Die groot geheim vir donker kringe

0
173
donker_kringe.png

Die regte grimeertruuks laat nie net donker kringe onder jou oë verdwyn nie, maar ook jou ouderdom.

’n Oplossing vir donker kringe onder jou oë

Dorothy Botha het op haar veertigste verjaarsdag op die skaal geklim en besluit om tot aksie oor te gaan. Sy het haar kurwes teruggeëis. Vir haar nuwe lewensreis het sy egter by Glam Guru aangeklop vir ’n vars voorkoms.

Dorothy het donker kringe onder haar oë. Myns insiens sal jy nooit van donker kringe ontslae kan raak nie, maar jy kan dit maklik en effektief verbloem. As jy hiermee sukkel, wil ek jou wys hoe jy dit met die regte onderlaag kan wegtoor.

Eerstens, tik met jou vingers ’n druppel HANNON Full Cover Liquid Foundation op die donker kringe onder die oë aan. Hierdie onderlaag is olievry en kan dus tot teenaan jou oë aangewend word. Daarna tik jy poeieronderlaag bo-oor en versprei dit ook oor jou hele gesig.

Met die donker kringe nou skoonveld kan jy die res van jou gesig laat sprankel.

Die regte grimeerkleure laat jou jonger lyk

Vir sprankelende oë moet jy twee pruimkleurige oogskadu’s gebruik. Die ligte skakering kom oor jou hele ooglid van jou wimpers tot reg onder jou wenkbroue. Dit verbloem ook moegheid; daarom kan jy dit onder jou oë aantik vir sprankel.

Wend die donker pruimkleur net tot in die vou van jou oog op die boonste ooglede aan en skakeer dieselfde kleur op jou onderste ooglede.

Jy is op die ouderdom waar jy jou oë se buitehoeke opwaarts moet lig. Trek ’n soliede lyn op jou boonste ooglede met ’n swart jel-oogpotlood. As jou oë moeg lyk, gebruik my wit jel-oogpotlood en omlyn die binnekant van jou oë daarmee. Swart maskara rond jou oë af.

Indien jy ’n blas gelaatskleur het, gebruik pienk blosser om jou wangbene te aksentueer. En as jy een lipkleur wil hê wat by alles pas, moet jy die HANNON rooskleurige lipstiffie probeer.

Maak dik, swaar en droë hare maklik hanteerbaar

Dik hare kan gou dor en grasserig lyk en voel, veral as jy gereeld jou grys hare weg kleur; tog het dié haartipe ook die potensiaal om te blink. Vir die sagste en blinkste hare moet jy my Super Shine sjampoe en bypassende opknapper gebruik. Die sjampoe maak jou haartekstuur veerlig en sag sodat dit wip. Die opknapper verseël vog binne die haarskag en laat ’n glanslagie nadat dit afgespoel is.

Jy moet jou hare in twee stappe droogblaas, maar jy moet eers jel aanwend vir volume. Druk ’n teelepelgrootte in jou handpalm, vryf jou hande saam en masseer die jel in jou kopvel in.

Maak eers net jou haarwortels met jou haardroër droog sodat jou hare van jou kopvel af oplig soos nog nooit tevore nie. Neem daarna die res van jou hare in seksies en blaas dit met behulp van ’n mediumgrootteborsel glad en reguit.

HANNON Full Cover Liquid Foundation (R195)

HANNON Super Shine Shampoo (R145)

HANNON-produkte is beskikbaar by voelgoedwinkel.co.za en by professionele haar- en skoonheidsalonne. Vir die salon naaste aan jou besoek hannon.co.za.

Skakel weer vanaf Sondagaand 27 Julie om 18:00 op kykNET in vir Hannon se mooimaakreeks Glam Guru.

Geskryf deur Ryno Mulder