Die hart van ’n plaasmeisie

0
1935

Na tien suksesjare in die musiekbedryf is Lianie May steeds die plaasmeisie wat soms haar poniestert en vellies vir lipstiffie en glans verruil, maar sy het grootgeword. Sterker, wyser en dankbaar.

Die saal is stampvol. ’n See van afwagtende gesigte. Toe gebeur dit, enige kunstenaar se nagmerrie. Haar wêreld begin in die rondte tol. Dit voel of die vloer haar gaan insluk. Sy is duiselig en deurmekaar, asof sy in ’n lugleegte hang.

“Jammer, mense. Ek word nie sommer siek nie. My ma het gesonde kinders grootgemaak…” probeer Lianie ’n grappie maak om haar verleentheid weg te steek.

“Ekskuus, ek weet regtig nie wat nou aan die gang is nie…” probeer sy weer, maar stap uiteindelik onvas van die verhoog af.

Hospitaal toe. Toetse. Die een verkeerde diagnose na die ander. Party medici het gereken dis depressie, maar toe stel hulle vas die eintlike probleem is erge uitbranding. Die dokter se woorde het Lianie tot diep in haar country-pop-rock-stewels geskok. “Jy is ’n 90-jarige vrou in ’n 36-jarige se lyf.”

Dit was tyd vir briek aandraai. Rus. Weer haarself vind.

Nou, ’n paar jaar later, kyk Lianie terug op ’n pad vol waardevolle lewenslesse wat haar die lewe anders laat sien.

“Ek het gedink dit was my einde. Dit het gevoel of al my harde werk eensklaps vernietig was,” onthou sy daardie verskriklike tyd toe sy hard geveg het om haar gesondheid te herwin.

Dít na jare se deurdruk om met die passie wat in haar hart gebrand het, sukses te behaal. Toe die deurbraak uiteindelik gebeur, het die uitdagings op dieselfde suksespad gelê en wag. Harde werk, lang ure, matelose energie.

“Sjoe, daardie besige beginjare was wonderlik, maar dit het my mettertyd gedreineer sonder dat ek dit besef het. Dalk is dit ’n kenmerk van iemand wat ’n mense-mens is soos ek,” sê sy. “Ek probeer altyd ’n konneksie met mense maak, hulle op ’n manier betrek en niemand teleurstel nie. Maar in die proses vergeet jy soms om mooi na jouself te kyk, en dan tref dit jou op ’n dag uit die bloute.”

Soos baie vroue met ’n propvol program, het Lianie ’n tyd lank gespook om weer haar ou, borrelende self vind.

“Terwyl ek so siek was, wou ek partymaal sommer net van die verhoog afstap en wegloop, sonder om ’n woord te sê. Ek het fisies te sleg gevoel om regop te bly.”

Maar staan het sy bly staan. Deurdrukker. Vasbyter.

Dit was in hierdie tyd dat sy een van die belangrikste lesse in haar lewe geleer het.

“Moet nooit te gemaklik raak met ’n situasie nie, veral nie as dit goed gaan nie. Nie in jou werk, loopbaan, in ’n verhouding of selfs ten opsigte van jou talente nie. Vandag weet ek hoe gevaarlik dit is om enigiets as vanselfsprekend te aanvaar. Môre, oormôre pootjie dit jou.”

Saam met die uitputting moes sy ook veg teen die vrees wat ’n vatplek gekry het.

“Elke keer as ek op die verhoog gestap het, het ek angsbevange gewonder: Wat as dit weer gebeur? My selfvertroue het verdwyn.”

Lianie het ’n kundige gaan spreek wat haar gehelp het om weer haar lewe in perspektief te sien. Balans te vind. Tyd te maak vir oefen, rus en gesond eet.

Vandag is sy dankbaar oor hierdie moeilike tyd, want dit het haar aangemoedig om die lewe opnuut te waardeer en haar drome met nuwe toewyding aan te gryp.

Tou opgooi is nie deel van haar woordeskat nie. Dit het sy by ma Elma en Dads Niccie geleer.

Jare gelede, toe sy wou moed opgee oor ’n loopbaan wat nie wou vlam vat nie, was dit haar ouers wat haar bly moed inpraat het, soos net plat-op-die-aarde-boeremense dit kan doen. “Hulle het my geleer om in myself te glo, maak nie saak wat nie.”

