Die grootste reus

Og was so groot dat sy bed meer as vier meter lank was en byna twee meter breed.

In my verbeelding sien ek hierdie reuse man teenoor my staan. Ek kyk op en op vir hom, terwyl sy groot lyf die sonstrale wegkeer en die blou lug verduister. Skrikwekkend!

Hy is egter verslaan, hierdie Koning Og van Basan, die Rafaïte se koning.

Deur gewone mense.

Tog, die Israeliete het op ‘n stadium hierdie reuse een kyk gegee en…

Wel, mens se oë kyk en jou brein doen navorsing oor wat dit sien en help jou om te besluit oor die objek voorhande. In die geval van Og, was die besluit ‘n besliste en vreesagtige: “Nee! Hierdie reuse is te groot om te verower.”

Daarna volg die volgende menslike ding. Ons gaan kruip weg en begin kla (jy weet mos, ons ‘moan’). “Hierdie reus is te groot vir my.”

“Ek sien nie kans nie.”

“Hoekom moet ek hierdie reus in my lewe hê?”

“As my lewe maar net sonder reuse kon wees.”

‘n Lewe sonder reuse? Ja, dis beslis ook iets waaroor ons as mense kan ‘moan’: “Daar gebeur nooit iets interessants in my lewe nie. Geen reuse om te verower nie. Geen oorloë om te wen nie.”

En, geheueverlies tree so maklik in. Oor daardie reuse wat verslaan, agter ons lê.

Ons vergeet ons vaste geloof toe ons alles moes oppak en vlug. Met ‘n groot see voor ons en ‘n klomp kwaai Egiptenare agter ons. Wonderbaarlik het daar ‘n pad voor ons oopgegaan.

Ons vergeet ook dat dit bloedig warm was, maar ons het getrek onder ‘n beskermende wolk. Ons was honger en het kos gekry.

Daar was dae van opstand teen ons omstandighede en dae van wonderwerke wat gebeur het. Daar was deur die swaarkry, altyd een of ander genade.

Is ons nie veronderstel om hierdie gebeure te onthou nie?

Sou die Israeliete nie al teen die tyd dat hul Koning Og moes aanval, geweet het van God se grootheid en getrouheid nie? Daar was reeds soveel vorige oorwinnings aan Sy hand? Het hulle dan nog niks geleer nie?

Het ek dan nog nie geleer nie?

“Ja, maar elke situasie is nuut en uniek.” Kan mens tipies menslik opmerk.

“Moenie bang wees nie! Die Here julle God gaan voor julle uit. Hy sal vir julle veg, net soos Hy voor julle oë in Egipte gedoen het. Hier in die woestyn het julle gesien hoe die Here julle God keer op keer vir julle gesorg het, net soos ‘n pa vir sy kind… Selfs na alles wat Hy gedoen het, het julle nog bly weier om die Here julle God te vertrou.” Deternomium 1: 29-32 (AFR83)

“…Die Here is naby. Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend, en die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Chritus Jesus.” Filippense 4: 5-7 (AFR83)

Vir veertig jaar het die Israeliete swerf deur die woestyn (‘n reis wat maar net elf dae kon geduur het), om te leer dat by God oorwinning is.

Hoe lank trek ons somtyds deur ons eie woestyne van vertwyfeling en vrees?

“Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting.” Jeremia 29:11 (AFR83)

Mag ons na die skrikwekkende reuse in ons lewens kyk en besef dat om God in ons gedagtes, gebede en dade te hou, meer as net reuse verslaan. Dit gee ons vrede, vryheid en redding.

Ons God is groter as al die reuse in ons lewens.

“God can do more with your surrender, than you can do with your control.” @CRAIGGROESCHEL