie, beroof jy jouself van jou eie uniekheid.

Wees net wie jy gemaak is om te wees

Ek vermoed jaloesie word gebore uit onsekerheid en wanneer jy jou identiteit in wêreldse dinge soek. Ons wonder te dikwels of ons goed genoeg is. Wees verseker in en deur Christus is jy meer as genoeg. Wanneer jy jou waarde en selfvertroue in Hom vind, is jy tot alles in staat deur Hom wat jou krag gee.

Jy en jou vriendin is albei uniek en spesiaal, en God het wonderlike planne vir elkeen van julle. As jy nie die gawes en talente wat Hy vir jou gegee het, uitleef nie, loop jy baie seëninge mis.

Fokus op dit wat jy goed kan doen en oefen om dit selfs beter te doen. Om gedurig ’n masker te dra is uitputtend en uitmergelend. Jy sal in elk geval nie met die voorgee kan volhou nie. Wees daarom net jouself. In die proses sal jy jou talente ontdek.

As jy agterkom waaruit jy jou energie put, waar jy vervulling vind en waaroor jy droom, fokus dan jou aandag daarop. Jou selfvertroue en eiewaarde gaan jou uiteraard gemaklik maak met ander se suksesse! Geen mens is gemaak om alleen te wees nie. Koester daarom jou vriendskapsbande. Vriende gee mekaar vlerke, hulle bemoedig mekaar en is nie afgunstig nie. Paulus sê kinders van die Here vorm saam deel van een liggaam. En die een liggaamsdeel is nie belangriker as die ander nie.

Daar is groot krag in eenheid

Het jy geweet ganse vlieg altyd in ’n V-formasie? Die rede is dat wanneer ’n gans sy vlerke klap, dit ’n opwaartse lugstroom vir die een agter hom skep. Op dié manier kan ganse tot 70% verder vlieg as wanneer hulle alleen sou vlieg.

Die ganse maak dan beurte om voor te vlieg. Die voorste een werk die hardste, want daar is nie ’n gans voor hom wat hom help vlieg nie. Maar wanneer die voorste gans moeg word, val hy net terug en ’n ander een neem die voortou.

Kinders van die Here moet mekaar op dieselfde manier bemoedig en ondersteun. Saam kan ons baie meer vermag. Paulus sê liefde beteken om ander mense dit wat hulle het of kry te gun, sonder om verbitterd of afgunstig te wees oor dit wat jy nie het nie.

Sterf selfsug af en bid vir jou vriendin

Toe ons klein was, het ons soms gesukkel om te deel. “Myne!” het ons vir maatjies geskree. As volwassenes en met die hulp van die Heilige Gees is ons mos veronderstel om van hierdie selfsug ontslae te raak.

F.B. Meyer was ’n predikant verbonde aan die Westminster Chapel in Londen. Dit was in dieselfde omgewing as die Christ Church, waar Campbell Morgan die predikant was, en ook die Metropolitan Chapel, waar Charles H. Spurgeon die predikant was. Hulle was almal baie bekende predikers wat groot skares gelok het. Meyer het dikwels afgunstig gevoel. Hy vertel dat hy eers vrede gevind het toe hy vir sy kollegas begin bid het. Hy getuig: “When I prayed for their success, the result was that God filled their churches so full that the overflow filled mine, and it has been full ever since.”

Werk aan jou selfvertroue sodat jy die oomblikke van jaloesie kan oorkom. Leer jou persoonlike sterk punte ken en waardeer. Loof God dan vir al jou voorregte, en moenie jou foute te ernstig opneem nie.

Sien die mooie in ander en in die wêreld om jou raak! Leef ’n lewe van dankbaarheid vir alles wat jy uit die skatkis van genade ontvang het. Dit is ’n wonderlike teenvoeter vir jaloesie.