“Dis jou groot liefde, Laaintjie, Niks in die lewe gebeur vanself nie. Werk vir wat jy wil hê. Byt vas,” was hulle raad.

Dit is alles lewenswaardes wat kleintyd op die plaas in Oranjeville in die Noord-Vrystaat deel van haar asemhaling geword het. Die plek waar sy as vyfjarige Lianie Oosthuizen, met stokkiesbeentjies en kort, blonde haartjies, haar familie en vriende begin vermaak het.

Later het sy agtergekom jy kan talent hê, maar jy kort ook ’n goeie skoot durf om jou doelwitte te bereik.

Die storie oor hoe sy in die seunsbadkamers tydens ’n Eden-konsert “ontdek” is, is een so ’n voorbeeld. Lianie het Eden se Sean Else voorgekeer en raad gevra oor hoe om in die bedryf in te kom. “Kan jy ooit sing?” wou hy skepties weet. Toe wys sy hom, net daar, deur ’n impromptu-oudisie te doen.

Die kontrak was ’n week later in die pos.

Maar sukses vat tyd om te ontkiem, het sy gou besef.

“So tussen die skok en opwinding deur moes ek baie vinnig geduld aanleer. Nie een van my beste eienskappe nie, maar daardeur het ek besef jy maar kan rustig wees oor die paadjie wat die Here vir jou beplan het. Hy sal sorg dat die regte ding op die regte tyd gebeur. Jy moet net jou kant bring en bly vertrou.”

Vandag besef sy hoekom dit so lank gevat het. “Ek moes eers ’n dikker vel kweek. Vroeër was ek te jonk en liggeraak, en sou nie die kritiek kon hanteer wat met bekendheid gepaardgaan nie.”

Om onwrikbaar in haarself te glo was belangrik in haar groei as mens.

“Dit het my nogal lank gevat om te aanvaar dat nie almal van my gaan hou nie, al probeer ek hoe hard. Eintlik was dit nogal ’n groot ding om te oorkom, veral omdat ek graag mense gelukkig wil sien. Jy gee so baie van jouself en jy bedoel dit goed, maar dan sien party mense dit anders.”

Daar was die tannies wat gekla het: “Net nie nog ’n blonde met boobs nie, asseblief.”

“As hulle maar net weet hoe streng ek grootgeword het!” lag sy oor haar swart kant-en-bietjie-cleavage beeld van ’n dekade gelede. “Ons is stoere boeremense. In ons huis is daar nooit kalerig aangetrek nie.”

Of daar was mense wat haar en Jay, haar duet-sangmaat, saam hoor sing het, en dan in sosiale media laat weet dat hulle baie van hom hou, maar nie van haar nie.

“Ek moes ook vrede maak met skinderstories wat dan en wan oor jou versprei word. Steve (Hofmeyr) het al saam met my daaroor gelag. Wie gaan jy bel om te sê dit is nie waar nie? Wie gaan wil luister?”

Uiteindelik het Lianie besluit om haar nie oor oppervlakkighede te bekommer nie, sy vat sulke dinge met ’n knippie sout. “Ek weet mos wat die waarheid is, en dis eintlik al wat tel.”

Na jare het sy tot die slotsom gekom dat minder eintlik méér is in hierdie lewe.

“Eerder minder in die publieke oog as te veel. Bly eerder ’n bietjie weg, tot jy weer iets van waarde het om te sê. Anders raak mense moeg vir jou.”

Dis dalk een van die redes hoekom sy so gewild bly, maar haar werksetiek moet ook baie met haar sukses te doen hê.

“Ek glo dat wat jy ook al aanpak, doen dit altyd na die beste van jou vermoë. Daag betyds op. Wees ordentlik, betroubaar en vriendelik. Behandel almal met respek.”

Tot vandag toe hou Lianie niks van aanstellerigheid nie. “Met my is dit ’n kwessie van wat jy sien, is wat jy kry. In my hart is ek nog steeds dieselfde plaasmeisie wat eintlik nie van glans hou nie. Ek is ook nie ’n gil-en-spring-mens wat tantrums kry nie. Konflik ontstel my.”

