Die grootste woord in die huwelik

0
212
Lika Berning

Lika Berning, binnekort te sien in die rolprent French Toast, en haar Clyde glo aan daardie een woord…

Luister. Akteurs moet na mekaar luister, en góéd luister, anders verloor hulle track van die intrige in die drama. Ons het gou ontdek dat dit in die huwelik net so werk. As julle nie in voeling met mekaar bly en regtig luister nie, bestaan die gevaar dat elkeen sy eie rigting begin inslaan en mekaar in die proses misloop. Dit is iets waarmee ons al gesukkel het. Op ’n stadium het ek nie meer mooi geweet wáár Clyde is in sy lewe of wat in sy kop aangaan nie. Ek het gevoel ek sit net met klein Hugo en die probleme… en ál wat ek toe doen, is moan!

Dis dan dat ek al hoe stiller raak en ál om die onderwerp bly gesels. Totdat een besluit, dis nou genoeg. Dan maak ons formeel ’n afspraak met mekaar en gaan vir ete of koffie and let the floodgates open! Soms is dit maar ’n emosionele storm, maar na die tyd is dit fantasties. Dan wonder ons altyd hoekom ons nie lankal die bul by die horings gepak het nie! Die feit van die saak is – ons is die naaste aan mekaar, so, alles wat met die een gebeur, het ’n wesenlike invloed op die ander een. Juis daarom is kommunikasie en luister so uiters noodsaaklik. Dit is die hartklop van ’n verhouding.

Veral in krisistye wanneer jy voel dat jy die plot verloor, is dit belangrik om te onthou dat ons ’n span is. Die vermaaklikheidsbedryf is wisselvallig en ons was al met tye tot drie maande sonder inkomste en byna aan die einde van ons spaargeld. Dit is dán dat spanspel ter sprake kom en ons saam moet besluit wat die aksieplan is. Hoe gaan ons die wa deur die drif trek? ’n Krisis is ’n tyd van groei. As julle op mekaar ingestel bly en daardie groei in die ander een kan raaksien, raak dit ’n wonderlike geleentheid van moed inpraat en help deurdra.

Ons geestelike lewe is die gom wat hierdie drama aanmekaar hou, dis waarom ons gereeld saam stil word. Saam opkyk, saam besef daar is ’n groter plan. Ons staan maar klein in die Genade. Wanneer ons hande vashou, moet ons seker maak dat ons in dieselfde rigting kyk, dat ons na dieselfde Regisseur luister. Ek en Clyde is van daardie onafskeidbare, byna eksklusiewe paartjies wat nét by mekaar wil wees. Maar as egpaar is dit belangrik om voortdurend ons speelvlak te vergroot en plek te maak vir mense rondom ons.

Dit is ’n wonderlike en opwindende reis. Daar sal egter altyd die kern wees van ekstreme liefde en passie waar net ons twee vir mekaar bestaan… terwyl die musiek polka en die ligte dans.