Die groot vyf teen veroudering

0
29
veroudering.jpg

Waarna moet jy kyk wanneer jy kies tussen teenveroudeingsprodukte? En hoe kry jy die meeste daaruit?

As jy weet wat die Groot Vyf-redders, wat regtig die jare laat wegsmelt, is, kan jy op die uitkyk wees vir produkte wat hierdie bestanddele bevat. Hierdie soort bestanddele is baie duur en daarom word daar so min moontlik daarvan gebruik om die kostes laag te hou. Hoe nader die bestanddeel aan die einde van die lys van bestanddele voorkom, hoe minder kom daarvan in die formule voor.

Velsorgprodukte wat ’n dekade wegneem

Hialironsuur

WAT IS DIT? Dit is soos ’n magneet wat vog na jou vel trek.
BRILJANT OM … jou vel op te plomp om ontslae te raak van plooie sodat jou vel weer jeugdig en gehidreer lyk. Hou in gedagte dat die werking van hialuronsuur in rome van die grootte van die molekule afhang. Ook of dit die vel kan binnedring. As dit dus voel asof die room op jou vel geplak word en daar bly lê, is dit waarskynlik nie wat dit beloof om te wees nie.
OM TE WEET: Maak seker jy drink genoeg water. Hialironsuur is ’n uitstekende bevogtiger, maar dit werk deur water van die dieper lae van die vel na die oppervlak toe te trek. Drink dus jou kwota water per dag om gehidreer te bly.

Retinol

WAT IS DIT? ’n Vorm van vitamien A.
BRILJANT OM … sonskade te beveg, kollageen (wat ’n plomper, jonger vel verseker) te stimuleer, selvernuwing aan te help en olierige velle te normaliseer. Dit kom in verskillende vorme voor en staan ook bekend as vitamien A, retinyl palmitate, retinyldehyde en retinyl linleate. Volgens sy werking is Retin-A (’n room wat slegs deur jou dokter voorgeskryf kan word) die effektiefste.
MAAR WEES GEWAARSKU: Retin-A het potensiële newe-effekte soos die moontlikheid van rooiheid, skubberigheid of afskilfering. Dit kan ook jou vel sensitief maak vir die son.
OM TE WEET: Die vitamien A-molekule is onstabiel en kan maklik afgebreek word wanneer dit aan lig blootgestel word. Retinol in ’n pot met ’n groot opening is nutteloos. ’n Foto-beskermde buisie met ’n klein openinkie of ’n pomp wat nie lug inlaat nie is die effektiefste.

AHA’s

WAT IS DIT? AHA’s (Alfa-hidroksie-sure) is vrugtesure.
BRILJANT OM … af te skilfer. Om suur op jou vel te sit, klink steeds baie vreesaanjaend, maar AHA’s (alfa-hidroksi-sure) kan enigiets doen van velaandoenings voorkom tot plooie uitstryk en jou ’n foutlose gelaat gee.
Die konsentrasie waarin AHA’s gebruik word, bepaal gewoonlik hoe effektief of irriterend dit is, maar sekere sure is van nature sterker as ander. Glycolic werk vinnig en aggressief terwyl melksuur en vrugtesure meer sagkens werk.
OM TE WEET: AHA’s is nie goed vir sensitiewe veltipes nie. Dit werk beter op sterker, olierige velle. Dra altyd sonskerm wanneer jy AHA’s op jou vel gebruik.

Antioksidante

WAT IS DIT? ’n Tipe “anti-roesmiddel” vir jou vel.
BRILJANT OM … die selle in jou lyf, net soos yster wat roes, van suurstof te beskerm.
Dink aan ’n appel. As jy een hap vat, word die ontblote stukkie na ’n ruk bruin. Wanneer jy dit met suurlemoensap, wat ook ’n anti-oksidant is, bedek, word dit nie bruin nie.
Jou vel is dieselfde. Wanneer dit aan suurstof blootgestel word, ontstaan vrye-radikale. UV-strale, besoedeling, lugverkoeling en stres is alles dinge wat verouderende vrye-radikale veroorsaak. So ontstaan fyn lyntjies, pigmentasie en vermindering van kollageen.
Anti-oksidante is soos die suurlemoensap wat aan die appel ’n beskermingslagie teen vrye-radikale bied. Dit dien ook as beskermlagie vir jou vel.
Daar is baie anti-oksidante, maar kenners is dit eens dat vitamien C, idebenone, groentee, coffeeberry en resveratrol is die effektiefste anti-oksidante. Hierdie bestanddele word dikwels by ’n dagroom of serum gevoeg.
OM TE WEET: Antioksidante werk die heel beste op ’n skoon vel. Bevogtigers en sonskerms moet bo-oor antioksidante in lae aangewend word.

SBF

WAT IS DIT? Sonbeskermingsfaktor
BRILJANT OM … veroudering te stop aangesien 80% van veroudering die gevolg is van sonskade. ’n Vinnige geheueverfrisser: UVB strale is dié wat brand en UVA is dié wat jou vel verouder en sekere kankers veroorsaak. Jy het dus ’n breëspektrum-sonskerm nodig wat UVA- én UVB-beskerming insluit as jy nie teen 45 soos biltong wil lyk nie. Onthou dat UVA-strale in die somer én in die winter teenwoordig is. Ook as die son skyn of nie. Juis daarom is SBF onontbeerlik as teenverouderingsprodukte.
OM TE WEET: Jou grimering mag dalk sê dat dit ’n SBF van 15 bevat, maar studies het gewys dat jy byvoorbeeld sewe maal die hoeveelheid onderlaag sal moet gebruik wat jy normaalweg aanwend om regtig genoeg beskerming te kry. Grimering is dus nie die beste opsie as dit by genoegsame SBF in ’n produk kom nie. Dra steeds ’n bevogtiger met ’n SBF van 30 of hoër onder jou grimering.

Lees meer: ’n Bietjie sonskyn is goed vir jou