Dis hoekom sy dit so geniet om deesdae haar tyd tussen die stad en die plaas te verdeel. Sy en haar man, Barry Lubbe, spandeer ongeveer ’n week in Oranjeville op die grond wat sy by haar pa geërf het, en ’n week in die stad. Dit skep ’n goeie balans.

“Op die plaas ruik ek die beeste en die veld, en sien die sonsondergang. Dis ook die plek waar ek voel ek hoef nie myself te bewys nie.”

Die stad, weer, met sy polsende energie, is ook vir haar lekker, maar hier is daar altyd iets wat Lianie laat voel: “Dalk is ek nie heeltemal goed genoeg nie.” Maar net voor dit haar wil onderkry, kom die plaaslewe en deeltydse beesboerdery weer tot haar redding. Dan verruil sy met gemak die kollig vir harde handearbeid, soos draad span saam met Barry, buitegeboue verf en beeste doseer.

Haar pa se kankerdood ’n paar jaar gelede het haar diep geraak. “Ek is deur en deur my pa se kind. Lief vir lag en gesels, grappe maak en mense se siel uittrek. Ek het selfs sy hande en voete geërf; niks aan hulle is fyn nie.”

Sy is dankbaar vir die maand of wat voor sy afsterwe wat sy kon afskeid neem. “Ons kon oor al die dingetjies gesels waarvoor ’n mens nooit tyd kry nie. As ek een ding hieruit geleer het, is dit: Moenie wag tot môre nie. Die lewe is te kort. Maak dinge nou reg. Nie dat ek en Dads ooit issues gehad het nie, maar daardie laaste tyd van diep gesels was groot genade. Dit het my baie gehelp om berusting te kry.”

Nou sien sy haar pa oral op die plaas raak. In sy bobby socks en boots.

“Hy het vir my en Beer (Barry) alles geleer wat ons vandag weet. Ek hoor hom nou nog sê: ‘Laaintjie, ’n mens moet op jou voete dink. Werk mooi met jou geld. Werk hard en wees netjies in wat jy doen. Bly weg van skuld af.’

“Ons volg steeds getrou sy raad.” Ook haar pa se laaste woorde op sy sterfbed sal sy altyd koester: “Werk hard, Lianie, maar maak tyd om die lewe te geniet.”

Sy siekte en haar eie gesondheidskrisis het haar baie bewus gemaak daarvan dat jy nie die gevaartekens wat jou liggaam uitstuur, moet ignoreer nie.

“Dit kan jou oorrompel, soos ’n groot, swart slang. Dis wat met my en my pa gebeur het. Dit help nie jy bly volstoom aan die gang, maar jou lyf skree ‘ek kan nie meer nie’. Jy moet stop. Luister. Weet wanneer om dinge rustiger te doen.”

Maar nie té rustig nie, glo sy ook. “Hou jou oë oop en bly groei as mens, anders gaan jy stilstaan en geleenthede misloop.”

Sy beskou die beesboerdery as deel van haar rugsteunplan, omdat die ekonomie baie kunstenaars aan die keel gegryp het. Sy voel dit ook.

“Ek mis die ou dae van baie optredes en rekordverkope, maar dit hou my op my tone. My grootste uitdaging in die veranderende wêreld waarin ons leef, is om relevant te bly.” Om plooibaar en aanpasbaar te wees.

“Ons almal ervaar dit op een of ander manier. Jy kan nie meer dinge doen soos altyd en hoop dit gaan steeds vir jou werk nie.” Soos met enige beroep probeer sy fyn ingestel bly op die behoeftes van haar mark. Sy werk hard daaraan om kwaliteit te lewer en om altyd ’n ietsie ekstra te gee. Soos haar pa graag gesê het: “Laaintjie, onthou, ’n boer moet ’n plan kan maak.” Ja, Dads.

Daarom het sy ’n paar opwindende toekomsplanne op haar lysie. Sy is nie een vir tou opgooi nie.

“Mense vra al lank dat ons nog ’n fliek moet maak. Daar word op die oomblik hard aan die idee gewerk. Ek oorweeg ook maniere om my naam, my handelsmerk, soos Barry dit noem, uit te brei buite die grense van musiek. Dalk met tipiese plaasprodukte, soos tuisgebakte beskuit en melktert.”

Sy wil ook meer doen om terug te ploeg in die gemeenskap. “Oor die afgelope dekade was dit in ’n groot mate die ondersteuning van die publiek wat my gebring het waar ek is. Ek sal graag meer projekte wil aanpak wat teruggee aan mense.”

Tyd het haar ook wyser en sterker gemaak. Daar is ’n paar dinge wat sy anders sou wou doen as sy weer die kans kon kry, dieselfde goed waaroor baie vroue later in hulle lewe spyt voel.

“Ek moes meer vrae gevra het toe ek jonger was. Meer nuuskierig gewees het. Meer deel gewees het van die bestuur van my lewe en loopbaan. As ek weer iets groots aanpak, sal ek meer betrokke wil wees by die beplanning. Groter insette wil lewer.

“Moenie bang wees om jou stempel af te druk nie,” voeg sy by. “Moenie net alles in ander se hande los, sodat hulle namens jou besluite kan neem nie. Jy moet ook kyk na wat die beste is vir jou.”

Haar huwelik met Barry, aan wie sy die afgelope tien jaar verloof was, was een so ’n besluit wat baie goed vir haar uitgewerk het. Haar eie “iemand om lief te hê”, soos haar nuwe solo-album heet.

Hulle het mekaar destyds op ’n toeoogafspraak ontmoet. “Ons is werklik bestem vir mekaar, glo ek, want ons persoonlikhede vul mekaar goed aan.” Sy is die ekstrovert, hy die stil, sterk tipe met ’n goeie sakebrein.

Om die liefdesvlammetjie te midde van ’n besige loopbaan aan die brand te hou, is vir baie paartjies ’n gedurige stryd, maar dié twee maak ’n goeie span.

“Nie een van ons probeer die ander een oorskadu nie. Ons waardeer mekaar se sterk punte, maar ook in ons swak punte help en ondersteun ons mekaar.”

Vir Lianie lê die kern van ’n goeie verhouding in wedersydse respek en goeie kommunikasie. “As jy met iemand ’n ding rustig kan uitpraat, idees kan uitruil, mekaar se opinies aanhoor en dit respekteer, kan jy ’n lang pad met daardie persoon stap. Dis hoe dit is met my en Barry. Die een praat nooit die ander een dood nie.”

Hulle is ook daarop ingestel om regtig na mekaar te luister. “As een ’n vraag vra, sal die ander een moeite doen om te antwoord. Party mense bly mos sommer net stil. Nie ons nie. Ons praat.”

Dit help ook dat sy en Barry dieselfde belangstellings het, “maar ons glo ook aan tyd weg van mekaar, veral omdat ons heeldag saam werk. As Beer saam met vriende wil gaan gholf speel, is dit reg wat my betref; hy het dit nodig. En as ek my hare wil laat doen of vir ’n gesigsbehandeling gaan, gun hy my die alleentyd met die grootste liefde.”

Die besluit om te trou het gekom na baie jare se “te besig wees”. Hoewel dit niks aan hulle verhouding verander het nie, is Barry tog verlig dat niemand nou meer sal vra wanneer ons gaan trou nie.

So, wat lê vir haar voor?

“Terwyl ek siek was en behandeling moes kry, het mense gewonder oor my gesig en lyf wat so geswel was. Die ekstra gewig was eintlik as gevolg van die kortisoon wat ek moes gebruik, maar dit het nie lank gevat vir mense om my te bel en te vra hoe ver swanger ek is nie.”

Deesdae dink sy ernstig daaraan om regtig swanger te raak. Sy en Barry het jare lank gehelp om sy peetkinders groot te maak, maar sy hoop dat hulle tog hulle eie pienkvoet in die huis sal kan verwelkom.

Sy hoop ook om in die toekoms ’n paar kinderalbums te maak en om steeds die land vol te toer.

“Ek sal baie graag vir nog tien jaar my hart wil uitsing, want dis wie ek is. Dis waarvoor ek lewe.”

As Lianie terugkyk, is sy bly oor die klim en val. Die foute wat sy gemaak het en die lesse wat geleer is.

“Dit hou my dankbaar en nederig, en dít is goeie eienskappe om op voort te bou.”